George Bernard Shaw
George Bernard Shaw
Ierse toneelskrywer en politieke aktivis
Literêre genres
Satire, swart komedie
Literêre stroming
Ibsenisme, naturalisme
Beduidende werke
George Bernard Shaw (* 26 Julie 1856 in Dublin, Ierland; † 2 November 1950 in Ayot Saint Lawrence, Engeland) was 'n Ierse dramaturg en medestigter van die London School of Economics. Hoewel hy hom aanvanklik as musiekresensent en literêre kritikus onderskei het, het hy sy ware talent as toneelskrywer getoon.
Meer as sestig toneelstukke het uit sy pen gevloei, benewens essays, romans en kortverhale. Ofskoon hy in byna al sy geskrifte die maatskaplike vraagstukke van sy tyd aanspreek, het die werke gewoonlik 'n komiese inslag waardeur Shaw hul strak temas meer verteerbaar maak.
Hy het hom onder meer toegespits op kwessies rondom opvoeding, die getroude lewe, godsdiens, regeringsake, gesondheidsorg en klassebevoorregting.
Wat veral sy toorn ontsteek het, was ekonomiese toestande wat hy as uitbuiting van die werkersklas beskou het. As vurige sosialis het Shaw talle brosjures en toesprake vir die Fabian Society geskryf. Hy het 'n bekwame redenaar geword om sy saak te bevorder en vir gelyke regte vir mans en vroue, verbeterde werk- en lewensomstandighede vir die werkersklas, die opheffing van private eienaarskap van produktiewe grond en gesonde leefstyle gepleit. Vir 'n kort tyd het hy as lid van die London County Council ook aktief aan die plaaslike politieke lewe deelgeneem.
In 1898 het Shaw met Charlotte Payne-Townshend, 'n medelid van die Fabian Society, getrou en haar later oorleef. Die egpaar het hulle in Ayot St. Lawrence gevestig en daar 'n huis bewoon wat tans as Shaw's Corner bekend staan. Hier is Shaw in 1950 in die ouderdom van 94 oorlede nadat beserings, wat hy opgedoen het toe hy van 'n leer geval het, tot chroniese gesondheidsprobleme gelei het.
Shaw se werk toon 'n groot variasie wat sowel vorm as inhoud betref. Hy het tragedies en komedies geskryf en sy onderwerpe uit die hede en die verlede geneem. Die hoofkarakters is altyd in konflik met die godsdiens, sedes, gewoontes of politiek van ʼn bepaalde tyd. Shaw se knap taalgebruik en insig in dramatiese situasies het sy stukke egter bo loutere propaganda verhef.
Mrs. Warren's profession (1893), Arms and the man (1894), Candida (1894) en You never can tell (1895) behoort tot Shaw se bekendste vroeëre werke. In Caesar and Cleopatra (1898) het hy 'n tema uit die geskiedenis geneem, terwyl hy in Man and superman (1903) ʼn moderne interpretasie van die ou Don Juan-tema weergegee het. ʼn Gedeelte uit laasgenoemde stuk, "Don Juan in hell", word dikwels afsonderlik opgevoer.
Die godsdienstig georiënteerde Major Barbara (1905) het as rolprent bekend geword terwyl die beroemde blyspel Pygmalion (1912), waarin ʼn arm blommeverkoopster, Eliza Doolittle, spraaklesse van prof. Henry Higgins ontvang, in 1956 verwerk is tot die musiekblyspel My fair lady. Die stryd van Jeanne d'Arc, wat in Saint Joan (1923) uitgebeeld is, word as Shaw se beste werk beskou.
Hy self het sy Back to Methuselah (1921), wat uit vyf toneelstukke bestaan, as sy meesterstuk beskou. Sedert die verskyning van Plays: pleasant and unpleasant (1898), waarin sy eerste toneelstukke versamel is, het Shaw sy stukke van breedvoerige toneelaanwysings en voorwoorde voorsien. Hierdie bykomende kommentaar, wat later gebundel is, gee 'n goeie insig in sy werk.
Sy menings oor die toneel is saamgevat in Dramatic opinions and essays (1907) en The perfect Wagnerite (1898), 'n studie oor Wagner se werk. Sy belangstelling in die ekonomiese problematiek is vervat in The intelligent woman's guide to socialism and capitalism (1928).
'n Uitvloeisel van hierdie besoek was die godsdienstige fabel The adventures of the black girl in her search for God. In 1943 is Shaw se vrou, Charlotte, oorlede, en daarna het hy Londen verlaat en hom op sy landgoed by Ayot St. Lawrence in Hertfordshire gaan vestig. Hy is op 2 November 1950 oorlede.
Shaw is die enigste skrywer wat sowel met die Nobelprys vir Letterkunde (in 1925[1]) asook die Akademieprys (Oscar) bekroon is – vir sy bydraes tot die letterkunde en die rolprent Pygmalion wat in 1938 ontstaan het. Shaw was oorspronklik van voorneme om die Nobelprys vir Letterkunde van die hand te wys omdat hy geen belang in openbare verering gestel het nie, maar het dit uiteindelik op versoek van sy vrou aanvaar aangesien sy die prys as 'n huldeblyk vir Ierland beskou het. Op versoek van Shaw is die prysgeld aangewend vir die vertaling van Sweedse boeke na Engels.[2]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "The Nobel Prize in Literature 1925" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2018. Besoek op 7 Oktober 2017.
- ↑ A.M. Gibbs: Bernard Shaw: A Life. Gainesville, FL: University Press of Florida 2005, bl. 375-376
Bronne
[wysig | wysig bron]- Hugo, Leon: G.B.S. in Cape Town. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 22, nr. 2, Desember 1972
- Thomas, Sue: George Bernard Shaw - Irish Deserter? In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 32, nr. 1, Desember 1982
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409664, volume 25, bl., 100
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie George Bernard Shaw.