Gaan na inhoud

Chronologie van die antieke Nabye Ooste

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die chronologie van die antieke Nabye Ooste is ’n raamwerk van datums vir gebeure, heersers en dinastieë. Historiese inskripsies en tekste dui gebeure gewoonlik aan volgens ’n opeenvolging van amptenare of heersers: "in die jaar X van koning Y". Deur baie rekords te vergelyk kan ’n relatiewe chronologie van datums bepaal word in stede oor ’n groot gebied.

Millenniums

[wysig | wysig bron]

Vir die 1ste millennium v.C. kan die relatiewe chronologie verbind word met werklike kalenderjare deur belangrike sterrekundige gebeure te identifiseer. ’n Inskripsie uit die 10de bewindsjaar van die Assiriese koning Ashur-Dan III verwys na ’n sonsverduistering, en sterrekundige berekenings van die aantal moontlike datums bepaal dat die verduistering op 15 Junie 763 v.C. plaasgevind het. Dit kan bevestig word deur ander sterrekundige voorvalle wat aangeteken is en so kan ’n absolute chronologie bepaal word wat die relatiewe chronologie met die Gregoriaanse kalender verbind.

Vir die 3de en 2de millennium v.C. is dié verband minder seker. ’n Sleuteldokument is die Venus-tablet van Ammisaduqa in wigskrif, wat rekord gehou het van sterrekundige waarnemings van Venus gedurende die bewind van die Babiloniese koning Ammisaduqa, wat die vierde heerser ná Hammurabi was in die "relatiewe kalender". Die konjunksie van die opkoms van Venus met die donkermaan verskaf ’n verwysingspunt, of eerder drie punte, want die konjunksie is ’n periodieke verskynsel. Deur ’n Ammisaduqa-konjunksie met een van hierdie berekende konjunksies te verbind sal die troonbestyging van Hammurabi byvoorbeeld vasgestel kan word op óf 1848 óf 1792 óf 1736 v.C.; dit is bekend as die "lang", "middel-" en "kort" chronologie.

Vir die 3de en 2de millennium v.C. kan die volgende tydperke onderskei word:

  1. Vroeë Bronstydperk: ’n Reeks heersers en dinastieë wie se bestaan hoofsaaklik geskoei is op die Sumeriese Koningslys, buiten ’n paar wat met inskripsies bevestig kan word. Geen absolute datums met ’n sekerheid van minder as ’n eeu kan aan dié tydperk toegeskryf word nie.
  2. Middel- tot laat Bronstydperk: Vanaf die Akkadiese Ryk omstreeks 2300 v.C. word die chronologiese bewyse meer konsekwent. ’n Goeie beeld kan gevorm word van wie vir wie opgevolg het en ooreenkomste tussen Mesopotamië, die Levant en antieke Egipte kan vasgestel word. Die toekenning van absolute datums is debatteerbaar; die konvensionele middelchronologie bepaal dat die verwoesting van Babilon in 1595 v.C. plaasgevind het, terwyl die kort chronologie die datum vasstel op 1531 v.C.
  3. Die verval van die Bronstydperk: ’n "Donker eeu" het begin met die val van Babilonië se Dinastie III (Kassities) omstreeks 1200 v.C., die inval van die Seevolke en die val van die Hetitiese Ryk.
  4. Vroeë Ystertydperk: Omstreeks 900 v.C. word geskrewe rekords weer talryker met die opkoms van die Nieu-Assiriese Ryk, en dit sorg vir betroubare absolute datums. Klassieke bronne soos die Kanon van Ptolemaeus, die werk van die Babiloniese skrywer en sterrekundige Berossus en die Hebreeuse Bybel verskaf chronologiese ondersteuning en ooreenkomste. ’n Sonsverduistering in 763 v.C. maak die datums van die Assiriese lys van keiserlike amptenare seker.

Skakels

[wysig | wysig bron]