Gaan na inhoud

Herman van Broekhuizen

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Herman Dirk van Broekhuizen
Dr. H.D. van Broekhuizen
Herman Dirk van Broekhuizen

Naam Herman Dirk van Broekhuizen
Geboorte 17 Junie 1871
Rijssen, Overijssel, Nederland
Sterfte 4 Augustus 1953 (op 82)
Pretoria, Transvaal, Suid-Afrika
Kerkverband Nederduits Gereformeerd, Nederduitsch Hervormd
Gemeente(s) Kuilsrivier, Pretoria (NG en NH)
Jare aktief 1898–1925
Kweekskool Stellenbosse Kweekskool

Dr. Herman Dirk van Broekhuizen (Rijssen, Overijssel, Nederland 17 Junie 1871Pretoria 4 Augustus 1953) was een van die vroegste spelers in ’n Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan (1896; die naam Springbokke is eers vanaf 1906 gebruik), ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde (1898–1917) sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk (1917–1925), ’n Volksraadslid (1925–1933), Suid-Afrika se spesiale gesant in Nederland en België (1933–1941) en ’n Afrikaanse taalstryder wat hom onvermoeid beywer het vir ’n Afrikaanstalige universiteit in Pretoria. Hy was ook ’n adviseur van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933.

Van Broekhuizen was ’n kleurryke en flambojante figuur wat reeds as jong man die wêreld deurreis het.[1] As predikant was hy ’n omstrede figuur weens die politieke inslag van baie van sy preke. Sommige mense het beweer dat hy te veel van ’n politikus was om ’n goeie dominee te kon wees, en te veel van ’n dominee om ’n goeie politikus te kon wees. So het hy in 1899 met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, pleks van aanbly in die NG gemeente Pretoria, waar hy sedert die vorige jaar hulpprediker was, die wapen opgeneem en by Danie Theron se Verkennerskorps aangesluit. Nadat hy in 1900 gevange geneem is, is hy tronkstraf opgelê en drie weke later uit Suid-Afrika verban en, hoewel hy ná die vrede toegelaat is om na die Kaapkolonie terug te keer, moes hy tot 1907 wag voor hy na Transvaal kon gaan. In 1914 het ’n vurige preek tydens die Maritz-rebellie daartoe gelei dat hy 18 maande tronkstraf opgelê is. Ná sy vrylating het hy oorgegaan na die Nederduitsch Hervormde Kerk omdat die kerk waarin hy en sy vader albei predikant was, volgens hom onbevredigend op die Rebellie gereageer het.

As politikus het hy gemengde welslae behaal. Sy emosies het glo in die pad gestaan en hy kon nooit leer om partypolitieke dissipline te aanvaar nie, want daarvoor was hy lewenslank te veel van ’n individualis.[2][3]

Herkoms en skoolonderrig

[wysig | wysig bron]
Ds. Hermanus van Broekhuizen, Herman van Broekhuizen se vader, was van 1882 tot sy dood op 23 Oktober 1894 die NG gemeente Ficksburg se tweede leraar.
Johanna van Beest van Andel, Herman van Broekhuizen se moeder.

Van Broekhuizen was die jongste van ds. Hermanus van Broekhuizen en sy vrou, Johanna van Beest van Andel, se vyf kinders. Albei sy ouers was Nederlanders van geboorte. Sy vader was met sy geboorte om gesondheidsredes tydelik in Nederland waar hy in Rijssen en Oosterbierum in die bediening gestaan het. So kon dit gebeur dat die jongste van die Van Broekhuizens se kinders in Nederland gebore is. Ná die gesin se terugkeer in Suid-Afrika was ou ds. Van Broekhuizen eers hulpprediker in die NG gemeente Winburg en toe van 1882 tot sy dood op 23 Oktober 1894 die NG gemeente Ficksburg se tweede leraar.

In dié uitgestrekte gemeente was die predikant sowat die helfte van die tyd afwesig op besoek aan die veraf wonende lidmate. Tog kon hy ook sorg vir die opvoeding van sy kinders en so kry Herman van Broekhuizen sy vroegste onderrig tot op die ouderdom van 12 by sy vader, en daarna op skool op Ficksburg en Senekal. Lewenslank het ds. Van Broekhuizen met groot waardering van sy ouerhuis gepraat. In die eenvoudige pastorie op Ficksburg is sy karakter gevorm. Die innige vroomheid van sy ouers het ’n stempel op sy lewe afgedruk. Op die togte wat hy as jong seun in die uitgestrekte gemeente saam met sy vader meegemaak het, het sy liefde gegroei vir die Vrystaatse natuur, vir die wye vlaktes en koppies, ook vir die grootse landskappe van Basoetoland, wie se grens net enkele kilometers van Ficksburg af geleë is. Hierdie liefde het hom sy lewe lank bygebly. Baie jare later, toe hy sy land in Nederland verteenwoordig het, kon hy in lewendige, sterk beeldende woorde die landskap van sy kinderjare teken.[4]

Universiteit en sportprestasies

[wysig | wysig bron]
Broekie van Broekhuizen Rugbyportaal
Rugbyloopbaan
Loopbaan as speler
Posisie(s) Voorspeler
Springbokno. 59
Amateurspanne
Jare Klub / span Weds (pte)
Stellenbosch RVK
Nasionale span(ne)
Jare Land Weds (pte)
1896 Suid-Afrika 1 (0)
Maties se eerste rugbyspan van 1896 wat die eerste keer die Groot Uitdaagbeker gewen het. Herman van Broekhuizen sit tweede van links in die middelste ry. Nog sewe voornemende predikante is J.M. Hofmeyr, die kaptein, in die middel met die bal op sy skoot, C.A. Neethling, derde van links agter, P.K. Albertyn, vierde van links; M.S. Daneel, wat links in die middelste ry sit, en C.V. Nel, heel regs in dieselfde ry. Ebbe Dommisse sit links in die voorste ry en C.D. Murray langs hom.
Die Holy Brigade, in 1896 die Victoria-kollege se heel eerste rugbytoerspan, so genoem omdat hulle nooit ’n druppel drank oor hul lippe laat gaan het nie. Agter: D. Kloppers, C.V. Nel, P.A. Bergh, H.D. van Broekhuizen, Paul de Waal, P.K. Albertyn, A.L. Hofmeyr, Ebbe Dommisse, C.A. Neethling, H.R. Kemsley. Middel: M.S. Daneel, H.J. Bergh, J.M. Hofmeyr (kaptein), D. Morkel, G. Chapman. Voor: A.M. McGregor, Piet de Vos, C. Gonin, P.A.M. de Vos.
Herman van Broekhuizen as Maties-rugbyspeler. Op universiteit was sy bynaam "Broekies".[5]
Die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan wat in 1896 op Nuweland teen die besoekende span van die Britse Eilande met 5-0 gewen het, die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan ’n internasionale wedstryd kon wen. Van Broekhuizen staan tweede van links. Dit was die eerste keer dat Suid-Afrika se rugbyspan in groen truie gespeel het en ook Van Broekhuizen se enigste toetswedstryd.
Stellenbosch se eerste span van 1897, wenners van die Groot Uitdaagbeker en onoorwonne in die kompetisie. Agter: C.A. Neethling, P. de Waal, P.K. Albertyn, P.O. Nel, T.B. Herold. Middel: C.V. Nel, Van Broekhuizen, J.M. Hofmeyr (kaptein), D. Morkel, J. Pargiter. Voor: P.A.M. de Vos, A. Markötter, B. Newmark, Japie Krige.

Nadat hy die matrikulasie-eksamen aan Grey-kollege in Bloemfontein onder dr. Johannes Brill afgelê het, is hy na die Victoria-kollege vir verdere studie waar sy studentemaats hom gerespekteer en hy vele vriende gemaak het danksy sy jovialiteit en kameraadskaplikheid.[6] Hierna het hy sy teologiese studie aan die Kweekskool voltooi. Enkele van sy meer behoudende dosente het hulle vererg oor sy liefde vir sport, maar op Stellenbosch het hy aan verskeie sportsoorte deelgeneem en Suid-Afrika in ’n span teen J. Hammond se toerspan van die Britse Eilande in 1896 verteenwoordig nadat hy net voor die vierde toets as plaasvervanger gekies is. So het hy in die eerste internasionale rugbytoets gespeel wat Suid-Afrika gewen het. Van die sowat 745 spelers (tot 2013) wat ’n toetswedstryd in die Groen-en-Goud gespeel het, is Van Broekhuizen al wat nooit in ’n Curriebekerwedstryd gespeel het nie.[7] Hy het ook die onderskeiding dat hy die eerste speler in ’n nasionale Suid-Afrikaanse rugbyspan was wat Grey-kollege van Bloemfontein opgelewer het.[8] Middel 2015 was Grey met 44 spelers sedert 1906 (toe die span die eerste keer as Springbokke bekendgestaan het) tweede op die ranglys van skole met die meeste Springbokke naas Paul Roos Gimnasium met 48.[9]

Stellenbosch se jare lange rugbyafrigter A.F. (Oubaas) Markötter het Van Broekhuizen as een van die beste twee voorspelers beskou wat al ooit vir Suid-Afrika gespeel het. Op Stellenbosch het hy van 1893 tot 1898 vir die plaaslike rugbyspan gespeel en in 1895 en 1896 was hy onderkaptein. In laasgenoemde jaar en 1897 het hy vir die Westelike Provinsie se eerste rugbyspan uitgedraf en, soos reeds genoem, vir Suid-Afrika in 1896. Van sy spanmaats op Stellenbosch en/of vir die WP was (die latere di.) C.V. Nel, C.A. Neethling, M.S. Daneel en J.M. Hofmeyr. Hy was in 1896 ook lid van Stellenbosch se eerste rugbytoerspan, die Holy Brigade, wat dié naam gekry het omdat hulle nooit ’n druppel drank oor hul lippe laat gaan het nie. Nel, Neethling, Daneel en Hofmeyr was al vier ook lid van dié geskiedkundige span.

Buitelandse studiereis

[wysig | wysig bron]

Nadat hy sy studie op Stellenbosch voltooi het, het hy ’n uitgebreide studiereis na Europa en Palestina onderneem in die geselskap van sy vriend (die latere ds.) C.A. Neethling. In Nederland het prop. Van Broekhuizen ’n tyd lank vertoef en bloedverwante besoek. Hy het hom met groot piëteit en nougesetheid ingeleef in die verskillende gemeentes waar sy vader predikant was. In Oosterbierum, sy vader se laaste Nederlandse standplaas, het die jong predikant voor die gemeentelede opgetree wat vir sy vader so ’n groot verering gehad het.

Van Nederland trek hy en Neethling deur Duitsland en Switserland na Italië. Daarna besoek hulle Griekeland en Palestina, wat ’n blywende indruk op prop. Neethling gemaak het.[10] Hierna ontmoet hulle die Nederlandse skrywer Maarten Maartenz, wat hoofsaaklik in Engels geskryf het, met wie prop. Van Broekhuizen blywend in noue aanraking sou bly, nieteenstaande hul ingrypend uiteenlopende opvattings omtrent Engeland en die Britse kultuur. Oor Egipte het hulle deur die Rooisee weer na Suid-Afrika teruggekeer.

Hierdie reis was vir die vorming van die jong godgeleerde van die allergrootste belang. Daardeur is hy verhef bo die destyds enigsins beperkte geestelike horison van Stellenbosch. Hy het ’n breër visie gekry en het uitgegroei bo die kleinlikheid wat in die politiek van Suid-Afrika aan die einde van die 19de eeu so sterk gegeld het.[11]

Tweede Vryheidsoorlog

[wysig | wysig bron]
Ds. Van Broekhuizen omstreeks die Tweede Vryheidsoorlog.
Van Broekhuizen het kort nadat die Driejarige Oorlog uitgebreek het by Danie Theron se Verkennerskorps aangesluit, maar is reeds op 13 Junie 1900 in Pretoria in hegtenis geneem en eindelik na Engeland verban. Hier nuttig van die lede van die korps middagete te velde, maar dis onwaarskynlik dat Van Broekhuizen op die foto verskyn.
Pres. Paul Kruger se 77ste verjaardag in Utrecht, Nederland, 10 Oktober 1902. Van Broekhuizen sit derde van links in die tweede ry van voor.

In 1898 is hy as hulpprediker van die NG gemeente Pretoria georden. Ds. Van Broekhuizen was een van die vurigste pleiters vir ’n nouer aansluiting tussen Transvaal, die Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie. Hy het beswaar gemaak teen die stelselmatige uitsluiting van Vrystaters en Kapenaars uit Transvaalse ampte en betrekkings, wat deur vele vooraanstaande mense in die ZAR voorgestaan is. Wat ds. Van Broekhuizen nie kon insien nie, was dat hierdie uitsluiting hoofsaaklik die gevolg was van gegronde vrese vir die gevaar van die verengelsing van Transvaal.[12]

Pres. Paul Kruger het, hoewel hy lidmaat van die Gereformeerde Kerk was, die vurige jong predikant raakgesien en hom oor talle netelige vraagstukke geraadpleeg.[13] Op die belangrike laaste sitting van die uitvoerende raad van die ZAR aan die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog het pres. Kruger Van Broekhuizen gevra om die verrigtinge met ’n gebed af te sluit, bewys van hoe hoog die jong hulpleraar in die hoofstad aangeslaan is. Toe die Volksraad op 9 Oktober 1899 besluit om sy ultimatum aan Groot Brittanje te stuur[14] en iemand meer onder die illusie verkeer het dat oorlog vermy kon word nie, het hy sy trae volksgenote aangespoor om hul plig vir hul vaderland te doen.

Vir homself was dit ’n gewetenskonflik of hy by sy gemeente moes bly en die lidmate in die Republikeinse hoofstad geestelik versorg en of hy sy innerlike drang moes gehoorsaam om na die front te gaan. Pas ná die uitbreek van die Driejarige Oorlog, toe sy kollega, ds. H.S. Bosman, terug in die gemeente was, het Van Broekhuizen by Danie Theron se Verkennerskorps aangesluit. Hy is op kommando weg, maar moes dringend terugkeer na Pretoria omdat sy ma ernstig siek was. Hy het op 12 Junie 1900 in die hoofstad aangekom en is die volgende dag deur die Britse militêre owerheid in hegtenis geneem. Omdat hy geweier het om die eed van neutraliteit (volgens sommige bronne die eed van trou) voor genl. Maxwell, die Engelse goewerneur van Pretoria, af te lê is hy tronkstraf opgelê. Hy is egter op parool vrygelaat en moes twee keer per week by Maxwell rapporteer. Ná drie weke is hy uit Suid-Afrika gedeporteer en het lord Alfred Milner geweier dat hy terugkeer. Hy kon sy predikantspligte in Pretoria eers bykans sewe jaar later hervat.

Deur middel van die hulp van die Boerevriend William T. Stead het ds. Van Broekhuizen daarin geslaag om die Europese vasteland te bereik nadat hy veronderstel was om in Engeland te bly. In Nederland het dr. W.J. Leyds hom aangeraai om in Amerika geld te gaan insamel vir die vroue en kinders in die konsentrasiekampe. Hy het dit reggekry om groot bedrae in te vorder terwyl hy self met die minste moontlik klaargekom het. Hy het ook tydens die oorlog lesings in Amerika en Europa gehou om steun vir die Boere se saak te werf. Uit dr. Leyds se gepubliseerde korrespondensie is dit bekend dat die konsul-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek in Londen, Montagu White, wat terselfdertyd as die Transvaalse predikant in die Verenigde State was, met die grootste lof van sy werk in Amerika gepraat het: "It gives me great pleasure to testify to the excellent work which has been done here by the Rev. Mr. van Broekhuizen. He has collected quite large sums and his expenses have been ridiculously small."[15] Sy sprekerstalent het hy ook ten volle in diens van sy volk gestel. Ook daarvan getuig Montagu White: "Van Broekhuizen made an excellent speech last night at the Columbus Hall; I only regret that the vast majority of the audience, … were hardly worth of so fine an effort." Terwyl hy in Amerika was, het ds. Van Broekhuizen mense ontmasker wat kwansuis geld vir die Boeresaak ingesamel het, maar dit vir eie gewin gedoen het.

In 1902, met sy terugkeer na Nederland, het pres. Kruger hom gevra om as sy persoonlike predikant op te tree. Dit was nadat die ZAR-regering ná die Slag van Dalmanutha besluit het die staatspresident was te oud en swak om in die oorloggeteisterde Transvaal aan te bly en dat hy na Europa moes gaan om hulp en simpatie van Europese leiers te kry. Op 11 September 1900 het hy die Transvaalse grens oorgesteek onderweg na Lourenço Marques, van waar hy met die Gelderland, wat koningin Wilhelmina spesiaal vir dié doel gestuur het, na Marseille gevaar het. Kruger het vir die duur van die oorlog in Nederland gebly en toe saam met sy geselskap na Clarens in Switserland verhuis waar hy op 14 Julie 1904 oorlede is.[16] Wat dr. Van Broekhuizen vir die bejaarde president in sy laaste, moeilike lewensjare beteken het, kan kwalik oorskat word. Die jong predikant was toe nog skaars 30 jaar oud, maar hy het so ’n diep geestelike lewe gehad dat hy vir die bejaarde Kruger, wat so swaar onder die leed van die Driejarige Oorlog en sy ballingskap gebuk gegaan het, tot godsdienstige steun kon wees. Hy is later met die ou president se kleindogter Elsie Eloff getroud, die dogter van F.C. en Elsie Eloff. Hulle het mekaar in die suide van Frankryk ontmoet in die tyd toe sy haar oupa in ballingskap vergesel het.

Hofsaak weens majesteitskennis

[wysig | wysig bron]
Ds. Van Broekhuizen, omstreeks 1910.

Weens sy streng anti-Britse gesindheid, wou die nuwe Transvaalse owerheid onder lord Alfred Milner ná die vrede nie toelaat dat hy weer in Pretoria gaan woon nie of, volgens nog ’n bron, selfs die kolonie binnekom nie.[17] In Februarie 1903 het hy tydens ’n erediens op Robertson gebid vir pres. Kruger se verlossing uit ballingskap en vir sy "verdrukte, vertrapte en verjaagde" volk. Boonop het hy tydens die erediens nagelaat om te bid vir die Britse koning, soos destyds die vereiste was. So het hy hom aan majesteitskennis (skending van die vors se naam) skuldig gemaak, soos die assistent-residentmagistraat van Robertson, Frederick Rossouw, getuig het toe die saak teen ds. Van Broekhuizen in Oktober 1903 in die rondgaande hof op Worcester verhoor word. Ook D.N. During, Robertson se burgemeester, het in dié saak getuig en gesê dat die preek nie dié van "een loyaal mensch" was nie. Ds. Van Broekhuizen het die aanklagte ontken en aangevoer dat hy nie opruiend gepreek het nie, maar net op sy gewone manier, "met vuur". Hy het tog erken hy was verbitterd jeens die Britse owerheid wat nie wou toelaat dat hy na Transvaal terugkeer nie.

Die jurie het pas ná die aanvoer van getuienis hul uitspraak voorgelees en die jong predikant onskuldig bevind, onder luide toejuiging van die stampvol hofsaal. Die vermoënde boer van Saxenburg Georg Jacob de Villiers, wat ds. Van Broekhuizen per motor Worcester toe gebring het vir die hofsaak, het die reusebedrag van £800 saamgebring ingeval hy die dominee se boete of borgtog moes betaal.

Op Kuilsrivier

[wysig | wysig bron]
Ds. Van Broekhuizen se portret in die konsistorie van die NG moederkerk Kuilsrivier.

Die NG gemeente Kuilsrivier het op 20 Januarie 1903 van die NG gemeente Durbanville afgestig. Voor die tyd het die leraar van die moedergemeente Kuilsrivier op vasgestelde Sondae besoek om daar godsdiensoefeninge in ’n skoolgeboutjie waar te neem.[18] Die gemeente se lidmaattal was met afstigting net sowat 280. Op ’n gekombineerde kerksraadsvergadering is ds. J.P. van Heerden tot eerste leraar beroep, maar nadat hy vir die beroep bedank het, is ds. Van Broekhuizen op 1 Junie daardie jaar beroep. Op Donderdag 13 Augustus 1903 het ’n groot aantal belangstellendes met sowat 50 rytuie die nuwe leraar by Kuilsrivierstasie gaan ontmoet. Daar het hy adresse namens die kerkraad en die gemeente ontvang, en van Pieter de Wet namens die skool en leerlinge. By sy aankoms by sy tydelike woning het die kinders vir hom ’n verwelkomingslied gesing. Die teksvers van sy intreepreek was 1 Petrus 5:2: "Weidt de kudde Gods." Hy het vertel hoe hy belet is om sy werk in Pretoria voort te sit en hoe hy geleer het om sy patriotisme aan die wil van die Here te onderwerp. Tussen die oggend- en die aanddiens is al die besoekers deur die vroue van die kerkraadslede op ’n middagete onthaal.

Op ’n kerkraadsvergadering in September daardie jaar is besluit om £4 700 vir die boufonds te leen, wat voor einde 1904 in vier paaiemente terugbetaal moes word. Reeds daardie aand het iemand £500, nog iemand £300 en heelwat ander lede £10 elk geskenk. Op Donderdag 3 Maart 1904 kon prof. N.J. Hofmeyr die kerkgebou se hoeksteen lê. Ná ’n plegtige opening met Skriflesing en gebed het ’n dameskoor onder leiding van Pieter de Wet gesorg vir koorsang. Nadat ’n paar dokumente in ’n verseëlde blik onder die hoeksteen geplaas is, het die bejaarde professor met ’n slag van die silwertroffel verklaar dat die hoeksteen behoorlik gelê is.

Sy huwelik

[wysig | wysig bron]
Elsie van Broekhuizen, ds. Van Broekhuizen se vrou, was 'n kleindogter van pres. Paul Kruger. Sy en Mabel Malherbe is in 1919 na die groot onafhanklikheidskongres in Bloemfontein afgevaardig, waar hulle die enigste vroueafgevaardigdes was.

In Nederland het ds. Van Broekhuizen op pres. Kruger se kleindogter Elsie Francina (Ellie) Eloff verlief geraak. Elsie van Broekhuizen was die dogter van Frederik Christoffel (Frikkie of Ryk Freek) Eloff (9 Februarie 185014 November 1924) en Elsje Francina Kruger (19 Maart 185321 Oktober 1924). Haar grootouers aan moederskant was pres. Paul Kruger en sy vrou Gezina Susanna Wilhelmina du Plessis (5 Mei 183120 Julie 1901).[19] Haar agt sibbes was Sarel Johannes, Gezina Susanna Frederika Wilhelmina Jacobsz, Susanna Cornelia Jacobsz, Stephanetta Johanna Paulina "Nettie" Bredell, Stephanus Johannes Paulus, Frederik Christoffel en Dirk Postma.

Kuilsrivier se toe reeds 32-jarige predikant is op 15 Januarie 1904 in die Groote Kerk in Kaapstad met Ellie Eloff in die huwelik bevestig nadat die Transvaalse owerheid toe reeds twee maal geweier het dat hulle in die bruid se geboortestad, Pretoria, trou. De Zuid-Afrikaan het twee kolomme aan die huwelik afgestaan en berig amper al die lidmate van die bruidegom se gemeente was daar en het waarskynlik met perdekarre of per trein na die middestad gekom. Van die vooraanstaande gaste was hoofregter lord Henry de Villiers en Marie Koopmans-de Wet, lede van die Kaapse Wetgewende Vergadering, drie hoogleraars van Stellenbosch en agt predikante van omliggende gemeentes. Die koerant het selfs ’n lys van die indrukwekkende trougeskenke weergegee, onder meer die tafel en ses stoele van okkerneuthout geskenk deur pres. Kruger (wat in Julie daardie jaar sou sterf) en die pragtige Bechstein-klavier van die bruid se vader, Frikkie Eloff. Onder die ander geskenke is die messegoed en kombuisgerei van die Kuilsrivierse Strewersvereniging uitgesonder. Ds. Van Broekhuizen het in sy toespraak gesê dit is sy strewe om te doen wat hy kan vir Suid-Afrika en sy Kerk se welsyn. Hy het gesê daar is tereg opgemerk dat hy gely en gestry het, maar dat hy vir land, volk en taal selfs meer sou ly.

Vier kinders is uit Herman en Ellie van Broekhuizen se huwelik gebore. Herman Frederik, die oudste seun, het lewenslank met sy gesondheid gesukkel en is oorlede toe hy 59 was. Johanna, wat Nannie genoem is, was ’n skrywer van kindergedigte en toneelstukke. Sy was nooit getroud nie en het aangesluit by die Sofiste, vir wie sy ’n prediker was. Hul jongste dogter is in 1917 gebore en, nes die oudste dogter, wat op Kuilsrivier oorlede is, na hul ma genoem: Elsie Francina. Sy was getroud met Hendrik van Huyssteen en het in George afgetree.

Ellie van Broekhuizen het ’n groot invloed op haar man gehad. Die egpaar het die groot voorreg van ’n harmonieuse huwelikslewe gehad. Sonder sy vrou met haar aristokratiese lewenshouding, haar besadigdheid, beskeidenheid en deursettingsvermoë sou hy nooit die rol kon gespeel het wat hy vervul het nie.[20]

Die Van Broekhuizens kry ’n pastorie

[wysig | wysig bron]
Ds. Van Broekhuizen as predikant van Kuilsrivier, omstreeks 1906.
Die eerste pastorie van die NG gemeente Kuilsrivier is ontwerp deur Folkert Wilko Hesse, wat ook die kerk ontwerp het, en op 4 Oktober 1904 ingewy. Dis omstreeks 1980 gesloop.

Die kerkraad het waarskynlik besef dat die pastorie vir so ’n gesiene egpaar soos die Van Broekhuizens iets heel besonders moes wees. Die indrukwekkende verdiepinggebou met sy breë houttrap, marmerkaggels en groot onthaalvertrek is op Dinsdag 4 Oktober 1904 ingewy toe etlike vername sprekers die woord gevoer het.

Die eerste kindjie wat vir die bewoners van dié imposante pastorie gebore is, was Elsie Francina op 29 Junie 1905. Haar vader het haar gedoop met Marie Koopmans-de Wet en die baba se oupa en oupa aan moederskant, Frederik en Elsie Eloff, asook haar oom, dr. Hendrik van Broekhuizen, as getuies. Aangesien mev. ds. Van Broekhuizen ’n verfynde dame was, het sy ’n Franse vrou as huishoudster na Kuilsrivier saamgebring. Eendag moes dié huishoudster die pastorie se stoep met wassoda skoonmaak, soos die gebruik destyds was. Ongelukkig het sy bytsoda van die winkel bestel en dit in die emmer gegooi. Klein Elsie het nadergekruip en van die waswater gedrink. Sy is twee dae later oorlede. Haar oorskot is einde 1906 saam met die Van Broekhuizens na Pretoria gebring waar dit langs haar beroemde oupa in die Heldeakker begrawe is.

Kuilsrivier kry ’n kerk

[wysig | wysig bron]
Kuilsrivier se kerk, omstreeks 1907 nadat die uurwerk aangebring is.
Ds. Van Broekhuizen en die Kuilsrivierse kerkraad, 1906. Dis moontlik mev. Van Broekhuizen met klein Elsie links agter op die pastorie se stoep.

Binne twee jaar ná afstigting en skaars nege maande nadat prof. Hofmeyr die hoeksteen gelê het, is die Kuilsrivierse kerk ingewy. Die argitek, die gebore Nederlander Folkert Wilko Hesse, se plan is uitgevoer deur die plaaslike boumeester Charl Baard Joubert. Tom Cooke, die Engelssprekende skrynwerker van Kuilsrivier, het die banke vervaardig. Die inwyding was op 29 November 1904. Die gebou het amper £5 200 gekos, die meubels ingesluit. Uitgelese gaste het die inwyding bygewoon, onder wie mev. Van Broekhuizen se ouers, H.C. Bredell, voormalige privaat sekretaris van pres. Kruger, die argitek, lede van die Kaapse Wetgewende Vergadering en 14 predikante. Ná ’n kort byeenkoms in die ou skoolgebou, ’n afskeidspreek deur ds. A.D. Lückhoff, leraar van Durbanville toe Kuilsrivier nog deel van die moedergemeente was, en die sing van psalms het de plegtige optog na die kerkgebou begin. Die oudste ouderling het vooraan gestap met ’n geopende Bybel op sy hande, ná hom die drie lede van die boukommissie, dan die argitek en die boumeester. Ná hulle die dienende en rustende kerkraadslede, ds. Van Broekhuizen, leraars van elders, die lidmate van Kuilsrivier en laastens lidmate van elders en vriende.

Op die trap van die nuwe gebou het prof. N.J. Hofmeyr die deur ontsluit en terwyl die optoggangers die kerk betree het, het die koor onder leiding van Pieter de Wet gesing. Ds. B.P.J. Marchand van Rondebosch het hierna Ps. 132 gelees, ds. Hofmeyr het ’n gebed gedoen en Nancy de Villiers het ’n solo gelewer. In sy wydingsrede het ds. Adriaan Moorrees, toe nog leraar van die Paarl, maar wat in 1908 prof. Hofmeyr se opvolger aan die Kweekskool sou word, na aanleiding van Gen. 28:17 daarop gewys dat die Here nie aan ’n plek gebonde is nie. Sowat duisend mense was in die kerk teenwoordig. Almal kon nie sitplek kry nie, maar die medewerker van De Kerkbode het opgemerk dat selfs dié in die uithoeke van die gebou die plaaslike predikant kon hoor praat. Vier dae later is die eerste lidmate van die gemeente voorgestel. Die eerste doopsbediening het reeds voor ds. Van Broekhuizen se bevestiging plaasgevind en wel op 23 Maart 1903.[21] Die eerste paartjie wat ds. Van Broekhuizen in die sierlike kerk in die huwelik bevestig het, was Jakobus Petrus Joubert en Anna Maria Catherina Bosman.

Dis interessant om daarop te let dat ds. Van Broekhuizen en prof. Hofmeyr drie jaar later albei ook opgetree het tydens die inwyding van die nuwe kerkgebou van die NG gemeente Ficksburg, waar ds. Van Broekhuizen se vader die tweede leraar was. Die nuwe kerk van Ficksburg is ingewy op 12 April 1907. ’n Uitgebreide program is by dié geleentheid opgevoer. Die verrigtinge het geduur van die Vrydagmôre halfagt tot laat die Sondagaand. Die Wydingsdiens is gehou deur die 80-jarige prof. Hofmeyr, skoonvader van ds. J.D. Kestell, wat toe leraar van Ficksburg was, en die orrel is bespeel deur prof. P.K. le Roux. Die kinderdiens is gelei deur ds. Herman van Broekhuizen.

Die kerk se uurwerk

[wysig | wysig bron]
Die Sondakskoolpersoneel van die NG gemeente Kuilsrivier in 1906. Mev. Elsie van Broekhuizen sit links van haar man met hul baba, Elsie, op haar skoot.

Ná die voltooiing van die kerkgebou was dit ’n groot probleem vir die predikant en gemeente dat die toring ’n uurwerk kortgekom het. Ds. Van Broekhuizen het blykbaar besoek afgelê by Daniël Bosman van Stellenbosch, destyds eienaar van die florerende Halfway House Hotel, en volgens oorlewering vir hom gesê: "Mnr. Bosman, ek wil u ’n groot guns vra: wil u nie vir ons die uurwerk vir die kerk skenk nie?" Bosman het glo gesê hy sou dit doen, mits die kerkraad daarby skryf: "Koop julle drankies by Bosman's Halway House." Ds. Van Broekhuizen kon so ’n aanbod nie aanvaar nie en het toe gegaan na Francois Jean van Helslandt Duminy van die plaas Welgemoed (waarop ’n voorstad van Bellville later uitgelê is, om te hoor of dié bekende, vermoënde boer bereid sou wees om die uurwerk te skenk. Duminy het verstaan dit sou hoogstens £15 kos en aangesien hy dit moeilik kon weier, is ds. Van Broekhuizen daar weg met ’n belofte dat Duminy die kerk sou help. Die horlosie is gekoop en ingebou, maar Duminy het nie die geld inbetaal soos ooreengekom nie. Die firma wat die horlosie ingebou het, het hom weer besoek, met die rekening vir die horlosie wat die verbysterende bedrag van £220 beloop het in ’n tyd toe ’n predikant se salaris £300 per jaar was. Duminy het sy oudste seun opdrag gegee om sy perd te roskam, daarna te bad en skeer en sy kisklere aan te trek sodat hy ’n koevert met ’n tjek vir die volle bedrag daarin aan ds. Van Broekhuizen kon gaan oorhandig. Met die gemeente se kwarteeuviering het ds. Van Broekhuizen as een van die besoekende predikers getuig dat elke steen in die kerkgebou getuig het van die gemeentelede se opofferings.

Twee sake wat ds. Van Broekhuizen op Kuilsrivier ontstel het, was die gebrek aan Bybelkennis wat hy by die jong mense tydens katkisasie bespeur het. Dit het hy toegeskryf aan die uitsterf van die gebruik om gereeld huisgodsdiens te hou. Ook het die feit dat Bosman se hotel feitlik langs die kerkgebou was, hom omgekrap. Dié wou volgens oorlewering by die predikant weet waarom die gemeente dan hul kerkgebou reg langs sy hotel gebou het.

Met die Van Broekhuizens se vertrek na Pretoria in Desember 1906 was hulle net meer as drie jaar in die gemeente, maar die eerste predikant het ’n onuitwisbare indruk gelaat. Die kerkgebou is vandag nog ’n lewende monument vir sy versiendheid terwyl die imposante pastorie tot omstreeks 1980 getuig het van die eerste leraarspaar se aansien en goeie smaak. Van Broekhuizenstraat in Kuilsrivier is na die leraar genoem.

Na Pretoria

[wysig | wysig bron]
Ds. Van Broekhuizen in die tyd toe hy leraar was van die Hervormde gemeente Pretoria.
'n Groep Hervormde predikante in 1918. Sittende (van links) is prof. J.A.J.H. Greyvenstein, ds. Simon Vermooten, dr. H.C.M. Fourie, di. Jac van Belkum, S.J. Strydom, L.E. Brandt en J.J., Kühn. Staande (van links) is ds. A.J. Barger en dr. Van Broekhuizen.

Terwyl Kuilsrivier destyds nog ’n klein dorpie en gemeente was, het ds. Van Broekhuizen hom ná sy bevestiging in die NG gemeente Pretoria in een van die grootste en belangrikste gemeentes in die Transvaalse Kerk bevind. In dié gemeente sou hy bly tot in 1917 en daarna in die Hervormde gemeente Pretoria, waarvan hy op 4 Oktober 1925 afskeid geneem het nadat hy lid van die Volksraad geword het.[22]

Terwyl hy in Pretoria was, het ds. Van Broekhuizen dit betreur dat hy sy Europese verblyf vir algemene ontwikkeling gebruik het, maar nie ’n bepaalde studieplan voltooi het nie. Hy het mettertyd ál meer onbevredig gevoel weens die gemis aan afsluiting van sy studies en die bekroning daarvan met ’n Nederlandse graad. In 1912, toe hy nog NG predikant was, kry hy ’n jaar studieverlof wat hy deurbring aan die Universiteit van Utrecht. Hy het egter nie daarin geslaag om toe sy doktorale studie te voltooi nie. Dit was vir hom ’n teleurstelling, maar moontlik was dit ook ’n bewys van gebrek aan insig in die groot taak wat hy hom voorgeneem het. Tien jaar ná sy onsuksesvolle studieverlof keer hy in 1922 na Nederland terug om sy doktorale studie te voltooi. Dié keer slaag hy, want aan die Universiteit van Leiden promoveer ds. Van Broekhuizen met ’n proefskrif getiteld Die wordingsgeskiedenis van die Hollandse Kerke in Suid-Afrika, 1652–1804.

Sy stryd vir die Afrikaanse taal

[wysig | wysig bron]
Dié berig oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se stigting het in die koerant Het Westen verskyn. Ds. Van Broekhuizen was een van die verteenwoordigers van Transvaal.
’n Aantal van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Bloemfontein in Julie 1909. Agter: prof. N.J. Brümmer, adv. N.J. de Wet (later minister van justisie), adv. E.G. Jansen, ds. J.D. Kestell, Gustav Preller, genl. J.B.M. Hertzog, dr. Frans Engelenburg, Jan F.E. Cilliers, prof. A. Francken, adv. F.S. Malan. Middel: prof. G. Knothe, oudpres. M.T. Steyn, ds. D.S. Botha. Voor: dr. D.F. Malan, ds. H.D. van Broekhuizen, dr. N.M. Hoogenhout en J.S.M. Rabie.
Reklame in 1929 vir die verdeling van die Afrikaanse hoërskool in Pretoria in ’n afdeling vir seuns en meisies. Dr. Van Broekhuizen was indertyd die beheerraad se voorsitter.

Ds. Van Broekhuizen het vroeg reeds groot belangstelling in die taal en kulturele aangeleenthede van die Afrikanervolk getoon. Op 22 Augustus 1902 het op die 27ste Nederlandse Taal- en Letterkundige Kongres ’n vurige pleidooi gelewer vir Afrikaans as die toekomstige taal van sy volk. Hy, as Nederlander van huis uit, het beter as vele van sy landgenote gesê dat Hoog-Nederlands geen toekoms meer in Suid-Afrika gehad het nie en hy het die moed gehad om dit in die openbaar, en dit in Nederland, te sê.[23]

Ná die inwerkingtreding van die Transvaalse Onderwyswet van 1907 was hy ’n kampvegter vir moedertaalonderwys en het hy as voorsitter van die Afrikaans-Hollandse Taalvereniging opgetree. Op 6 en 7 April 1911 het hy saam met ander gesiene mense soos oudpres. F.W. Reitz, prof. Adriaan Moorrees, dr. D.F. Malan, prof. Blommaert en genl. C.F. Beyers in die onderste saal van die Kollegegebou op Stellenbosch aan Suid-Afrika se eerste Taalkonferensie deelgeneem. Die studente het almal stokkiesgedraai om na die saal te stroom wat ’n "toneel van uitbundige patriotisme en taalgeesdrif" geword het.[24] Die belangstelling wat dié tweedaagse konferensie ontketen het, was so groot dat al die toesprake gebundel en in druk onder die titel Wij Zullen Handhaven uitgegee is. Dit is dieselfde titel waaronder ds. Van Broekhuizen se vlugskrif oor Afrikaners se taalregte en -stryd in 1908 by Volkstem-Drukkerij verskyn het.[25]

In 1909 was hy ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, toe nog die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns genoem. Die Akademie het hom in 1949 ’n lewenslange erelid gemaak.[26] Die volgende jaar was hy as voorsitter van die Pretoriase Christelike Jongeliedevereniging die stukrag agter die eerste Krugerdagviering op 10 Oktober, sy vrou se oupa se geboortedag. In sy hoedanigheid as voorsitter van die Pretoriase CJV het hy in 1913 die eerste Afrikaanse sangwedstryd in die hoofstad gereël.

Hy was van 1911 af lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Nadat hy in 1924 lid geword het van die raad van die Transvaalse Universiteitskollege (Tukkies, die latere Universiteit van Pretoria) het hy hom sterk beywer vir die totstandkoming van ’n selfstandige Afrikaanse universiteit, pleks van ’n Engelse of tweetalige instelling. Op die vergadering wat in 1932 gehou is en waarop besluit is dat die universiteit Afrikaans sou word, het dr. Van Broekhuizen, hoewel destyds ondervoorsitter, as voorsitter opgetree. Hy het dan ook tot sy dood aktief vir die belange van die universiteit gewerk.

Op 18 April 1953, skaars vier maande voor sy dood, het die Universiteit van Pretoria ’n eredoktorsgraad in die wysbegeerte aan hom toegeken vir die "groot dienste wat hy oor ’n tydperk van 50 jaar aan die Afrikaanse kultuurbeweging en aan die Universiteit van Pretoria gelewer het".[27] Van sy ander geskrifte sluit in: Zuid-Afrika's vertrouwen (1901), Strijd en oorwinning (1903), Trek niet op (1914) en De Bijbel en het bolsjewisme (1923).

Politieke betrokkenheid

[wysig | wysig bron]
’n Karikatuur van dr. Van Broekhuizen deur Die Burger se spotprentkunstenaar D.C. Boonzaier.
Die adviseurs van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 in Bloemfontein. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kies, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit (Totius se halfbroer), H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis, C.J.H. de Wet, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers.
Dr. Van Broekhuizen, omstreeks 1930.

Ds. Van Broekhuizen was teenwoordig op die stigtingskongres van die Nasionale Party in Transvaal in Pretoria en het die vergadering op 25 Augustus 1914 met gebed geopen. Op Sondagaand 13 September 1914 het hy in die Bosmanstraatse NG kerk in Pretoria ’n preek na aanleiding van 2 Kron. 11:4 gelewer: “Zo zegt de HEERE: Gij zult niet optrekken, noch strijden tegen uw broederen; een ieder kere weder tot zijn huis, want deze zaak is van Mij geschied. En zij hoorden de woorden des HEEREN, en zij keerden weder van tegen Jerobeam te trekken.”[28] (Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek was dit Numeri 14:42–43: “Trekt niet op, want de HEERE zal in het midden van u niet zijn; opdat gij niet geslagen wordt, voor het aangezicht uwer vijanden. Want de Amalekieten, en de Kanaänieten zijn daar voor uw aangezicht, en gij zult door het zwaard vallen; want, omdat gij u afgekeerd hebt van den HEERE, zo zal de HEERE met u niet zijn,”,[29] maar dié teks blyk minder waarskynlik te wees.) In hierdie preek het hy die inval van die Unietroepe in Duits-Suidwes-Afrika veroordeel en is daarom kort ná die erediens in hegtenis geneem en 18 maande tronkstraf opgelê. Volgens die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het hy eers ná die preek aktief aan die Rebellie deelgeneem voor hy gevange geneem is. En volgens sy breedvoerige biografie in die Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953 is ’n losprys op sy kop geplaas.

Hy sou later sê die 1914-rebellie was ’n hoogtepunt van sy lewe omdat hy in die gevangenis bevriend geraak het met onder andere genl. C.F. Beyers en Christiaan de Wet asook oudpres. M.T. Steyn. Van sy ander medegevangenes was die latere minister P.G.W. Grobler en dr. H.C.M. Fourie. So het hy bevriend geraak met van die mees vooraanstaande en edelste Afrikaanse persoonlikhede van destyds. Hy het vir die res van sy lewe nooit moeg daarvoor geword om in openbare redevoering en in persoonlike gesprekke van sy ervaring in die tronk te vertel nie. In die Rebellie het Van Broekhuizen die beste kans van sy lewe gehad om nie alleen naam te maak nie, maar ook om te bewys dat hy werklik die daad by die woord kon voeg.

Deels weens die NG Kerk se onpartydige houding jeens die Rebellie het ds. Van Broekhuizen ná sy vrylating in 1917 ’n beroep na die Hervormde kerk Pretoria aanvaar. Met die uitbring van dié beroep is die kerkwet nie heeltemal in ag geneem nie sodat daarvoor ’n buitengewone Algemene Vergadering van die kerk moes saamkom.[30]

Mev. Van Broekhuizen het op talle gebiede leiding geneem en was byvoorbeeld lid van die komitee wat die vroueoptogte gereël het om te betoog teen die gevangenisstraf wat haar man en ander rebelle in 1914 opgelê is. Sy was ook ’n stigterslid van die Nasionale Vroueparty, die vrouevleuel van die Nasionale Party in die tyd voor vroue in 1930 stemreg gekry het. Sy was Transvaalse voorsitter van die Federale Vroueraad en stigterslid van die Bond van Afrikaanse Moeders.

Vanweë sy belangstelling in die politiek, wat hy eintlik al jare lank bo sy voltydse beroep as predikant gestel het,[31] het dr. Van Broekhuizen hom in ’n tussenverkiesing op 15 September 1925 verkiesbaar gestel en is hy verkies tot Volksraadslid vir die Nasionale Party in die kiesafdeling Pretoria-Distrik (Suid):[32]

Datum Kiesafdeling Kandidaat Party Stemme
1925 Pretoria-Distrik (Suid) H.D. van Broekhuizen NP 1 111
J.P. Jooste SAP 761

Met die herafbakening tussen die verkiesing van 1924 en dié van 1929 het drie Transvaalse setels in die slag gebly: Pretoria-Distrik (Noord), Pretoria-Distrik (Suid) (albei NP-setels) en Witwatersberg, ’n SAP-setel. Agt nuwe kiesafdelings het ontstaan, maar in 1929 se verkiesing het Van Broekhuizen hom verkiesbaar gestel in Wonderboom, ’n kiesafdeling wat reeds voor die verkiesing van 1920 geskep is en wat B.J. Pienaar gemaklik in 1924 vir die NP gewen het toe hy amper driekwart van die stemme op hom verenig bo die SAP-kandidaat. In 1929 het Van Broekhuizen met twee derdes van die stemme gewen:[33]

Datum Kiesafdeling Kandidaat Party Stemme
1929 Wonderboom H.D. van Broekhuizen NP 1 350
A.H.W. Luderitz SAP 670

Voor die 1933-verskiesing het die NP en SAP ’n koalisie aangegaan ingevolge waarvan hulle nie mekaar se kandidate sou teenstaan nie en wat einde 1934 gelei het tot die stigting van die Verenigde Party. Die vergrote getal uitgebragte stemme in dié verkiesing was vanweë die parlement se besluit in 1930 om stemreg aan vroue toe te ken. Nou wen Van Broekhuizen met ’n verkleinde aandeel van die stemme teen die onafhanklike P.A. Taljaard:[34]

Datum Kiesafdeling Kandidaat Party Stemme
1933 Wonderboom H.D. van Broekhuizen NP-koalisie 2 407
P.A. Taljaard Onafhanklik 1 527
DE. Roux Roosiet 528

In die Volksraad, wat van 1924 tot 1933 deur die Pakt-regering beheer is, het dr. Van Broekhuizen moeite gedoen om te sorg dat Pretoria ’n onafhanklike, Afrikaanse universiteit kry. Hy het hom ook met welslae beywer vir pensioene vir die oudamptenare van albei die eertydse Boererepublieke, wat al amper 25 jaar vantevore ophou bestaan het. Tog was sy parlementêre werk eintlik net matig suksesvol. Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog was Van Broekhuizen te veel politikus om ’n goeie predikant te wees, maar in die Volksraad was hy te veel predikant om ’n goeie politikus te wees. Sy emosionaliteit het hom gekniehalter. Boonop het hy hom nooit aan partydissipline leer onderwerp nie. As partylid kon min kollegas op hom staatmaak, want hy het altyd ’n individualis gebly.[35]

Diplomaat

[wysig | wysig bron]
Dr. Van Broekhuizen en ’n groep Afrikaanse meisies in Voortrekkerdrag op 16 Desember 1938.

In 1933 is hy as die eerste buitengewone gesant en gevolmagtigde minister van die Unie-regering in Nederland (en later ook België) aangestel waar hy hom veral beywer het vir beter betrekkinge tussen Suid-Afrika en dié twee stamlande. Vanweë sy talryke redevoerings wat hy oral in Nederland gehou het, het Van Broekhuizen ’n groot aanhang gekry. Hy het tot elke laag van die bevolking gespreek, en tog was sy missie nie geslaagd nie omdat hy nie die vermoë gehad het om die betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika aan te pas by die moderne ontwikkeling van die Suiderland nie.[36]

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog bied hy, as aanhanger van genl. J.B.M. Hertzog, wat pas bedank het weens Suid-Afrika se oorlogsverklaring teen Duitsland, sy bedanking aan die nuwe premier, genl. Jan Smuts, maar op laasgenoemde se versoek bly hy in sy amp aan. Ná die inval van die Duitse krygsmag in Nederland op 10 Mei 1940 het dr. en mev. Van Broekhuizen kort daarna (onder lewensgevaar, volgens een bron)[37] na Engeland uitgewyk en in Londen gaan woon, maar einde 1941 na Suid-Afrika teruggekeer – nadat hy sy ontslag as gesant gekry het – omdat mev. Van Broekhuizen se gesondheid nie bestand was teen die Engelse weer nie. By sy uittrede as gesant in Nederland het koningin Wilhelmina die Groot Kruis van Oranje-Nassau aan hom toegeken.

Latere lewe en dood

[wysig | wysig bron]

Ellie van Broekhuizen, sy eggenote, is in 1945 oorlede. In Mei 1946 het hy besoek aan Nederland gebring toe hy uit Johannesburg per "vliegmachine" in Den Haag aangekom het. Hy het met sy aankoms aan die Nieuwe Leidsche Courant vertel hoe swaar die Tweede Wêreldoorlog vir hom was, veral die verlies van sy vrou. Dié koerant het in ’n kort beriggie onderaan sy voorblad berig die rustende gesant se dogter, wat kort voor die oorlog in Den Haag getroud is, het toe in Port Elizabeth gewoon en reeds drie kinders gehad.[38] In 1947 het dr. Van Broekhuizen by Klasie Havenga se Afrikanerparty aangesluit wat hom beywer het vir die behoud van genl. J.B.M. Hertzog se politieke sienswyse. Omdat hy toe reeds 76 jaar oud was, kon dr. Van Broekhuizen egter nie meer ’n noemenswaardige rol in die politiek speel nie. Ná sy vrou se dood het dr. Van Broekhuizen glo begin vereensaam. Hy het nog sowat agt jaar geleef en is op 4 Augustus 1953 in Pretoria oorlede. Sy begrafnisdiens was op 7 Augustus vanuit die Bosmanstraatse NG kerk, waarna hy in die Ou Kerkhof, ook in Pretoria Rebecca begraafplaas, begrawe is.

Waardering

[wysig | wysig bron]
Dr. Herman van Broekhuizen as bejaarde.

Dr. Van Broekhuizen is beskryf as ’n forse figuur met uitdrukkingsvolle oë en (later in sy lewe) silwergrys hare.[39] Hy was ’n hoflike man, ook in die kring van sy gesin met sy vrou en kinders, wat van nature gemaklik met almal oor die weg gekom het, ongeag hul stand, rang of leeftyd. Hoewel hy ’n besielde vegter vir sy oortuigings en die taal en kultuur van die Afrikanervolk was,[40] was hy trots op sy Nederlandse afkoms. Hy was baie lief vir die Nederlandse koningshuis en vir die Nederlandse kultuur. Lewenslank was hy ’n vurige voorvegter vir Nederland in Suid-Afrika. Hiernaas het sy hart uitgegaan na die roemryke tradisies van die Voortrekkers. Hy was ook trots daarop dat hy behoort het tot die Afrikaanse volk, wat hulle tydens hul hele geskiedenis so dapper gedra het.[41]

Sy geaardheid was by uitstek dinamies maar ook emosioneel. Sy imposante figuur, sy akteurstalent, sy vurigheid en sy fyn aanvoeling vir die omstandighede het alles daartoe bygedra dat hy ander kon besiel. Waar hy ook al gewerk het – in die kerk, politiek en diplomasie – het stukrag van hom af uitgegaan. In sy werk het hy altyd ’n sekere buigsaamheid of soepelheid getoon wat geïnspireer is deur sy uitgebreide mensekennis. Dit het hom in staat gestel om hom by elke lewensituasie aan te pas en die beste daarvan te maak, al was dit onder die omstandighede ook hoe moeilik. Dit het hy getoon as banneling, gevangene, predikant, redevoerder en sportman. Hy het die seldsame gawe gehad om ’n netelige situasie te beredder deur die juiste woord te sê. Hierin het sy fyn humorsin nuttig te pas gekom.[42]

Van Broekhuizen was ’n man van teenstelling: ondank sy buigsaamheid kon hy soms star en onverdraagsaam wees. Vir sy volkshelde soos pres. Paul Kruger en genls. C.F. Beyers en Hertzog sou hy sy lewe opoffer, maar dié wat hom nie goedgesind was nie, soos genls. Louis Botha en Jan Smuts, het hy verguis. ’n Middeweg het hy nie geken nie, veral nie wanneer hy gemeen het hy sien onopregtheid nie. Tog was hy ’n man van ruim beginsels, allermins ’n dweper, en vergewensgesind omdat hy terdeë van sy eie tekortkominge bewus was.[43]

Hy was altyd bereid om te help; by hom het geldelike gewin nie getel nie. Hy het gul en graag gegee en steeds het sy huis gasvry oopgestaan. Tog was hy gesteld op invloed en mag, en het hy graag in die middelpunt gestaan; daarom was sy jare as Suid-Afrika se gesant in Nederland vir hom die mooiste van sy lewe.[44]

Sien ook

[wysig | wysig bron]
Die buiteblad van Van Broekhuizen se boek Die Wordingsgeskiedenis van die Hollandse Kerke in Suid-Afrika, 1652–1804, wat in 1922 verskyn het.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Vermaak, Adinda. 2003. Kroniek van ’n kontrei. Die verhaal van die NG Kerk Kuilsrivier. Kuilsrivier: NG Kerkraad.
  • (af) Craven, Danie en Jordaan, Piet. 1955. Met die Maties op die rugbyveld 1880–1955. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.
  • (af) Beyers, C.J. 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) Bpk.
  • (af) Stockenström, Andries. 1957. Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde gemeente Ficksburg, 1869 tot 1957. Die Kerkraad: Ficksburg.
  • (af) Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1955. Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria 1855–1955. Pretoria: NH kerkraad.
  • (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
  • (en) Potgieter, D.J. 1975. Standard Encyclopaedia of Southern Africa Deel 11. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (af) Vermaak, Adinda. 2003. Kroniek van ’n kontrei. Die verhaal van die NG Kerk Kuilsrivier. Kuilsrivier: NG Kerkraad.
  2. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  3. (af) Die lief en leed van oom Paul se kleindogters. URL besoek op 29 September 2015.
  4. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  5. (af) Grey College Rugby Springboks. URL besoek op 30 September 2015.
  6. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  7. (en) Some interesting Springbok trivia. URL besoek op 30 September 2015.
  8. (af) Grey College Rugby Springboks. URL besoek op 30 September 2015.
  9. (en) Springboks by school. URL besoek op 30 September 2015.
  10. (af) J.M.N. Breedt, ds. 1947. Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Nieuwoudtville 1897–1947. Nieuwoudtville: NG Kerkraad.
  11. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  12. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  13. (af) Vermaak, Adinda. 2003. Kroniek van ’n kontrei. Die verhaal van die NG Kerk Kuilsrivier. Kuilsrivier: NG Kerkraad.
  14. (en) Anglo-Boer War Museum. Paul Kruger. URL besoek op 1 Oktober 2015.
  15. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  16. (en) Anglo-Boer War Museum. Paul Kruger. URL besoek op 1 Oktober 2015.
  17. (en) Potgieter, D.J. 1975. Standard Encyclopaedia of Southern Africa Deel 11. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  18. (nl) Dreyer, eerw. A. 1907. Historisch Album van de Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika. Kaapstad: Cape Times Beperkt.
  19. (en) Genealogiese besonderhede op Geni.com. URL besoek op 29 September 2015.
  20. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  21. (nl) Dreyer, eerw. A. 1907. Historisch Album van de Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika. Kaapstad: Cape Times Beperkt.
  22. (af) HTS Teologiese Studies. URL besoek op 1 Oktober 2015.
  23. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  24. (af) Thom, prof. H.B. (sameroeper) 1966. Stellenbosch 1866–1966 Honderd jaar hoër onderwys. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.
  25. (nl) Wij zullen handhaven in PDF-formaat. URL besoek op 30 September 2015.
  26. (en) Potgieter, D.J. 1975. Standard Encyclopaedia of Southern Africa Deel 11. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  27. (af) Beyers, C.J. 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) Bpk.
  28. (nl) Statevertaling. URL besoek op 29 September 2015.
  29. (nl) Statevertaling. URL besoek op 29 September 2015.
  30. (af) Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1955. Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria 1855–1955. Pretoria: NH kerkraad.
  31. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  32. (af) Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910–1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.
  33. (af) Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910–1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.
  34. (af) Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910–1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.
  35. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  36. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  37. (af) Vermaak, Adinda. 2003. Kroniek van ’n kontrei. Die verhaal van die NG Kerk Kuilsrivier. Kuilsrivier: NG Kerkraad.
  38. (nl) Historische Kranten. URL besoek op 30 September 2015.
  39. (af) Beyers, C.J. 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) Bpk.
  40. (af) Beyers, C.J. 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Durban en Pretoria: Butterworth & Kie (SA) Bpk.
  41. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  42. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  43. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.
  44. (nl) Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951–1953. 1954. Leiden: E.J. Brill.