Gaan na inhoud

Higiëne

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Plakkaat om bewustheid te kweek ten opsigte van die belangrikheid van skoon water vir voedsel higiëne. (Plakkaat vir gebruik in Asiatiese lande)

Higiëne is die gebruike wat uitgevoer word om goeie gesondheid te handhaaf. Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) verwys higiëne na " omstandighede en gebruike wat bydra om gesondheid te handhaaf en die verspreiding van siektes te voorkom".[1]

Waar dit in die algemene spreektaal verstaan word as "sindelikheid", dra higiëne in sy oorspronklike betekenis veel meer inhoud oor en sluit dit alle toestande en gebruike, lewenstylkwessies, opvattings en kommoditeite in wat bydra tot 'n veilige en gesonde omgewing. Terwyl die mediese wetenskap 'n standaard stel vir higiëne in verskillende situasies, kan dit wat as higiënies beskou word tussen kultuurgroepe verskillend wees en selfs tussen geslagte. Sommige gewone higiëniese praktyke kan deur 'n samelewing beskou word as goeie gewoontes, terwyl die afskeep van higiëne beskou kan word as afstootlik, onbeleefd en selfs bedreigend.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
Handewas is een van die mees effektiewe vorme van higiëne om die verspreiding van aansteeklike siektes te voorkom.

Higiëne is 'n konsep verwant aan sindelikheid, gesondheid en geneeskunde. Higiëniese gebruike word toegepas in geneeskunde en in huishoudings as voorkomende maatreëls om die voorkoms en verspreiding van siektes te bekamp. Goeie higiëne is 'n sleutelfaktor tot gehalteversekering in die vervaardiging van voedsel, farmaseutiese en kosmetiese produkte. Die terme sindelikheid en higiëne word dikwels gelykwaardig aan mekaar gebruik en kan tot verwarring lei. In die algemeen verwys higiëne na gebruike wat die verspreiding van siekteveroorsakende organismes voorkom. Aangesien skoonmaakprosesse – soos handewas – aansteeklike mikrobes en vuilheid verwyder, word dit dikwels beskou as metodes om higiëne te handhaaf.  Ander gebruike van die benaming verskyn in sinsdele wat insluit: persoonlike higiëne, slaaphigiëne, geestesgesondheid, mondhigiëne en beroepsgesondheid wat verband hou met openbare gesondheid. Higiëne is ook 'n vertakking van die wetenskap wat gemoeid is met die bevordering en handhawing van gesondheid. Higiëniese praktyke is baie uiteenlopend, en wat aanvaarbaar is binne een kultuur, mag taboe wees in 'n ander.

Mediese higiëne

[wysig | wysig bron]

Mediese higiëne het betrekking op die mediese gebruike wat verband hou met die toediening van medisyne en mediese sorg wat siektes voorkom of beperk en die verspreiding van siektes voorkom.

Mediese higiëniese praktyke sluit in:

  • Isolasie of kwarantyn van aansteeklike persone of materiaal om verspreiding van infeksie te voorkom.
  • Sterilisasie van instrumente wat in chirurgiese prosedures gebruik word.
  • Die gebruik van beskermende klere soos maskers, jurke, kappies, brille en handskoene.
  • Korrekte verbinding en wonddekking van beserings.
  • Veilige opruiming van mediese afval.
  • Ontsmetting van herbruikbare items (bv. linne, uniforms)
  • Skrop en handewas  in die operasie teater maar ook in die mediese sorgomgewing waar siektes oorgedra kan word.[2]

Die meeste van hierdie praktyke is ontwikkel in die 19de eeu en was goed gevestig teen die middel van die 20ste eeu. Sommige prosedures (soos die weggooi van mediese afval) is verfyn in reaksie op die uitbreek van siektes soos veral VIGS en Ebola teen die laat 20ste eeu.

Huishoudelike en  alledaagse higiëne

[wysig | wysig bron]

Huishoudelike higiëne  het betrekking op die higiëniese praktyke wat die insidensie van siektes en die verspreiding daarvan minimaliseer of voorkom in die huishoudelike omgewing en in alledaagse omstandighede soos sosiale geleenthede, openbare vervoer, die werkplek en openbare plekke.

Higiëne tuis en in alledaagse situasies speel 'n belangrike rol om die verspreiding van aansteeklike siektes te voorkom.[3] Dit sluit prosedures in wat gebruik word in 'n verskeidenheid van huishoudelike situasies soos handhigiëne, respiratoriese higiëne, kos- en waterhigiëne, algemene huishoudelike higiëne (higiëne van terreine en oppervlaktes), versorging van diere en huishoudelike gesondheidsorg (die versorging van diegene wat 'n groter risiko loop om infeksie op te doen).

Hierdie komponente van higiëne word tans beskou as aparte kwessies, alhoewel dit gebaseer is op die dieselfde onderliggende mikrobiologiese beginsels. Die voorkoming van die verspreiding van aansteeklike siektes is daarin vervat dat die  ketting van infeksieoordrag verbreek moet word. Die eenvoudige beginsel is dat infeksie nie kan versprei wanneer die oordragketting verbreek is nie. In reaksie op die behoefte aan doeltreffende riglyne vir huishoudelike higiëne het die Internasional Scientific Forum on Home Hygiene 'n risiko-gebaseerde benadering (gebaseer op Hazard Analysis Critical Control Point (HACCP) ontwikkel wat bekend geword het as "geteikende higiëne". Geteikende higiëne is gebaseer op die identifisering van die roetes van die verspreiding van patogene in die huis, en die toepassing van higiëniese prosedures op kritieke punte en gepaste tye om die ketting van infeksie te verbreek.

Die belangrikste bronne van infeksie in die huis[4] is mense (wat  draers is of besmet is), voedsel (veral verwerkte voedsel) en water, en huishoudelike diere (in westerse lande meer as 50% van huishoudings een of meer troeteldiere). Daarbenewens is daar plekke waar stagnante water versamel — soos wasbakke, toilette, afvoerpype, skoonmaak gereedskap, waslappe — al hierdie ondersteun mikrobiese groei, en kan sekondêre reservoirs van infeksie wees. Kieme (potensieel aansteeklike bakterieë, virusse, ens.) word voortdurend afgeskei via slymvliese, ontlasting, braaksel, velskubbe, ens. Wanneer die omstandighede dus kombineer, word mense blootgestel – hetsy direk of deur kos of water, en kan 'n infeksie ontwikkel. Die belangrikste "paaie" vir die verspreiding van kieme[4] in die huis is die hande, hand – en voet kontakoppervlaktes, skoonmaak lappe en gereedskap. Kieme kan ook versprei deur klere en huishoudelike linne soos handdoeke. Dienste soos toilette en wasbakke, byvoorbeeld, is ontwerp vir die veilige hantering van  menslike afval, maar daar is steeds risiko's verbonde wat krities kan wees op sekere tye, bv. wanneer iemand siek is  of diarree het. Veilige verwydering van menslike afval is 'n fundamentele behoefte; swak sanitasie is 'n primêre oorsaak van diarree en siekte in lae-inkomste gemeenskappe. Respiratoriese virusse en swamspore word ook deur die lug versprei.

Goeie huishoudelike higiëne behels dat die ketting van infeksie verbreek moet word sodat kieme nie kan versprei nie.[4] Die aansteeklike dosis van sekere patogene mag baie klein wees (10-100 lewensvatbare eenhede, of selfs minder vir sommige virusse), en infeksie kan die gevolg wees van direkte kontak met oppervlaktes deur die hande of kos wat na die mond, oë of neus oorgedra kan word. Higiëniese reinigings metodes moet voldoende wees om patogene van kritiese oppervlaktes te verwyder en kan op die volgende maniere hanteer word:

  • Meganiese verwydering (d.w.s. skoonmaak) met die gebruik van 'n seep of wasmiddel. Om 'n doeltreffende reinigingsmetode te wees moet die oppervlakte afgespoel word met lopende water om sodoende die kieme van die oppervlak te verwyder.
  • Die gebruik van produkte wat patogene op die plek inaktiveer. Kiemdoding word bereik met produkte wat mikro-biododer bevat (bakteriosidies) – dus 'n ontsmettingsmiddel of antibakteriese produk of waterlose handreiniger, of deur die toepassing van hitte.
  • In sommige gevalle word kiemverwydering en kiemdoding gekombineer soos wanneer klere, handdoeke of linne gewas word.

Handhigiëne

[wysig | wysig bron]
'n Kantelkraan vir handewas na die gebruik van 'n urine- omleidings droë toilet in Pumpuentsa, Ecuador

Hand higiëne is sentraal tot die voorkoming van die verspreiding van aansteeklike siektes in die huis en die alledaagse lewe.[5]

In situasies waar handewas met seep nie 'n opsie is nie (bv. in 'n openbare plek met geen toegang tot wasfasiliteite), kan 'n waterlose handreiniger soos 'n alkohol-handgel gebruik kan word. Om doeltreffend te wees, moet 'n alkohol-handgel nie minder as 60%v/v alkohol bevat nie. Handreinigers is nie 'n opsie in die meeste ontwikkelende lande nie. In situasies met beperkte water  is daar water-bewaringsoplossings, soos bv. die "tippy tap" of kantelkraan. Dit is 'n eenvoudige toestel waar 'n beker aan 'n tou opgehang word  en 'n voetpedaal getrap word om 'n klein hoeveelheid water oor die hande uit te giet, met 'n koekie seep daarnaas om hande te was.[6] In lae-inkomste gemeenskappe word modder of as somtyds gebruik as 'n alternatief vir seep.

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beveel aan dat hande met as gewas word in noodgevalle,[7] By skole sonder toegang tot seep [8] en in ander moeilike situasies – soos post-noodgevalle – word die gebruik van skoon sand aanbeveel.[9] Die gebruik van as is algemeen en eksperimente het getoon dat dit ten minste so effektief soos seep is vir die verwydering van bakterieë.[10]

Respiratoriese higiëne

[wysig | wysig bron]

Die korrekte respiratoriese en handhigiëne wanneer mense hoes of nies verminder die verspreiding van kieme - veral tydens die verkoue en griepseisoen.[3]

  • Hou sneesdoekies byderhand en gebruik dit om nies en hoes te bedek. Gooi sneesdoekies so gou as moontlik weg.
  • Was hande gereeld of gebruik 'n alkoholhandreiniger.

Voedselhigiëne in huishoudings

[wysig | wysig bron]

Voedselhigiëne hou verband met praktyke wat voedselvergiftiging voorkom. Volgens die WGO is daar vyf sleutelbeginsels rakende voedselhigiëne:[11]

  1. Voorkom die besmetting van voedsel met chemikalieë  of deur insekte, mense of diere.
  2. Hou rou en gaargemaakte voedsel apart om te verhoed dat gaar kos deur rou kos besmet word.
  3. Kos moet teen die korrekte temperatuur en tydsduur gaargemaak word wat nodig is om patogene dood te maak.
  4. Voedsel moet teen die korrekte temperatuur gestoor word.
  5. Gebruik veilige water en roumateriale.

Hantering en berging van huishoudelike water

[wysig | wysig bron]

Die kwaliteit van drinkwater bly steeds 'n groot probleem , nie net vir ontwikkelende lande nie, maar ook in ontwikkelde lande.[12] Selfs in Europa word beraam dat 1120 miljoen mense nie toegang het tot veilige drinkwater nie.[13]  Intervensies t.o.v. waterkwaliteit wat by die gebruikspunt plaasvind kan diarree verwante siektes – in gemeenkappe waar waterkwaliteit swak is – beperk, asook tydens noodtoestande wanneer daar 'n onderbreking is in water voorsiening.[12][13][14][15] Aangesien water besmet kan raak tydens berging (bv. deur vuil hande of vuil houers) is die veilige opberging van water in huishoudings ook belangrik.

Metodes vir die behandeling van drinkwater,[15][16] sluit die volgende in:

  1. Chemiese ontsmetting deur die gebruik van chloor of jodium
  2. Kook van water
  3. Filtrasie deur die gebruik van keramiek filters
  4. Sonkragontsmetting – Sonontsmetting is 'n effektiewe metode, veral wanneer daar geen chemiese ontsmettingsmiddels beskikbaar is nie.[17]
  5. UV-bestraling -  Die lampe kan bo-oor die watermassa opgehang word of onder die watervloei wees.
  6. Gekombineer flokkulasie/ontsmetting stelsels – beskikbaar as poeiersakkies  wat stolling en vlokking van sediment bewerkstellig, gevolg deur die vrystelling van chloor.
  7. Multi-versperringsmetodes – Sommige stelsels maak gebruik van twee of meer van die bogenoemde metodes in kombinasie of opeenvolgend om die  doeltreffendheid te optimaliseer.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Hygiene
  2. Why Don’t Doctors Wash Their Hands More?
  3. 3,0 3,1 Bloomfield SF, Exner M, Fara GM, Nath KJ, Scott, EA; Van der Voorden C. The global burden of hygiene-related diseases in relation to the home and community. (2009) International Scientific Forum on Home Hygiene.
  4. 4,0 4,1 4,2 "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2015. Besoek op 1 Mei 2016. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; name "sustainability" defined multiple times with different content
  5. Bloomfield, SF, Aiello AE, Cookson B, O’Boyle C, Larson, EL, The effectiveness of hand hygiene procedures including hand-washing and alcohol-based hand sanitizers in reducing the risks of infections in home and community settings" American Journal of Infection Control 2007;35, suppl 1:S1-64
  6. Rao, Ankita (11 September 2014). "When Low-Tech Solutions Win". Slate (in Engels). ISSN 1091-2339. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Maart 2017.
  7. http://www.who.int/water_sanitation_health/publications/2011/tn5_treatment_water_en.pdf?ua=1
  8. http://www.who.int/water_sanitation_health/publications/wash_standards_school.pdf?ua=1
  9. http://www.who.int/water_sanitation_health/emergencies/qa/emergencies_qa17/en/
  10. Baker et al. 2014 Association between Moderate-to-Severe Diarrhea in Young Children in the Global Enteric Multicenter Study (GEMS) and Types of Handwashing Materials Used by Caretakers in Mirzapur, Bangladesh.
  11. "WHO | Prevention of foodborne disease: Five keys to safer food". Who.int. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Februarie 2014. Besoek op 14 November 2012.
  12. 12,0 12,1 Combating waterborne disease at the household level.
  13. 13,0 13,1 International Scientific Forum on Home Hygiene.
  14. Clasen TF, Haller L. Water quality interventions to prevent diarrhea: cost and cost-effectiveness. 2008, World Health Organisation, Geneva.
  15. 15,0 15,1 Household water treatment following disasters and emergencies.
  16. Beumer R, Bloomfield SF, Exner M, Fara GM, Nath KJ, Scott EA.
  17. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2016. Besoek op 1 Mei 2016.