Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat.
Kabardies (адыгэбзэ, къэбэрдей адыгэбзэ of къэбэрдейбзэ qabardejbzaluister(hulp·inligting); Adigies: адыгэбзэ, къэбэртай адыгабзэ of къэбэртайбзэ), ook bekend as Oos-Sirkassies, is ’n Noordwes-Kaukasiese taal wat nou verwant is aan Adigies. Dit word hoofsaaklik gepraat in die Russiese republieke Kabardino-Balkarië en Karatsjai-Tsjerkessië, asook in Turkye en die Midde-Ooste. Daar is 47 of 48 medeklinkers, maar net twee klinkers. Nes alle Noordwes-Kaukasiese tale het dit ’n baie komplekse werkwoordstelsel.
Sommige taalkundiges reken dat Kabardies slegs ’n dialek is van Adigies of van Sirkassies, wat bestaan uit al die dialekte van Adigies en Kabardies saam. Die Kabardiërs self noem hul taal dikwels Adighabze (Adigies). Soms noem kenners die twee tale Oos-Sirkassies (Kabardies) en Wes-Sirkassies (Adigies) om verwarring te vermy. Die saak word verder bemoeilik deur Beslenei, wat gewoonlik beskou word as ’n dialek van Kabardies maar ook groot ooreenkomste toon met sekere dialekte van Adigies.