Webb se Eerste Diepveld
Webb se Eerste Diepveld is die eerste amptelike foto wat die James Webb-ruimteteleskoop geneem het. Dit is van die sterrestelselswerm SMACS 0723, wat 4,6 miljard ligjare van die Aarde af geleë is. Dit is op 11 Julie 2022 aan die wêreld uitgereik en dek 'n klein deeltjie van die lug wat uit die Suidelike Halfrond sigbaar is. Duisende sterrestelsels is sigbaar op die foto, wat die beeld met die hoogste resolusie is wat nog van die vroeë heelal geneem is.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Infrarooi-astronomie word met die James Webb-ruimteteleskoop onderneem. Webb se Eerste Diepveld is deur die teleskoop se NIRCam geneem en is 'n samestelling van beelde teen verskillende golflengtes. Dit het altesaam 12,5 uur geduur om te neem.[1][2]
Met die foto is dieptes bereik van infrarooigolflengtes verder as die Hubble-ruimteteleskoop se diepste velde, wat weke geduur het om te neem. Die ruimtetuig wentel sedert 24 Januarie 2022 af om die Aarde-Son se tweede Lagrange-punt (L2), sowat 1,5 miljoen km van die Aarde af. By L2 hou die gravitasie van beide die Son en Aarde die teleskoop se beweging om die Son gesinchroniseerd met die Aarde s'n.[3]
SMACS 0723 is 'n sterrestelselswerm wat uit die Aarde se Suidelike Halfrond sigbaar is[4] en is al dikwels ondersoek deur Hubble en ander teleskope wat op soek is na die verre verlede.[3]
Wetenskaplike resultate
[wysig | wysig bron]Die foto wys die sterrestelselswerm SMACS 0723 soos dit 4,6 miljard jaar gelede gelyk het.[2] Dit dek 'n deel van die lug omtrent so groot soos 'n sandkorrel soos van die Aarde af gesien.[1] Baie van die voorwerpe het merkbare rooiverskuiwings ondergaan vanweë die uiterse afstand van die lig wat deur hulle uitgestraal word.[5]
Die gekombineerde massa van die swerm dien as gravitasielens en vergoot die verder geleë sterrestelsels daaragter. Webb se NIRCam het die afgeleë sterrestelsels in skerp fokus gebring en klein, dowwe strukture onthul wat nog nooit gesien is nie, insluitende sterreswerms.[1]
Betekenis
[wysig | wysig bron]Die diepveld is van die oudste deel van die heelal wat nog afgeneem is.[6] Duisende sterrestelsels, waarvan sommige van die dofste voorwerpe is wat nog in infrarooi waargeneem is, is op Webb se foto te sien.[7][1]
Dit is op 11 Julie 2022 die eerste keer op 'n Withuisfunksie deur die Amerikaanse president Joe Biden aan die wêreld onthul.[3]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 Garner, Rob (11 Julie 2022). "NASA's Webb Delivers Deepest Infrared Image of Universe Yet". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Julie 2022. Besoek op 11 Julie 2022.
- ↑ 2,0 2,1 "Webb's first deep field" (in Engels). European Space Agency. 12 Julie 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2022. Besoek op 11 Julie 2022.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 Overbye, Dennis; Chang, Kenneth; Tankersley, Jim (11 Julie 2022). "Biden and NASA Share First Webb Space Telescope Image". The New York Times (in Engels (VSA)). ISSN 0362-4331. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2022. Besoek op 12 Julie 2022.
- ↑ "SRELICS". IRAS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2022. Besoek op 12 Julie 2022.
- ↑ Isabella Isaacs-Thomas (11 Julie 2022). "Here's the deepest, clearest infrared image of the universe ever produced". PBS.
- ↑ Strickland, Ashley (11 Julie 2022). "President Biden reveals the James Webb Space Telescope's stunning first image". CNN. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2022. Besoek op 12 Julie 2022.
- ↑ Chow, Denise (11 Julie 2022). "The Webb telescope's first full-color photo is here — and it's stunning". NBC News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2022. Besoek op 11 Julie 2022.
Skakels
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.