Gaan na inhoud

Herakleios van Bisantium

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Herakleios
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Muntstuk wat Herakleios uitbeeld.
’n Muntstuk wat Herakleios uitbeeld.
Bewind 5 Oktober 610 – 11 Februarie 641
Volle naam Flavius Herakleios Augustus
Dinastie Herakleios
Gebore Omstreeks 575
Oorlede 11 Februarie 641
Voorganger Phokas
Opvolger Konstantyn III Herakleios
Eggenote Eudokia
Martina
Kinders Konstantyn
Heraklonas
Vader Herakleios die Ouere
Moeder Epiphania

Herakleios (Latyn: Flavius Heraclius Augustus, Grieks: Φλάβιος Ἡράκλειος; omstreeks 575 – 11 Februarie 641) was van 610 tot 641 keiser van die Bisantynse Ryk. Hy het onder meer Grieks as die amptelike taal aanvaar. Hy het in 608 bekend geword nadat hy en sy pa, Herakleios die Ouere, die eksarg van Afrika, ’n suksesvolle opstand teen die ongewilde keiser Phokas gelei het.

Oorname

[wysig | wysig bron]

In 608 het Herakleios sr. en sy seun ’n opstand begin teen Phokas, wat al hoe ongewilder geword het. Hulle het munte uitgereik met hulle twee in konsulêre (maar nie keiserlike) regalia. Phokas het gereageer met teregstellings, onder meer van die oudkeiserin Constantina en haar drie dogters. Nicetas. ’n neef van Herakleios sr., het ’n inval in Egipte gelei en Herakleios jr. het ooswaarts geseil met ’n ander mag via Sisilië en Siprus. In die daaropvolgende burgeroorlog is Phokas se general Bonosus in Egipte verslaan. Die Perse het die konflik uitgebuit en ’n groot deel van die oostelike provinsies ingeneem; hulle het selfs Anatolië begin binnedring.

Teen 610 het Herakleios jr. in die omgewing van Konstantinopel aangekom terwyl die grootste deel van die Bisantynse leër wat Phokas ondersteun het, óf verslaan is óf gedros het. ’n Paar vooraanstaande lede van die aristrokrasie het Herakleios tegemoet gegaan en hy het gereël dat hy tot keiser verklaar word. Hy het Konstantinopel sonder teenstand binnegegaan en Phokas doodgemaak.

Bewind

[wysig | wysig bron]

Daar was tydens Herakleios se bewind verskeie militêre veldtogte. Die jaar toe hy aan die bewind gekom het, is die ryk aan verskeie fronte bedreig. Hy het dadelik werk gemaak van die lang oorlog teen die Persiese Sassaniede. In die eerste gevegte van die veldtog is Bisantium verslaan; die Persiese leër het hul pad na die Bosporus oopgeveg. Omdat Konstantinopel beskerm is deur ondeurdringbare mure, het die Bisantyne egter nie ’n algehele nederlaag gely nie. Herakleios het die weermag daarna versterk en die Perse uit Klein-Asië verdryf. Hy het hul gebied diep binnegedring en hulle in 627 finaal oorwin. Die Persiese koning, Khosrau II, is kort daarna vermoor en toe was daar vrede in die twee ryke.

Kort na hierdie oorwinning het ’n nuwe bedreiging op die Bisantynse Ryk gewag: die Moslem-inval. In 629 het die Islamitiese profeet Mohammed al die Arabiese volke van die Arabiese Skiereiland verenig. Dié stamme was voorheen te verdeel om ’n ernstige militêre bedreiging vir die Bisantyne of Perse in te hou. Die verenigde volk, aangespoor deur hul nuwe geloof, Islam, was egter nou een van die magtigste state in die streek.[1] Die eerste botsing tussen die Moslems en Bisantyne was in September 629. ’n Klein Moslem-mag het die provinsie Arabië aangeval, maar is afgeweer.

Die volgende jaar het die Moslems verskeie streke aangeval, tot so ver as Gaza.[2] Toe die Moslems Sirië en Palestina in 634 aanval, kon Herakleios hulle nie persoonlik teenstaan nie. Hoewel hy strategies in beheer was, het sy generaal hom in veldslae gefaal. Met die Slag van Jarmoek in 636 het die Bisantynse leër ’n groot nederlaag gely. Teen die tyd van Herakleios se dood op 11 Februarie 641 het hulle die grootste deel van Egipte ook verloor.

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Historici glo Herakleios het baie bereik. Hy het die ryk vergroot en sy reorganisasie van die regering en weermag was baie suksesvol. Hoewel die grond wat hy gewen het in die oorlog teen die Perse weer verloor is met die inval van die Moslems, tel Herakleios steeds onder die groot Romeinse keisers.

Een van sy grootste nalatenskappe was om die amptelike taal van die ryk in 620 van Latyn na Grieks te verander. Wat godsdiens betref, was Herakleios die dryfkrag agter die bekering van mense wat na die Balkanse Skiereiland gemigreer het. Op sy versoek het pous Johannes IV (640–642) Christenonderwysers en sendelinge na Dalmasië gestuur waar Slawiese gode nog aanbid is. Hy het ook eenheid in die kerk probeer bewerkstellig, maar dit het misluk en hom ongewild onder kerkleiers gemaak.

Familie

[wysig | wysig bron]

Herakleios was twee keer getroud: eers met Fabia Eudokia, ’n dogter van Rogatus, en toe met sy niggie Martina. Hy het twee kinders by Eudokia gehad en nege by Martina. Baie van die kinders was sieklik.

Twee van Herakleios se seuns sou keiser word: Martina se seun Heraklonas, van 638 tot 641, en Konstantyn III, sy seun by Eudokia, van Februarie 641 tot Mei 641. Herakleios het minstens een buite-egtelike seun, Johannes Athalarichos, gehad en dié het teen sy pa saamgesweer. Toe Herakleios daarvan uitvind, het hy Johannes se neus en hande laat afkap en hom verban.

In die laaste jare van Herakleios se bewind was daar ’n stryd tussen Konstantyn III en Martina, wat wou hê haar seun Heraklonas moes keiser word. Herakleios het by sy dood die ryk aan albei seuns nagelaat om saam te regeer met Martina as regent.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Lewis, Bernard. The Arabs in History (2002 uitg.). Oxford University Press. ISBN 0-19-280310-7.
  2. Kaegi, Walter Emil. Heraclius: emperor of Byzantium (2003 uitg.). Cambridge University Press. ISBN 0-521-81459-6.

Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia