Gaan na inhoud

Naaldekoker

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Naaldekoker
Trithemis kirbyi
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Arthropoda
Klas: Insecta
Orde: Odonata
Suborde: Epiprocta
Infraorde: Anisoptera
Selys, 1854[1]
Families

Aeshnidae
Austropetaliidae
Cordulegastridae
Corduliidae
Gomphidae
Libellulidae
Macromiidae
Neopetaliidae
Petaluridae

'n Naaldekoker is 'n soort insek wat tot die orde Odonata behoort. Naaldekokers begin hulle lewe in water en word dus dikwels naby damme, riviere, mere, kanale, strome en vleilande aangestref. Naaldekokers word gekenmerk aan hulle groot saamgestelde oë, twee paar sterk, deursigtige vlerke en 'n verlengde liggaam. Alhoewel hulle soos ander insekte oor ses bene beskik, kan hulle nie baie goed loop nie.

Daar is byna 5000 verskillende naaldekokers en waterjuffers wêreldwyd.

Naaldekokers is soortgelyk aan waterjuffers (wat tot dieselfde insekorde Odonata behoort), maar daar word onderskeid getref tussen volwasse naaldekokers en waterjuffers. Naaldekokers se liggaamsbou verskil van waterjuffers: naaldekokers se agtervlerke is breër as hulle voorvlerke, terwyl die voor- en agtervlerke van waterjuffers gelyk is. Naaldekokers hou ook hulle vlerke weg van en loodreg tot hulle liggame wanneer hulle rus, terwyl waterjuffers hulle vlerke teen hulle liggame hou.

Naaldekokers het sterk kake en kan byt, maar hulle sal nooit 'n mens aanval en byt nie. Hulle sal dit net doen wanneer hulle bedreig voel. soos waar jy een met jou een hand sou vashou en sy kake teen jou ander hand se duim hou. Die meeste naaldekokers sal nie eens deur jou vel kan knaag nie, maar van die groteres kan wel 'n bloedkolletjie laat. Die byt is nie giftig nie, maar dit is pynlik en moet goed ontsmet word om infeksie te voorkom. Hulle het egter nie angels nie en kan dus nie steek nie. Kyk https://www.youtube.com/watch?v=2mY6UsHgh90

Volwasse naaldekokers lewe sowat twee maande.

Die larwes sowel as die volwassenes is roofdiere en die volwasse mannetjies het bepaalde gebiede (territoriums) wat hulle teen ander mannetjies verdedig. Die orde Odonata is al baie oud.

Moderne naaldekokers en waterjuffers deel sekere eienskappe met hul voorouers uit die Perm, maar hulle het ook gespesialiseerde kenmerke wat eers later ontwikkel het. Van die mooiste insekte word onder die naaldekokers en waterjuffers (orde Odonata) aangetref. Naaldekokers (suborde Anisoptera) en waterjuffers (suborde Zygoptera) is albei herkenbaar aan hul lang, staafvormige agterlywe en twee paar stywe, fynbeaarde vlerke.

Naaldekokers is oor die algemeen groter, asook sterker vlieërs as die waterjuffers, en kan verder onderskei word op grond daarvan dat hulle hul vlerke uitgesprei hou, ook wanneer hulle gaan sit, terwyl waterjuffers hul vlerke toevou wanneer hulle gaan sit. Die eerste naaldekokers en waterjuffers is bekend uit die Perm (280 tot 230 miljoen jaar gelede).

Hoewel hierdie insekte sedertdien heelwat aanpassings ondergaan het, toon hulle nog 'n groot ooreenkoms met hul voorouers. Die ou Germane het naaldekokers en waterjuffers as bodes van die godin Freya (godin van liefde en vrugbaarheid) beskou. Die liggaam van hierdie insek bestaan uit 'n relatief groot kop, ʼn min of meer vierkantige borsstuk en 'n silindervormige agterlyf.

Die kleur van die liggaam is meestal variasies van groen, blou of rooi, dikwels met opvallende patrone. Die groot, saamgestelde oë beslaan byna die hele oppervlakte van die beweeglike kop. Reg voor die oë is twee kort antennae. Van die bytende monddele is veral die groot, skottelvormige onderlip, wat onder die twee kake lê, baie goed ontwikkel.

Dit is oortrek met 'n groot aantal hakies en vorm saam met die kake ʼn struktuur, bekend as die vangmasker, waarmee die prooi gegryp en verskeur word. Aan die borsstuk is daar drie paar lang, dun pote met stekels, wat veral gebruik word om prooi tydens vlug te vang, en twee paar vlerke wat slegs op en af beweeg kan word. Daar is geen verbinding tussen die voor- en agtervlerke soos by die skoenlappers nie.

Die vlerke is versterk deur 'n fyn netwerk van are en dwarsare, waardeur senuwees, bloedvate en asemhalingsbuise loop. Naaldekokers is uitstekende vlieërs wat snelhede van tussen 50 en 100 km/h kan bereik en baie skielik van rigting kan verander. Die segmente van die borsstuk is skuins, sodat die skok wat ontstaan as 'n naaldekoker teen sy prooi vasvlieg, na die swaartepunt van die liggaam herlei word. Hierdie meganisme funksioneer dus as 'n natuurlike skokbreker.

Lewenswyse

[wysig | wysig bron]

Alle naaldekokers en waterjuffers is vir hul voortplanting van water afhanklik, maar naaldekokers word dikwels ver van water af aangetref. Hulle is veral aktief wanneer die son skyn en kruip weg wanneer dit bewolk of reënerig is. Die mannetjies het elk 'n territorium waarbinne hulle jag en wat hulle teen ander mannetjies verdedig, maar die wyfies kan vlieg net waar hulle wil.

Paring en die voorafgaande paringspel by naaldekokers en waterjuffers vind altyd in die lug plaas. Die mannetjies het vir die doel 'n boonste en 'n onderste paar aanhangsels (twee onderste pare in die geval van die waterjuffers) aan die tiende (laaste) segment van die agterlyf. Die boonste paar, die cerci, is in die vorm van 'n tang en dien om die wyfie tydens die paringsvlug vas te hou. Die werklike paringsorgaan is aan die onderkant van die tweede segment geleë, met 'n sakvormige spermhouer aan weerskante.

Die geslagsopening is onderaan die negende segment geleë en net voor of na die paringsvoorspel buig die mannetjie sy agterlyf vorentoe sodat die sperma wat uit die geslagsopening kom, in die twee saadsakkies langs die paringsorgaan geplaas kan word. Tydens die voorspel tot paring gryp die mannetjie die wyfie met sy twee cerci aan die kop (naaldekokers) of aan die kop en bors (waterjuffers) vas terwyl hulle vlieg.

Later buig die wyfie haar agterlyf vorentoe om haar geslagsopening teen oor dié van die mannetjie te bring en paring  vind plaas. In daardie stadium is die mannetjie en die wyfie dus op twee plekke met mekaar verbonde en word daar van 'n paringswiel gepraat. Hierdie proses vind in die vlug plaas. Na paring gaan sit die wyfie van sommige spesies op 'n waterplant en loop agteruit tot in die water, waar sy dan deur middel van ʼn spesiale lê-orgaan (ovipositor) haar eiers in die stingel van die plant lê.

Dikwels verdwyn sy in die proses onder die water. Ander spesies steek hul ovipositor in die modder en lê so hul eiers, terwyl nog ander laag oor die water vlieg en af en toe net die water met hut ovipositor raak om 'n eier te lê. Die eiers sink dan na die bodem. Hierdie manier van eiers lê, kan dikwels by swembaddens waargeneem word, waar die eiers vanweë die chloor in die water nooit uitbroei nie. Die eiers is soms omring deur 'n klewerige stof, wat deur die eierleier van die wyfie afgeskei word en uitsit wanneer dit met water in aanraking kom.

Sulke eiers dryf gevolglik in massas op die water. Na 'n periode van 'n paar weke tot 'n paar maande breek die larwes met behulp van stekeltjies op hul agterlywe of 'n skerp rif op die voorkop uit die eiers. Wanneer die larwes uit die eiers kom, is hulle omring deur 'n vlies, sodat nog geen bewegende pote of vlerke sigbaar is nie. Na 'n paar oomblikke by sekere spesies tot 'n halfuur by ander breek die larwe uit die vlies en begin sy waterlewe.

Sowel die larwes as die volwasse naaldekokers en waterjuffers het ʼn spesiale struktuur van gewysigde monddele, bekend as 'n vangmasker, waarmee hulle hul prooi vang. Die larwes lê en wag totdat die prooi naby genoeg is en skiet dan die vangmasker uit om dit te vang. In die proses maak hulle ook van "straalaandrywing" (die kragtige uitforsering van water deur die anale opening in die agterlyf) gebruik om hulle na die prooidier voort te stu. Die volwassenes vang hul prooi in die lug deur daarop af te duik. Die larwes van naaldekokers kruip normaalweg oor die bodem, terwyl die van waterjuffers swem deur hul agterlywe, waarop daar drie blaaragtige strukture voorkom, op en af te beweeg.

Metamorfose

[wysig | wysig bron]

Na 'n jaar (by die meeste waterjuffers) of twee jaar (by die meeste naaldekokers), of soms minder as een jaar, is die larwe volgroei en kruip dit teen 'n plantstingel uit die water. Namate die vel uitdroog, skeur dit op die rug oop en die volwasse insek kan daaruit kruip. Dit bly dan 'n rukkie sit om af te droog, en strek sy vlerke deurdat daar bloed in die are gepomp en die agterlyf met lug gevul word. Oortollige lug en water word deur die anale opening uitgeskei totdat die liggaam die gewenste vorm het.

Verteenwoordigers

[wysig | wysig bron]

Benewens die naaldekokers (suborde Anisoptera) en die waterjuffers (suborde Zygoptera) word nog 'n derde groep, die sogenaamde oernaaldekokers (suborde Anisozygoptera), onderskei. Van hierdie suborde is daar slegs twee spesies wat vandag nog lewe, en hulle word slegs in Oos- en Suidoos-Asië aangetref.

Een van die volopste naaldekokers in Suider- en Oos-Afrika is die blounaaldekoker (Orthretrum caffrum). Hierdie spesie lê sy eiers op die wateroppervlak en kan maklik van die talle ander Orthretrum-spesies wat in Suider-Afrika voorkom, onderskei word op grond van die ses dun wit strepies op die bors - twee voor en twee aan elke kant. Waterjuffers van die genus Lestes, waarvan daar verskeie spesies in Suider-Afrika is, is goed aangepas in gebiede met 'n kort reënseisoen deurdat die eiers vir lang tye in droë panne, ensovoorts kan oorleef. Wanneer daar genoeg water is, groei die larwes so vinnig dat hulle binne 'n paar weke in volwasse waterjuffers ontwikkel.

Naaldekokers sien beter as die meeste ander insekte. Hul kop bestaan byna net uit twee reuse-saamgestelde oë. Elke oog lyk soos `n tralienetwerk want dit het tot 30 000 lense. 'n Naaldekoker gebruik sowat 80 persent van sy brein om al hierdie visuele inligitng te verwerk. Omdat hulle so te sê agter hulle kan sien, kan hulle die bewegings van ander insekte oplet en botsings in die lug vermy.

Hulle kan meer kleure as mense sien.

Paring

[wysig | wysig bron]

Die meeste naaldekokersmannetjies kan vreeslik meeding oor die plekke waar hulle verkies om te paar. Die mannetjie en wyfie kan na `n boomtop vlieg om te paar, en ander naaldekokerspesies paar sommer al vliegend.

Vlerke

[wysig | wysig bron]

Naaldekokers is briljante vlieërs en het vier vlerke. Hulle kan elke paar vlerke saam of apart klap en hul agtervlerke kan uit pas met die voorstes klap. Hulle klap hul vlerkies sowat 50-90 keer per sekonde.

Naaldekokers kan reguit, agteruit, op en af vlieg, stop en fladder en sigsag en haarnaalddraaie teen volle spoed of in stadige aksie uitvoer. Hulle kan 'n lugskou soos geen ander insek hou.

Vlugspoed

[wysig | wysig bron]

Hulle kan teen 'n spoed van 100 liggamslengte per sekonde vlieg, of tot 48 km/h.

Naaldekokers is waardevolle, ratse roofinsekte: hulle eet muskiete, wat 'n groot las vir die mens en dier is. Hulle eet ook ander klein insekte soos vlieë, bye, miere en skoenlappers.

As nimf (larwe-staduim) vreet hulle muskietlarwes, waterinsekte, wurms of selfs paddavissies en ander klein vissies. Volwasse naaldekokers gebruik die mandjievorm wat hul pote maak om insekte te vang terwyl hulle vlieg en hou daarvan om muggies, vlieë, muskiete en ander klein vlieënde insekte te vreet. 'n Naaldekoker kan binne sowat 'n halfuur kos gelykstaande aan sy eie gewig opvreet.

Vyande

[wysig | wysig bron]

Hul vyande is voëls, spinnekoppe, paddas en groter naaldekokerspesies. Visse, paddas en watersalamanders maak jag op nimfe. Naaldekokers se uitstekende sig en ratsheid help hulle om uit hul vyande se kloue te bly.

Spinnekoppe is een van die naaldekokers se vyande.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Selys-Longchamps, E. (1854). Monographie des caloptérygines (in Frans). Vol. t.9e. Brussels and Leipzig: C. Muquardt. pp. 1–291 [1–2]. doi:10.5962/bhl.title.60461.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]