Gaan na inhoud

Tiberius II Konstantyn

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Tiberius II Konstantyn
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Muntstuk wat Tiberius uitbeeld.
’n Muntstuk wat Tiberius uitbeeld.
Bewind 574582
Volle naam Flavius Tiberius Constantinus Augustus
Dinastie Justiniaanse
Gebore Omstreeks 535
Oorlede 14 Augustus 582
Voorganger Justinus II
Opvolger Mauricius
Eggenote Ino Anastasia
Kinders Onbekend
Constantina
Charito

Tiberius II Konstantyn (Latyn: Flavius Tiberius Constantinus Augustus, Grieks: Τιβέριος Α′ Κωνσταντίνος; omstreeks 535 – 14 Augustus 582) was die Bisantynse keiser van 574 tot 582. Hy is in die middel 6de eeu in Thracië gebore[1] en is iewers ná 552 deur die Patriarg van Konstantinopel aan die toekomstige keiser Justinus II voorgestel,[2] waarna hulle vriende geword het.[3] Danksy Justinus het hy ’n hoë posisie beklee en hy was teenwoordig toe Justinus keiser geword het.[2]

In 570 het Tiberius ’n Tawaarse leër in Thracië verslaan,[4] maar laat in 570 of vroeg in 571 is hy verslaan in ’n volgende veldslag waar hy net-net aan die dood ontkom het.[5]

In 574 het Justinus ’n senu-ineenstorting gehad en die keiserin, Sophia, het Tiberius gevra om namens hom te regeer. Op 7 Desember 574 het Justinus Tiberius as medekeiser verklaar en hom as sy seun aangeneem. Sophia wou tot elke prys die mag behou en het Tiberius streng beheer tot met Justinus se dood.[6]

Bewind

[wysig | wysig bron]

Op 26 September 578 het ’n swak Justinus Tiberius as sy opvolger aangewys.[5] Hy is eindelik vroeg in Oktober 578 dood.[5]

Sophia het probeer om in beheer te bly en die nuwe keiser te beïnvloed om met haar te trou, maar hy het die aanbod van die hand gewys omdat hy reeds getroud was met Ino Anastasia. Uit weerwraak het Sophia ’n geheime ooreenkoms aangegaan met generaal Justinianus, vir wie Tiberius die jaar tevore vervang het, sodat hy kon keiser word. Die sameswering het egter misluk.

Ná sukses teen die Perse in die ooste het Tiberius hom op die weste toegespits. In 579 het hy sy militêre bedrywighede tot in die oorblyfsels van die Wes-Romeinse Ryk uitgebrei. Die ryk het egter te groot geword. In 579, terwyl Tiberius elders besig was, het die Aware Sirmium verower.[7] Terselfdertyd het die Slawiërs na Thracië, Masedonië en Griekeland gemigreer, tot so ver as suid van Athene.[7] Die Perse het intussen geweier om vrede te maak en hoewel ’n nuwe Persiese inval in 582 gestuit is, was Tiberius teen dié tyd besig om te sterf nadat hy sleg voorbereide of met opset vergiftigde kos geëet het.[8]

Tiberius het aanvanklik twee opvolgers benoem: sy twee skoonseuns, Mauricius en Germanus.[7] Later het hy Mauricius as sy uiteindelike opvolger aangewys deur aan hom die rang augustus te gee.[9] Tiberius is die volgende dag, op 14 Augustus 582, oorlede.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Kazhdan, pg. 2083
  2. 2,0 2,1 Martindale, pg. 1324
  3. Treadgold, pg. 223
  4. Martindale, pgs. 1324–1325
  5. 5,0 5,1 5,2 Martindale, pg. 1325
  6. Kazhdan, pg. 2084; Bury, pg. 78; Canduci, pg. 187
  7. 7,0 7,1 7,2 Treadgold, pg. 226
  8. Martindale, pg. 1326; Norwich, pg. 272; Canduci, pg. 187
  9. Treadgold, pg. 227; Martindale, pg. 1326

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Treadgold, Warren, A History of the Byzantine State and Society, Stanford University Press (1997)
  • Martindale, J. R., The Prosopography of the Later Roman Empire, Vol. III, Cambridge University Press (1992)
  • Kazhdan, Alexander P., The Oxford Dictionary of Byzantium, Vol. III, Oxford University Press (1991)
  • Norwich, John Julius, Byzantium: The Early Centuries, Penguin Books (1990)
  • Canduci, Alexander, Triumph and Tragedy: The Rise and Fall of Rome’s Immortal Emperors, Pier 9 (2010)
  • Bury, J. B., A History of the Later Roman Empire from Arcadius to Irene, Vol. II (1889)
  • Paul die Diaken, Historia Langobardorum

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]