Die Yakovlev Yak-25 was 'n vegvliegtuig van die Sowjetunie. Navo se kodenaam vir die vliegtuig is Flashlight. Die Yak-25 is 'n tweesitplek, alleweerstoestande vegvliegtuig wat met radar toegerus is. Die prototipe, Yak-120, het op 19 Junie 1952 sy nooiensvlug onderneem. Dit was ontwerp om vir twee-en-'n-halfuur in die lug te bly sodat die radar optimaal gebruik kon word. Die Sokol radar het ongeveer 500 kg geweeg. Dit is aangedryf deur twee Tumansky turbostraalmotors wat onder die vlerke gemonteer is en bewapen met twee 37 mm kanonne wat onder die romp geheg is. Produksie van die vliegtuig het in 1953 begin, die radar was eers in 1955 gereed. Die vliegtuig was gebruik om die noorde van die Sowjetunie te beskerm teen bomwerpers. Dit het die Amerikaanse Lugmag oortuig dat verkenningsvlugte oor Rusland nie meer maklik sal wees nie. Produksie is in 1958 gestaak en die laaste vliegtuie is in 1967 vervang.