Gaan na inhoud

The Jewel of Seven Stars

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
The Jewel of Seven Stars
SkrywerBram Stoker
LandBrittanje
TaalEngels
GenreRiller
UitgewerHeinemann
Uitgegee1903
MediumDruk (hardeband)
Bladsye337

The Jewel of Seven Stars is 'n rillerroman deur die Ierse skrywer Bram Stoker wat die eerste keer in 1903 gepubliseer is. Die storie is 'n vertelling in die eerste persoon van 'n jong man wat betrokke raak by 'n argeologiese plan om koningin Tera, 'n antieke Egiptiese mummie, te laat herleef. Dit verken temas soos imperialisme, die opkoms van die Nuwe Vrou en feminisme.

Die eerste Amerikaanse uitgawe is in 1904 deur Harper & Brothers uitgegee.[1][2]

Storielyn

[wysig | wysig bron]

Malcolm Ross, 'n jong advokaat, word in die middel van die nag wakker gemaak en ontbied na die huis van die beroemde Egiptoloog Abel Trelawny op versoek van Trelawny se dogter, Margaret, op wie Malcolm verlief is. Toe Malcolm by die huis aankom, word hy begroet deur Margaret, superintendent Dolan en dokter Winchester. Hy hoor hoekom hy ontbied is: Margaret het vreemde geluide in haar vader se slaapkamer gehoor en hom bewusteloos en vol bloed op die vloer van die kamer gekry. Hy was in 'n soort beswyming. Margaret sê haar pa het 'n brief met vreemde instruksies gelos ingeval iets met hom gebeur. Daarin staan sy liggaam moenie uit sy kamer verwyder word nie en hy moet te alle tye dopgehou word totdat hy wakker word. Die kamer is vol Egiptiese relieke en Malcolm kom agter die mummiereuk het 'n invloed op die mense in die kamer. 'n Groot mummiekat in die kamer ontstel Margaret se kat, Silvio, en die dokter vermoed dit is Silvio wat krapmerke op Trelawny se arm gelaat het.

Bram Stoker, die skrywer van The Jewel of Seven Stars.

Tydens die eerste nagwaak word Malcolm wakker en kry Trelawny weer op die vloer, bebloed en bewusteloos. Ná 'n normale nag sonder enige verdere voorvalle daag 'n vreemdeling by die huis op en smeek om Trelawny te sien. Hy sê hy is Eugene Corbeck, 'n Egiptoloog wat saam met Trelawny gewerk het. Hy het van Egipte af gekom met lampe wat Trelawny gevra het, maar het by sy aankoms by die huis agtergekom die lampe is weg.

Die volgende dag bewonder Malcolm en Margaret Trelawny se Egiptiese skatte en merk veral 'n groot sarkofaag op, asook 'n kis bedek met hiërogliewe en 'n buitengewoon goed bewaarde mummiehand met sewe vingers. Malcolm ontdek die vermiste lampe in Margaret se slaapkamer. Hy is bekommerd oor Margaret en vertel vir Corbeck alles wat gebeur het voor sy aankoms. Corbeck gee Malcolm 'n geheimsinnige boek om te lees. Daarin word die verhaal vertel van Nicholas van Huyn, 'n Nederlandse verkenner wat na die Vallei van die Towenaar reis om die grafkelder van 'n geheimsinnige Egiptiese koningin, Tera, te besigtig. In die grafkelder ontdek hy 'n sarkofaag en 'n mummiehand met sewe vingers. Aan die vingers is 'n robynring met sewe punte wat soos sterre lyk.

Corbeck vertel vir Malcolm hy en Trelawny het jare tevore na Egipte gereis om te soek na die grafkelder waarin die sarkofaag is. Hulle het die grafkelder gekry en ontdek die mummie se pols is vol vars, droë bloed. Die hiërogliewe teen die muur het Corbeck en Trelawny laat glo die mummie is deur 'n soort swartmagie oorgeneem en dat koningin Tera ontsaglike mag oor die Bo- en Onderwêreld het. Die hiërogliewe het laat blyk dat koningin Tera beplan om uit die dode op te staan.

Hulle het die sarkofaag uit die grafkelder verwyder, maar is tydens 'n storm deur hulle Arabiese gidse beroof. Trelawny het voorgestel hulle keer terug na die grafkelder, en daar het hulle die mummie en drie Aarabiere gekry. Die Arabiere was vermoor. In die grafkelder is hulle in 'n soort beswyming geplaas en toe hulle drie dae later herstel, het hulle gehoor Trelawny se vrou is tydens hulle baba se geboorte oorlede, maar Margaret het oorleef. Sestien jaar het verbygegaan voordat Trelawny vir Corbeck gekontak het. Hy was rasend, want hy het geglo die lampe wat hulle in die grafkelder gesien het, kan in 'n spesifieke vorm gerangskik word en sal veroorsaak dat die kis oopgaan, en dit was moontlik die sleutel tot Tera se herrysenis.

Corbeck se storie word onderbreek toe Trelawny bykom. Hy omhels sy dogter. Dolan en die polisie gaan weg en Trelawny verduidelik aan die oorblywendes sy Groot Eksperiment. Hy beskryf hoe magtig koningin Tera was en dat haar gees in die mummiekat in sy slaapkamer is; dit wag om met sy menslike vorm herenig te word. Trelawny glo die kis, wanneer dit met die regte plasing van die lampe oopgemaak word, sal 'n soort towerkrag vrylaat wat die mummie sal laat herlewe en Tera se gees sal terugbring. Die aanval op Trelawny was 'n poging van Tera se astrale liggaam – die mummiekat – om die Juweel van die Sewe Srerre uit 'n toegesluite kluis in sy slaapkamer te kry. Hy onthul hy het 'n afgesonderde huis by Kyllion, in Cornwall, voorberei waar sy eksperiment kan plaasvind.

Nadat al dié inligting bekend gemaak is, bevraagteken Malcolm die implikasies van 'n wisselwerking tussen antieke magte en die nuwe beskawing. Hy is bekommerd oor die uitwerking op godsdiens en monoteïsme as die mag van die antieke Egiptiese gode korrek bewys word. Trelawny vertel hy meen die antieke Egiptenare het hedendaagse wetenskaplike kennis gehad, soos die ontdekking van radium en die uitvinding van elektrisiteit.

Toe almal by die nuwe huis aankom, word Margaret se gedrag al hoe onreëlmatiger en openbaar sy 'n ongewone kennis van Tera se gedagtes en gevoelens. Malcolm begin vermoed Margaret is die astrale liggaam van Tera en is bang sy sal te swak wees om 'n besitneming af te weer. Toe hy dit egter met Trelawny en Margaret bespreek, lyk dit of hulle nie bang is vir so 'n moontlikheid nie.

Op die aand van die eksperiment woed 'n wilde storm buite terwyl hulle die grot onder die huis voorberei. Hulle begin die mummie oopdraai. Malcolm kry opdrag om die elektriese ligte aan te sit wanneer die eksperiment verby is, en Margaret blaas die kerse dood. Toe die lampe aangesteek word, begin die kis gloei en gee dit 'n groen walm af wat in die sarkofaag intrek. Skielik waai die storm buite 'n venster uit en die walm word in die kamer rondgewaai. Swart rook trek uit die kis. Die kamer is vol rook en Malcolm wag vir die opdrag om die ligte aan te sit, maar dit kom nooit. Die lampe brand stadig uit en Malcolm voel in die donker rond. Hy kom op die slap liggaam van 'n vrou af, wat hy glo Margaret is. Hy dra haar met die trap op en los haar in die gang, en hy gaan soek vuurhoutjies. Toe hy terugkeer, ontdek hy net Tera se rok op die vloer lê, met die Juweel van Sewe Sterre in die plek van waar die hart moes wees. Hy keer terug na die grot en sien al sy metgeselle lê dood op die vloer.

In 'n hersiene uitgawe van 1912 is die einde verander. Daarin misluk die eksperiment, niemand kom iets oor nie en Margaret en Malcolm trou 'n paar jaar later.

Karakters

[wysig | wysig bron]
  • Malcolm Ross: Die hoofkarakter en verteller. Hy word betrek by die geheim van koningin Tera deur sy liefde vir Margaret Trelawny. Sy begeerte om haar te beskerm bepaal die meeste van sy dade.
  • Abel Trelawny: 'n Beroemde Egiptoloog wat obsessief raak met die idee om Tera te laat herlewe. Hy is 'n ambisieuse en vreeslose man wat glo die antieke Egiptenare was ver voor die hedendaagse Britte wat vooruitgang betref.
  • Margaret Trelawney: Die dogter van Abel wat gebore is terwyl Abel in Tera se grafkelder in 'n beswyming was. Sy is in die begin onskuldig en minsaam, maar word al hoe onafhankliker. Sy begin al hoe meer soos Tera optree en is moontlik deur Tera se gees oorgeneem.
  • Eugene Corbeck: 'n Egiptoloog wat Trelawny help om Egiptiese relieke te ontdek Hy stel meer in die relieke belang as om Tera op te wek.

Historiese agtergrond

[wysig | wysig bron]

Egiptomanie

[wysig | wysig bron]

In 1882 het die Britte Egipte beset en 'n groot invloed op die land begin uitoefen.[3] Die betowering met Egipte in die Victoriaanse tydperk het egter aan die begin van die 19de eeu al 'n aanvang geneem, toe die Europese verkenning van Egipte begin het. Argeologiese ontdekkings van Egiptiese grafkelders en monumente soos Cleopatra se Naald en die Rosettasteen het Europese geleerdes en reisigers se belangstelling gewek.[4] Die besetting van Egipte het dit makliker gemaak om dié monumente na Brittanje te neem, en daar was gou 'n vraag na antiekhede uit Egipte in privaat huise en in museums. Huise is ook versier met Egiptiese ontwerpe en artefakte.[5]

Egiptologie en die betowering met antieke artefakte is in die letterkunde van die 19de eeu weerspieël. Tussen 1860 en 1914 is honderde stories oor Egiptiese mummies, vloeke en verkennings gepubliseer. Roger Luckhurst noem dié neiging "Egiptiese Gotiek", "'n stel geloofsoortuigings of kennisse in 'n losse okkultiese raamwerk" wat ontwikkel het in antwoord op Britse vrese oor die heerskappy van Egipte.[6] 'n Algemene storielyn was die "mummievloek", oor die peutery met artefakte met dodelike gevolge;[7] dié artefakte was dikwels in besit geneem deur die een of ander bonatuurlike element.

Baie van die mummies was van farao's en mense was verstom oor die feitlik perfekte bewaring daarvan.[8]

Koningin Hatsjepsoet

[wysig | wysig bron]

Hoewel koningin Tera 'n heeltemal fiktiewe karakter is, toon sy baie ooreenkomste met koningin Hatsjepsoet, 'n farao wat van 1479-'58 v.C. oor Egipte regeer het. Sy was een van die eerste en min vroulike farao's. Sy is met haar halfbroer, Toetmoses II, getroud. Hy het van 1492 v.C. tot met sy dood in 1479 v.C. regeer. In dié stadium het Hatsjepsoet die regent van Toetmoses se seun by 'n byvrou geword. Sy het egter die troon oorgeneem en haarself tot heerser verklaar.

Die sfinks van Hatsjepsoet in die Metropolitan Museum of Art.

Omdat die heersers hoofsaaklik mans was, het Hatsjepsoet die openbare beeld van haar vroulike self verander; alle "beelde van haar ná haar kroning beeld haar as 'n man uit – met breë skouers, smal heupe en geen teken van borste nie".[9]

Sowat 20 jaar ná haar dood in 1458 v.C. is haar naam en beelde verwyder van tempelmure en baie van haar standbeelde is vernietig. Dorman glo dit was nie persoonlike vyandigheid nie, maar eerder 'n poging om alle bewyse van 'n vroulike heerser uit te wis, "om die moontlikheid te voorkom dat nog 'n magtige vrou haar tot die lang lys manlike heerers wil voeg".[10]

Die grafkelder van koningin Hatsjepsoet is vroeg in 1903 deur Howard Carter ontdek in die Vallei van die Konings (soortgelyk aan die Vallei van die Towenaar, waar Tera in die roman ontdek word).[11] Die ooreenkomste tussen die twee is volgens Hebblethwaite "amper te openlik om blote toeval te wees";[12] albei is uiters magtige vroulike heersers wat die rol van 'n man aangeneem het. Nes Hatsjepsoet haar in 'n man omtower het, word in Tera se grafkelder gevind dat "prominensie gegee is aan die feit dat sy, hoewel 'n koningin, aanspraak gemaak het op koningskap en manlikheid. Op een plek word sy uitgebeeld in 'n man se klere en met die Wit en Rooi Kroon. In die volgende beeld het sy 'n rok aan, maar sy dra steeds die krone van Bo- en Benede-Egipte, terwyl die uitgetrekte manlike kledingstuk aan haar voete lê."[13]

Dit lyk ook of albei vroue weet hulle nalatenskap sou venietig word. In die roman laat Tera 'n inskripsie agter dat sy beplan om te herrys, asook dat die priesters ná haar dood sal beplan om haar naam te onderdruk.[14] 'n Soortgelyke inskripsie oor die onderdrukking van haar naam is op 'n obelisk by Hatsjepsoet se tempel gevind.[10]

Bram Stoker

[wysig | wysig bron]

Stoker se eie kennis van Egiptologie kan gesien word in sy noukeurige aandag aan historiese akkuraatheid in The Jewel of Seven Stars. Die Egiptiese artefakte word in fyn besonderhede beskryf, daar is verwysings na Egiptoloë soos Flinders Petrie en "die baie vermeldings van antieke Egiptiese gode, begrafnispraktyke en tradisionele gebruike waarvan die roman vol is, getuig van die skrywer se diepgaande kennis van die onderwerp".[15] Stoker was in Trinity College Dublin, waar baie Egiptoloë en Oriëntaliste studeer het.[16] Volgens baie biografieë van Stoker, was hy bevriend met sir William Wilde, die vader van Oscar Wilde, wat 'n Egiptologiese geesdriftige was, en hy het baie stories oor sy avonture met Stoker gedeel. Op een reis in 1837 het Wilde 'n mummie buite 'n grafkelder naby Saqqara ontdek en dit teruggebring na Dublin; Volgens Belford sou dit Stoker later inspireer om 'n storie oor mummies te skryf.[17]

Stoker het self ook verwys na sy vriendskap met 'n Oriëntalistiese ontdekkingsreisiger, sir Richard Francis Burton. Hy was 'n ontdekker in die Midde-Ooste en Afrika, en het baie verhale oor sy reise geskryf.[18] Stoker is geïnspireer deur die baie stories van Egipte wat hy gehoor het en het Egiptologie bestudeer. Hy het verskeie geskrifte oor die onderwerp besit, insluitende William Wilde se Narratives of a Voyage to Madeira en Flinders Petrie se Egyptian Tales Translated from the Papyri.[19]

Temas

[wysig | wysig bron]

Oud teen nuut

[wysig | wysig bron]
Radioaktiwiteit is kort voor die publikasie van Stoker se roman deur Pierre en Marie Curie ontdek.

'n Groot kwessie in The Jewel of Seven Stars is die spanning tussen die Ou Wêreld en die Nuwe Wêreld wat vooruitgang betref. Die laat 19de eeu was 'n tyd van uitvindings en modernisasie, en die roman bevraagteken voortdurend die mag van die verlede in vergelyking met dié moderne tegnologiese en wetenskaplike uitvindings. Senf meen "Stoker was bewus van die wetenskaplike en kulturele ontwikkelings wat om die eeuwisseling plaasgevind het, hy was gafassineer deur tegnologiese ontwikkelings... Stoker het die toekoms soms beskou as vol oneindige moontlikhede vir verbetering, [en] soms heeltemal oorgelewer aan primitiewe magte".[20] Dit word geïllustreer in die hoofstuk met die gepaste titel "Powers – Old and New", waar Malcolm wonder oor die gevolge van Tera se herrysenis op die bestaande Britse geloofsoortuigings. Dit lyk of die rigting van sy gedagte in dié hoofstuk, wat uit die 1912-uitgawe gesny is, daaroor gaan dat die antieke Egiptiese gemeenskap meer vooruitstrewend was as die 19de-eeuse Engeland, beide spiritueel en wetenskaplik.

Malcolm besef in dié hoofstuk Tera se herrysenis sal die basiese Christelike geloof in monoteïsme skud deur te bewys die godsdienstige beginsels van die Egiptenare hou meriete en waarheid in.[21] Net hierna stel Trelawny voor die Egiptenare het elektrisiteit en radioaktiwiteit lank voor die 19de-eeuse wetenskaplikes ontdek. Soos Hebblethwaite verduidelik, is radioaktiwiteit kort tevore deur Pierre en Marie Curie ontdek, omtrent met die tyd van The Jewel of Seven Stars se publikasie, en "elektriese gloeilampe is maar net begin gebruik in huise. Deur Stoker se hele roman is daar 'n onderliggende sin van wonder oor die moderne mens se vermoë om die krag van elektrisiteit in te span".[22] In die lig van die feit dat dié wetenskaplike vooruitgang so nuut was, was die idee dat die antieke Egiptenare dit eeue tevore al gebruik het, selfs verstommender.

Juis omdat The Jewel of Seven Stars heel aan die begin van die 20ste eeu verskyn het, lyk dit of Stoker 'n beroep op sy lesers doen om nie die verlede af te maak as argaïes en onbelangrik nie; daar was waardevolle dinge om te leer en onthou.[23]

Die Nuwe Vrou

[wysig | wysig bron]

Teen die tyd dat Stoker The Jewel of Seven Stars geskryf het, was die bemagtiging en geldingsdrang van die vrou besig om sterker te word. Die eeuwisseling is gekenmerk deur die opkoms van die "Nuwe Vrou": middelklasfeministe wat sosiale en seksuele vryheid gesoek het. Hulle het die genderrolle bevraagteken wat die Britse gemeenskap oorheers het. Jusova verduidelik "die Nuwe Vrou het, deur die Victoriaanse definisies van gender en seksuele identiteit uit te daag, die vrese wat reeds in die Britse middelklasbevolking van die tyd bestaan het, aangeblaas".[24]

'n Politieke spotprent oor die Nuwe Vrou (1890's).

Stoker se ander werke, veral Dracula, is baie krities teenoor die Nuwe Vrou.[25] Namate hulle algemener in die gemeenskap geword het, het hy egter onafhankliker vroue in sy werk uitgebeeld.[26] Dié teenstrydigheid kan in The Jewel of Seven Stars gesien word deur Margaret se transformasie. In die begin is sy 'n bedeesde, onderdanige dogter en niebedreigende liefdesbelangstelling, maar sy neem geleidelik die keraktertrekke van koningin Tera aan en word sterk en selfgeldend. Namate Margaret se vroulike eienskappe sterker word, voel haar manlike eweknieë toenemend bedreig.[27] Hoe meer sy haar vryheid omhels, hoe verder dryf sy van Malcolm af weg. Sy wys soms reguit minagting; dit dien as voorbeeld wat mans vrees sal gebeur as vroue selfstandig word.

'n Illustrasie van Europese mans wat 'n mummie oopdraai, 1886.

Toe die mans in die verhaal probeer om hulle manlike beheer terug te kry, word hulle deur Margaret ondermyn. Deane reken die toegedraaide Egiptiese mummie word uiters geseksualiseer: "'n Vrou wat perfek in haar jeugdige skoonheid bewaar word, lok die erotiese aandag van moderne Britse mans."[28] In die finale toneel draai die mans Tera se lyk openlik en voyeuristies oop, wat volgens Hebblethwaite 'n manier is om die vrou te verneder en weer tot oorgawe te dwing.[12] Tera se nakende, jeugdige liggaam word in besonderhede beskryf terwyl die mans, selfs Malcolm, "al hoe opgewonder raak".[29] Margaret tree egter tussenbeide en eis dat Tera bedek word, en sy verwyder haar van onder die mans se deurdringende blikke. Eindelik word die mans terugverander in die rol van waarnemer en moet hulle Margaret se toestemming kry om voort te gaan. Dit dui op die onbeheerbare aard van die Nuwe Vrou.

Die einde van die roman verskaf 'n dubbelsinnige antwoord vir die kwessie van die Nuwe Vrou, een wat merkbaar verander in die uitgawe van 1912. In die uitgawe van 1903 sterf Margaret en dit bring 'n einde aan haar onafhanklikheid. Die verskyning van Tera se rok in haar plek dui egter daarop dat Tera lewe en van haar manlike gevangenemers ontsnap het: dus 'n positiewe uiteinde vir die Nuwe Vrou. In sterk teenstelling hiermee verander die einde drasties in die 1912-uitgawe: Tera sterf en Margaret trou met Malcolm. Nes in Dracula dui die tweede einde volgens Andrew Smith dat sosiale beheer deur 'n huwelik uitgeoefen kan word.[30]

Ontvangs

[wysig | wysig bron]

Nes Dracula, wat min aandag gekry het tot in die laat 1960's,[31] het The Jewel of Seven Stars min reaksie van 19de-eeuse resensente ontlok. Toe die roman in 1903 uitgereik is, was resensente én lesers verward oor die storie; volgens een resensie sou lesers "hulle bloed laat stol" en "hulle koppe laat draai" om dié "uiters buitengewone storie" te verstaan.[32] 'n Londense koerant, Saturday Review, was nog minder positief: "'n Mens moenie dié boek om middernag in die begraafplaas lees nie, maar dit gryp nie die leser aan soos die beste werk in dié genre nie. Die roman is nie belaglik nie, hoewel dit nie beïndruk nie".[33]

In Stoker se werk is die einde gewoonlik relatief bevredigend, duidelik en optimisties. Die dubbelsinnige, tragiese einde van The Jewel of Seven Stars het lesers verwar. In die 1960's en 1970's, toe resensies van Dracula toegeneem het, is meer van Stoker se minder bekende werk bestudeer, insluitende The Jewel of Seven Stars. Die roman word egter deur resensente beskou as deel van Stoker se volledige werk, eerder as 'n alleenstaande werk soos Dracula.

1912-uitgawe

[wysig | wysig bron]

Toe die roman in 1912 heruitgereik word, was die bespiegelende hoofstuk 16, "Powers – Old & New", verwyder. Die einde is herskryf as 'n reguit, optimistiese slot waarin die eksperiment misluk, almal bly lewe, en Margaret en Malcolm trou. Hoewel Harry Ludlam se biografie van Stoker verklaar die uitgewers het vir die gelukkiger einde gevra, het Stoker dit nooit bevestig nie.[34] Ludlam se verklaring verduidelik ook nie die verwydering van hoofstuk 16 nie. Stoker se eie perspektief op sensuur in 'n essay van 1908 dui daarop dat hy nie sou ingestem het tot sensuur deur 'n uitgewer nie en dat hy dit ten sterkste afgekeur het.[35] Daarom reken William Hughes hy het self verkies om die einde te verander en hoofstuk 16 te verwyder omdat dit riskant was.[36]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "The jewel of the seven stars" (1st US ed). LC Online Catalog. Library of Congress (loc.gov). Besoek op 16 September 2016.
  2. "The Jewel of Seven Stars" (92pp, 1902); "The Jewel of Seven Stars" (162, 280pp, 1903). LC Online Catalog. Besoek op 16 September 2016.
  3. Egypt. In Britannica Online Encyclopedia. Encyclopædia Britannica Inc.
  4. Brier, B. (2013). Egyptomania: Our three thousand year obsession with the Land of the Pharaohs. Palgrave Macmillan. Oktober 2023
  5. Patterson, J. D. (2002). Beyond Orientalism: Nineteenth century Egyptomania and Frederick Arthur Bridgman’s 'The Funeral of a Mummy'. University of Louisville. Oktober 2023
  6. Luckhurst, R. (2012). The mummy’s curse: The true history of a dark fantasy. Oxford University Press. Oktober 2023
  7. Bulfin, Ailise (2011). "The Fiction of Gothic Egypt and British Imperial Paranoia: The Curse of the Suez Canal". English Literature in Transition, 1880-1920. 54 (4): 411–443.
  8. Fleischhack, M (2009). "Vampires and Mummies in Victorian Gothic Fiction". Inklings. 27: 62–77.
  9. Cooney, Kara (2012). "The Woman Who Would Be King". Lapham’s Quarterly.
  10. 10,0 10,1 Wilson, Elizabeth B. (September 2006). "The Queen Who Would Be King". Smithsonian Magazine.
  11. Highfield, Roger (27 Junie 2007). "'How I found Queen Hatshepsut'". The Telegraph.
  12. 12,0 12,1 Hebblethwaite, K. (2008). "Introduction". The jewel of seven stars. New York, NY: Penguin Classics. Oktober 2023
  13. The jewel of seven stars, p.129
  14. The jewel of seven stars, p.129
  15. Hebblethwaite, p.xxi
  16. Lennon, J. (2008). Irish Orientalism: A literary and intellectual history. New York: Syracuse University Press. Oktober 2023
  17. Belford, B. (2002). Bram Stoker and the man who was Dracula. Da Capo Press. Oktober 2023
  18. Stoker, B. (1906). Personal reminiscences of Henry Irving. Londen: Heinemann. Oktober 2023
  19. Hebblethwaite, p.xix
  20. Senf, C.A. (2002). Science and social science in Bram Stoker’s fiction. Greenwood Publishing Group. Oktober 2023
  21. The jewel of seven stars, p.185
  22. Hebblethwaite, p.xxix
  23. Hebblethwaite, xxxv
  24. Jusova, I. (2005). The new woman and the empire. Columbus, OH: The Ohio State University Press. Verkry van http://ohiostatepress.org
  25. Senf, Carol (2007). "Rethinking the New Woman in Stoker's Fiction: Looking at Lady Athlyne". Journal of Dracula Studies. 9 (1).
  26. Hughes, W. (2000). Beyond Dracula: Bram Stoker���s Fiction and its Cultural Context. New York: St. Martin’s Press. Oktober 2023
  27. Hebblethwaite, p.xxiv
  28. Deane, Bradley (2008). "Mummy Fiction and the Occupation of Egypt: Imperial Striptease". English Literature in Transition, 1880-1920. 51 (4): 381–410. doi:10.2487/elt.51.4(2008)0029. S2CID 161374315.
  29. The jewel of seven stars, p.233
  30. Smith, Andrew (Mei 2004). "Love, Freud, and the Female Gothic: Bram Stoker's The Jewel of Seven Stars". Gothic Studies. 6 (1): 80–89. doi:10.7227/GS.6.1.8.
  31. Lynch, J. (Ed.). (2009). Critical insights: Dracula. Salem Press. Oktober 2023
  32. (1903). Some novels of the season. The Review of Reviews, (28), p.638. Oktober 2023
  33. (19 Desember 1903). "The Jewel of Seven Stars". Saturday review of politics, literature, science, and art. p.768. Oktober 2023
  34. Ludlam, H. (1977). A biography of Bram Stoker: Creator of Dracula. New English Library. Oktober 2023
  35. Stoker, B. (1908, September). The censorship of fiction. The nineteenth century and after: A monthly review.
  36. Hughes, William (1994). "Profane Resurrections: Bram Stoker's Self-Censorship in The Jewel of Seven Stars". GothicK: Origins and Innovations. pp. 132–139. doi:10.1163/9789004483743_014. ISBN 978-90-04-48374-3.

Skakels

[wysig | wysig bron]