Paraguay
| |||||
Nasionale leuse: Paz y justicia (Spaans vir: "Vrede en Geregtigheid") | |||||
Volkslied: Paraguayos, República o Muerte (Spaans vir: "Paraguane, republiek of dood") | |||||
Hoofstad | Asunción | ||||
Grootste stad | Asunción | ||||
Amptelike tale | Spaans en Guaraní | ||||
Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek Santiago Peña Pedro Allian | ||||
Onafhanklikheid • Verklaar
• Erken • Huidige grondwet |
van Spanje 14 Mei 1811 25 November 1842 20 Junie 1992 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
406 796 km2 (59ste) 157 065 myl2 2,6 | ||||
Bevolking - 2023-skatting - Digtheid |
7 439 863[1] (104de) 18 / km2 (210de) 46,6 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,717[3] (105de) – hoog | ||||
Gini (2021) | 42,9[4] – hoog | ||||
Geldeenheid | Guaraní (PYG )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
PYT (UTC-4) PYST (UTC-3) | ||||
Internet-TLD | .py | ||||
Skakelkode | +595 |
Paraguay (Spaans: [paɾaˈɣwaj], ; Guaraní: Paraguái, [paɾaˈɰwaj]), amptelik die Republiek Paraguay (Spaans: República del Paraguay; Guaraní: Tetã Paraguái), is 'n landingeslote land in Sentraal-Suid-Amerika. Dit grens in die noorde aan Bolivië, in die ooste aan Brasilië en in die suide en weste aan Argentinië.
Paraguay beslaan 'n oppervlakte van 406 796 km² en het 'n bevolking van 7 439 863 in 2023 gehad. Die hoofstad is Asunción en die geldeenheid die guaraní. Die amptelike tale is Spaans en Guaraní.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die naam Paraguay is ontleen aan die Guaraní-woorde paraguá "veerkroon" en y "water", dus beteken paraguaí "veerkroon van waters".[5]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die eerste Europeërs het in die 16de eeu in Paraguay aangekom en die hoofstad, Asunción, in 1537 gestig. Die stad was berug vir 'n wilde naglewe en florerende prostitusie. Paraguay het op 14 Mei 1811 as 'n onafhanklike staat ontstaan.
Tydens die Drievoudige Alliansieoorlog (1856–1870) verloor Paraguay tweederdes van sy manlike bevolking en 'n groot deel van sy grondgebied. Vervolgens het die ekonomie vir amper 'n halfeeu gestagneer. Tussen 1954 en 1989 is die land deur 'n diktator, Alfredo Stroessner, geregeer. Sedertdien word daar egter redelike vrye presidentsverkiesings gehou.[1]
Geografie
[wysig | wysig bron]Paraguay is een van die min lande in die wêreld sonder 'n kuslyn en is boonop baie plat ook. Die hoogste berg is Cerro Perro (842 m) en die laagste punt is op 46 m waar die Río Paraguay en die Río Paraná (albei riviere) saamvloei. Die langste rivier is egter die Río Pilcomayo wat by die hoofstad Asunción in die Río Paraná uitmond.
Algemene gegewens
[wysig | wysig bron]Met 'n oppervlakte van sowat 407 000 km² is Paraguay een van die kleiner Suid-Amerikaanse lande. Die land grens nie aan die see nie en word hoofsaaklik deur riviere (Parana, Pilcomayo en andere) van sy buurlande (Argentinië, Brasilië en Bolivië) geskei.
Net die noordgrens met Bolivië word nie deur 'n rivier aangedui nie. Die van noord na suid vloeiende Río Paraguay is die land se enigste verbinding met die Atlantiese Oseaan en verdeel die land in twee duidelik onderskeibare gebiede, naamlik die Oriental (die oostelike gebied) en die Occidental (die westelike gebied).
Die oostelike deel is ’n voortsetting van die Brasiliaanse plato en lê gemiddeld 300 tot 600 m bo seespieël. Dit omvat 40% van die totale grondgebied en is van wee sy vrugbare grond een van die beste landbougebiede op die vasteland. In die ooste is die gebied bergagtig. Die oostelike hellings van die bergland word deur oerwoude bedek en verskeie onbevaarbare riviere wat in die Paraná uitmond, vloei deur die gebied.
Die westelike hellings loop geleidelik af na die Río Paraguay en is die digste bevolkte gebied van die land wat hoofsaaklik uit vlaktes met hier en daar 'n heuwel bestaan. Die riviere is net deels bevaarbaar. Die westelike deel van Paraguay, die Chaco ('n Indiaanse woord vir jaggebied), beslaan 60% van die grondgebied. Dit is veral in die ooste 'n plat gebied wat uit moerasse bestaan. Die riviere is hier oor die algemeen vlak en sommige mond uit in moerasse of eindig eenvoudig êrens onderweg na die Río Paraguay.
Klimaat en plantegroei
[wysig | wysig bron]Paraguay het 'n subtropiese klimaat en groot temperatuursveranderinge kom nie voor nie. Die reënval neem af van oos na wes, van sowat 2 000 mm per jaar by die oosgrens, tot ongeveer 800 mm per jaar in die westelike Chaco. In die gebied kom groot droogtes voor, wat vererger word deur verdamping en die poreusheid van die grond.
As dit na so ’n droogte begin reën, kom oorstromings dikwels voor. Die natuurlike plantegroei is in ooreenstemming met die reënvalsyfers. In die oostelike dele, en veral in die valleie, oorheers die tropiese woude. Die westelike hellings van die oostelike deel van Paraguay bestaan uit grasland met bosgebiede langs die riviere. Die Chaco bestaan deels uit moerasagtige streke waar die quebracho-boom (familie Apocynaceae) groei.
Uit die boombas word die quebracho-ekstrak vir leerlooiery verkry. Meer weswaarts word die plantegroei yler terwyl struike en kaktusse die algemeenste voorkom. Chaco het ’n ryk dierelewe, veral in die woude in die ooste, waar die fauna ooreenkom met die van die aangrensende gebiede van Brasilië. Vanweë die talryke soorte voëls, ape, tapirs en groot verskeidenheid van riviervisse is die gebied 'n vrugbare jaggebied vir die Indiaanse bewoners.
Taal en godsdiens
[wysig | wysig bron]Paraguay is amptelik tweetalig en sowel Spaans as Guaraní word erken. Die Rooms-Katolieke Kerk is die staatsgodsdiens in Paraguay. Bykans 95% van die bevolking is Rooms-Katoliek, en ook die president moet 'n Rooms-Katoliek wees. Daar is egter ook heel party Protestantse kerkgenootskappe (sowat 2%) in die land.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Vleis en vleisprodukte is Paraguay se belangrikste uitvoerprodukte. Die veeteelt, en veral beeste (skaap- en varkboerdery is relatief onbelangrik), is die belangrikste vertakking van die landbou. Die veeteelt is baie uitgebrei en word net deur 'n beperkte aantal families beoefen. Van die 40 miljoen ha landbougrond word sowat 80% deur sowat 2 000 families bewerk.
Daar bly dus nie baie oor vir die meer as een miljoen ander Paraguane wat vir hul bestaan van die landbou afhanklik is nie. Mielies en kassawe is die belangrikste voedselgewasse, terwyl katoen, tabak en oliegewasse uitgevoer word. Vir die binnelandse mark word suikerriet, rys, grondbone en patats verbou. Sitrusvrugte, ander vrugte en koffie word op klein skaal verbou. Die verbouing van yerbe maté, die nasionale drank, is ook belangrik. Dit word ook mate, Paraguaanse tee, Brasiliëtee en Jesuïetetee genoem.
Die Jesuïete het eerste die yerbe maté as kultuurgewas gebruik. Dit word met die gedroogde blare van llex paraguariensis, 'n plant wat ook in die Chaco wild groei, voorberei. Veral vanweë die grootgrondbesit is die toestand van die Paraguaanse boere baie benard, ondanks die bestaan van 'n paar organisasies wat tegniese raad en finansiële steun verleen en beskeie pogings aanwend om die landbou te hervorm. Die bosbou word ook toenemend belangrik. Die bosbouprodukte beloop 25% van die totale uitvoer. In die oostelike deel van Paraguay kom uitgestrekte hardehoutbosse voor.
Tot betreklik onlangs was ’n aansienlike deel van die hout gebruik as brandstof vir elektriese kragsentrales en 'n klein hoeveelheid is in die vorm van vlotte oor die Río Paraná na Argentinië uitgevoer. Namate die kragvoorsiening verbeter, sal die bosbou waarskynlik 'n belangriker rol in die nasionale ekonomie speel. 'n Ander bosbouproduk is die quebracho-ekstrak, wat belangrik is vir die leerlooibedryf. Die meeste quebracho-bome groei in die oostelike deel van die Chaco, maar 'n gebrek aan vervoergeriewe belemmer die snelle ontwikkeling van die sektor. Die uitvoer van sitrusolie (Iemoenblaarolie, ’n ekstrak wat berei word uit die blare en takkies van wilde sitrusplante en in die kosmetieknywerheid gebruik word) is belangrik.
Mynbou en kragvoorsiening
[wysig | wysig bron]Paraguay het nie 'n ryk mineralerykdom nie. Behalwe geringe mangaan- en koperontginning is net die ontginning van die natuursteengroewe van belang. Klein hoeveelhede ystererts is wel ontdek, maar die ontginning daarvan sal waarskynlik nooit lonend wees nie.
Die grootste nadeel vir die land se ekonomie is die gebrek aan fossiele brandstof. Tot onlangs is daar gemeen dat aardolievoorrade in die Chaco gevind sal word, maar die soektog het niks opgelewer nie. Daar is baie water in Paraguay en die land het 'n eie studam in die Río Acaray, 'n sytak van die Río Paraná. Een van die wêreld se grootste waterelektriese sentrales is in samewerking met Brasilië by 'n studam in die Río Paraná gebou. In oorleg met Argentinië is 'n studam by die eiland Yaciretá (Yaciretá-projek) gebou.
Nywerheid en vervoer
[wysig | wysig bron]Die grootste deel van die Paraguaanse nywerheid is gebaseer op die verwerking van landbouprodukte (vleisinmaakfabrieke, suikerfabrieke, fabrieke waar quebracho-ekstrak en sitrusolie berei word, saagmeulens, leerlooierye, skoenfabrieke, ensovoorts) en produseer net vir die binnelandse mark. Tekstiel- en sementfabrieke en 'n olieraffinadery is ook onlangs opgerig. 'n Groot belemmering in die ontwikkeling van die nywerheid is die uiters gebrekkige verbindingsweë.
Tot 1950 het die land net ’n 800 km lange padnetwerk gehad. Met lenings van die Wêreldbank is duisende kilometers nuwe paaie aangelê, waarvan 'n groot deel egter van swak gehalte was. So is groot dele van die Transchaco-snelweg van Asunción na die noordweste tydens die reëntyd onbegaanbaar. Die belangrikste spoornetwerk is die van Asunción na Buenos Aires. Vanweë die onvoldoende pad- en spoornetwerk is Paraguay baie afhanklik van die sowat 3 000 km bevaarbare waterweë vir die vervoer van produkte.
Die Río Paraguay is bevaarbaar tot by Concepción, wat naas die hoofstad die belangrikste hawe is. Die sentrale ligging van Paraguay binne die Suid-Amerikaanse kontinent het die land 'n belangrike sentrum vir internasionale lugvaart gemaak. Die lughawe van Asunción is toeganklik vir die grootste moderne vliegtuie en baie lugvaartmaatskappye doen daar aan. Naas 'n eie internasionale lugvaartmaatskappy het die land 'n paar maatskappye wat net binnelandse vlugte onderneem en oor vyf behoorlike lughawens beskik, waaronder een in Mariscal Estigarribia in Sentraal-Chaco.
Ekonomiese vooruitsigte
[wysig | wysig bron]Paraguay het lank 'n positiewe handelsbalans gehad, maar dit is geruime tyd nie meer die geval nie. Die invoer van kapitaalgoedere, wat noodsaaklik is vir die ekonomiese opbou, het baie verswak. Verder moet die land baie brandstof invoer, asook verskillende nywerheidsprodukte en weeldeartikels. Die belangrikste handelsvennote is die Verenigde State, Argentinië, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Brasilië. Die Paraguaanse munteenheid is die guaraní.
Vanweë die aangaan van lenings, die negatiewe handelsbalans, groot militêre uitgawes en 'n belastingstelsel waardeur die rykes nie swaar betas word nie, het die land baie finansiële probleme. Ander negatiewe faktore vir die ekonomiese ontwikkeling is ernstige korrupsie, smokkelhandel van allerlei artikels, die groot tekort aan geskoolde werkkragte (baie wyk uit na Argentinië) en 'n uiters swaar belaste dienssektor. Ondanks die vooruitgang op die gebied van kragvoorsiening, die instelling van 'n infrastruktuur en landhervorming is Paraguay steeds een van die armste lande in Suid-Amerika.
Sport
[wysig | wysig bron]Sport is 'n belangrike deel van Paraguay se nasionale kultuur. Sokker is die gewildste sportsoort en die vernaamste nasionale span is die Paraguaanse nasionale sokkerspan. Basketbal is ook baie gewild, gevolg deur vlugbal, handbal, futsal, swem en tennis.[6] Daarbenewens word sportsoorte en tydverdrywe soos rugby, skaak, motorsport, gholf en roei uitgeoefen.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 (en) "Paraguay". Central Intelligence Agency. Besoek op 17 Augustus 2023.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) "Paraguay". Internasionale Monetêre Fonds. April 2023. Besoek op 17 Augustus 2023.
- ↑ (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 17 Augustus 2023.
- ↑ (en) "Gini index – Paraguay". Wêreldbank. Besoek op 17 Augustus 2023.
- ↑ (es) Antonio Ruiz de Montoya (1876). "Paraguá". 2.
- ↑ (en) Alison Behnke (2010). Paraguay in Pictures. Visual Geography Series (VGS). pp. 56, 57. ISBN 978-1-57505-962-4.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Algemeen
- (en) "Paraguay". Encyclopædia Britannica. Besoek op 17 Augustus 2023.
- (en) "Paraguay". Central Intelligence Agency. Besoek op 17 Augustus 2023.
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-63-X, volume 22, bl. 103
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Paraguay.
- (en) Toerisme-inligting oor Paraguay op Wikivoyage