Renzo Piano
Renzo Piano | |
---|---|
Renzo Piano in 2015 | |
Gebore | 14 September 1937 |
Nasionaliteit | Italië |
Beroep | Argitek |
Bekend vir | Centre Georges Pompidou Parco della Musica The Shard The New York Times Building |
Renzo Piano (* 14 September 1937 in Genua, Italië) is een van die beroemdste argitekte van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu en staan veral bekend vir sy buitengewone verbinding van argitektuur en nuwe tegnologieë.
Ná sy opleiding by die argitektuurskool van die Milaanse Politecnico het hy tussen 1965 en 1970 met Louis Kahn in Philadelphia en Makowsky in Londen en van 1971 tot 1977 met Richard Rogers saamgewerk.
Die belangrikste gemeenskaplike projek, wat Piano saam met Rogers ontwerp het, is die Centre Georges Pompidou (Georges Pompidou-sentrum) in Parys (Frankryk). Hierdie projek het van Renzo Piano 'n argitek van wêreldfaam gemaak. Die Centre, wat ook as Beaubourg bekend staan, dien as 'n kulturele sentrum vir moderne kuns, letterkunde, musiek en industriële ontwerp. 'n Deel van die gebou huisves kantore, restourante, winkels, teaters en parkeerplekke.
Die groot sukses van die sentrum, wat nou sowat 25 000 besoekers per dag lok, is ook aan sy buitengewone boustyl te danke. As 'n tipiese voorbeeld van Piano se integrasie van hoëtegnologie in die moderne argitektuur is die sentrum as 'n soort "masjien in die stad" ontwerp – sy tegniese installsies is nie weggesteek nie, maar vorm 'n integrale bestanddeel van sy fasade. Staalelemente en gekleurde pype gee aan die gebou 'n industriële voorkoms wat skerp met die tradisionele boustyle van sy omgewing in 'n ou stadswyk van Parys kontrasteer.
Met die Internasionale Kansai-Lughawe in Osaka (Japan) het hy in 1988 een van die grootste geboue ontwerp wat ooit opgerig is en het met die Daimler Benz-kwartier 'n belangrike bydrae by die heropbou van die historiese sentrum van Berlyn, die Potsdamer Platz, gelewer.
Renzo Piano se projekte sluit ook 'n aantal museums in, soos byvoorbeeld die Menil Collection in Houston (Texas, Verenigde State), 'n museum in die Switserse hoofstad Bern wat werke van die skilder Paul Klee vertoon, die museum van die Beyeler-stigting in Basel (Switserland) en die uitbou van die High Museum of Art in Atlanta (Georgia, Verenigde State) in die jaar 2005.
Een van sy jongste ontwerpe is die wolkekrabber The Shard in die Britse hoofstad wat ná sy voltooiing in 2012 die rekord vir die hoogste gebou in Europa hou.
Renzo Piano het in 1990 die Kioto-prys en in 1998 die Pritzker-argitektuurprys vir sy lewenswerk ontvang en is deur die Unesco as 'n Welwillendheidsambassadeur benoem.
Belangrikste projekte
[wysig | wysig bron]- IRCAM, Parys (Frankryk)
- Kulturele Sentrum Jean-Marie Tjibaou, Nouméa, Nieu-Kaledonië
- Museum van die Beyeler-Stigting, Basel (Switserland)
- IBM Reispawiljoen
- Kunsinstituut van Chicago – uitbouprojek
- Internasionale Kansai-Lughawe, Osaka (Japan)
Bronne
[wysig | wysig bron]- Jaye Abbate en Michael C. Thomsett: Celebrating the Art of Architecture. 25 Years of Pritzker Prize Winning Architects. Columbia (MD) 2004: Marketplace Books
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Renzo Piano. |