Platluis
Platluis | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Suborde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | P. pubis
|
Binomiale naam | |
Pthirus pubis | |
Sinonieme | |
Pediculus pubis Linnaeus, 1758 |
Die platluis (Pthirus pubis) is ’n insek wat as ’n obligate parasiet op mense voorkom en uitsluitlik van bloed lewe.[1] Dit word gewoonlik tussen die pubiese hare aangetref. Hoewel die luis nie kan spring nie, kan dit ook aan ander dele van die liggaam voorkom wat deur growwe hare bedek word, soos die oogwimpers.[2][3]
Die mens is die platluis se enigste bekende gasheer, hoewel ’n verwante spesie, Pthirus gorillae, op gorillas voorkom. Die menslike parasiet het sowat 3,3 miljoen jaar gelede uit die Pthirus gorillae-lyn vertak.[4] Dit is verder verwant aan die genus Pediculus, waartoe die menslike kopluis en liggaamsluis behoort, asook luise wat op sjimpansees en bonobo's voorkom.
Naam
[wysig | wysig bron]Die orde waartoe die platluis behoort, is Phthiraptera, met ’n "phth" aan die begin, maar sy wetenskaplike naam is Pthirus pubis, met ’n "pth". Dit is gebaseer op ’n verkeerde spelling, maar is nogtans in 1985 as die amptelike spelling aanvaar.[5]
Beskrywing
[wysig | wysig bron]’n Volwasse platluis is sowat 1,3-2 mm lank (effens kleiner as die liggaams- en kopluis), en kan van ander spesies uitgeken word aan sy feitlik ronde lyf. Nog ’n kenmerkende eienskap is dat sy agterste twee paar bene baie dikker as die voorste bene is en groot kloue het.[6]
Lewensiklus
[wysig | wysig bron]Die platluis se eiers word gewoonlik op die growwe hare aan die menslike geslagsdele en perianale streek (rondom die anus) gelê. Hulle kan ook aan ander dele van die liggaam gevind word waar growwe en redelik yl hare voorkom, soos baarde, snorre, oogwimpers en armholtes. Hulle kom gewoonlik nie tusen die fyner hare van die kop voor nie.[6][7]
Die wyfie lê sowat drie eiers per dag. Die eiers broei tussen 6 en 8 dae uit en die drie nimfstadiums duur 10 tot 17 dae, voordat die volwasse luis ontwikkel. Die totale lewensiklus van eier tot volwasse luis duur dus 16 tot 25 dae. Volwasse luise lewe tot 30 dae.[6] Platluise lewe hoofsaaklik van bloed en drink vier tot vyf maal per dag bloed. Volwasse luise is 1,5-2 mm lank en plat. Hulle is baie breër as liggaams- en kopluise.
Volwasse platluise kom net op die mens voor en het menslike bloed nodig om te oorleef. As volwasse luise van die gasheer af gedwing word, sal hulle binne 24 en 48 uur doodgaan sonder bloed. Die parasiete word van mens tot mens oorgedra, gewoonlik tydens seksuele kontak, hoewel ook minder dikwels deur beddegoed of klere.[8]
Infestasie
[wysig | wysig bron]Die infestasie met platluise is bekend as pediculosis pubis of phthiriasis pubis (laasgenoemde word ook met ’n "phth" gespel, nes die ordenaam). Die infestasie van die oogwimpers staan bekend as pediculosis ciliaris of phthiriasis palpebrarum.[9]
Die hoofsimptoom van ’n infestasie is ’n gejeuk, gewoonlik in die streek van die pubiese hare. Dit is die gevolg van hipersensitiwiteit vir die spoeg van die luis en kan oor twee of meer weke ná die aanvanklike infestasie toeneem. Tydens sommige infestasie kom ’n groenblou of leikleurige verkleuring voor waar die luise bloed drink; dit kan verskeie dae duur.
Daar word geraam dat omtrent 2% van mense wêreldwyd platluise het, maar presiese syfers is moeilik om te bepaal omdat infestasie in baie lande nie aangemeld hoef te word nie en dit dikwels privaat behandel word.[10]
Platluise word gewoonlik net deur noue menslike kontak oorgedra, soos tydens seks. Volwassenes word meer aangetas as kinders. Nieseksuele infestasies kan voorkom tussen gesinslede en kamermaats weens die gebruik van dieselfde handdoeke, klere, beddegoed of klerekaste. Die luise kan net vir ’n kort rukkie oorleef weg van die hitte en humiditeit van die menslike liggaam.
Daar is al voorgestel die toename in mense wat hulle pubiese hare afskeer, het in sommige dele van die wêreld tot ’n afname in infestasies gelei.[11][12] Ander luise wat mense infesteer, is liggaams- en kopluise. Die kloue van hierdie drie spesies is aangepas om aan spesifieke haarbreedtes vas te klou.[13]
Platluise dra sover bekend nie siektes oor nie. ’n Pubiese haar kan gewoonlik tot ’n dosyn luise aanhê. Hulle kom ook aan ander growwe hare voor omdat hulle kloue vir hare van ’n sekere dikte aangepas is.[14] Simptome kan benewens ’n gejeuk, ook rooiigheid en inflammasie wees – dit veroorsaak ’n groter bloedsirkulasie na die vel van die pubiese streek en skep ’n bloedryke omgewing vir die luise. ’n Infestasie kan ook gediagnoseer word deur die identifisering van nete (eiers) aan die pubiese hare.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Rapini, Ronald P.; Bolognia, Jean L.; Jorizzo, Joseph L. (2007). Dermatology: 2-Volume Set. St. Louis: Mosby. ISBN 978-1-4160-2999-1.
- ↑ CDC (Centers for Disease Control and Prevention) (2 Mei 2017). "Parasites: lice". www.cdc.gov (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2020. Besoek op 4 Desember 2017.
- ↑ CDC (Centers for Disease Control and Prevention) (2 Mei 2017). "Parasites: pubic "crab" lice". www.cdc.gov (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2020. Besoek op 4 Desember 2017.
- ↑ Weiss RA (10 Februarie 2009). "Apes, lice and prehistory". J Biol. 8 (2): 20. doi:10.1186/jbiol114. PMC 2687769. PMID 19232074.
- ↑ "Phthiraptera.info: Taxonomy of Human Lice" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2020. Besoek op 23 Oktober 2019.
- ↑ 6,0 6,1 6,2 Service, Mike (2012). Medical Entomology for Students (5de uitg.). Cambridge: Cambridge University Press. ISBN 978-1-107-66818-8.
- ↑ Nuttall, GHF (1918). "The biology of Phthirus pubis". Parasitology. 10 (3): 383–405. doi:10.1017/s0031182000003954.
- ↑ CDC (Centers for Disease Control and Prevention) (2 Mei 2017). "Pubic "crab" lice: biology". www.cdc.gov (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2020. Besoek op 4 Desember 2017.
- ↑ Manjunatha NP, Jayamanne GR, Desai SP, Moss TR, Lalik J, Woodland A. Pediculosis pubis: presentation to ophthalmologist as phthriasis palpebrarum associated with corneal epithelial keratitis. Int. J. STD AIDS 2006; 17: 424–426
- ↑ Anderson AL, Chaney E (Februarie 2009). "Pubic lice (Pthirus pubis): history, biology and treatment vs. knowledge and beliefs of US college students". Int J Environ Res Public Health. 6 (2): 592–600. doi:10.3390/ijerph6020592. PMC 2672365. PMID 19440402.
- ↑ Armstrong, N. R.; Wilson, J. D. (2006). "Did the "Brazilian" kill the pubic louse?". Sexually Transmitted Infections. 82 (3): 265–266. doi:10.1136/sti.2005.018671. PMC 2564756. PMID 16731684.
- ↑ Bloomberg: Brazilian bikini waxes make crab lice endangered species, 13 Januarie 2013, besoek op 14 Januarie 2013
- ↑ Hoffman, Barbara L., Williams, J. Whitridge (John Whitridge), 1866–1931. (2012). Williams gynecology (2de uitg.). New York: McGraw-Hill Medical. p. 90. ISBN 978-0-07-171672-7. OCLC 779244257.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link) - ↑ Hoffman, Barbara L., Williams, J. Whitridge (John Whitridge), 1866–1931. (2012). Williams gynecology (2nd uitg.). New York: McGraw-Hill Medical. ISBN 978-0-07-171672-7. OCLC 779244257.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- MedlinePlus: 000841
- Wikispecies het meer inligting verwant aan Platluis
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Platluis.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia