Gaan na inhoud

Naaldboom

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Naaldboom
Tydperk: CarboniferousTans
Konifer woude bestaande uit 'n paar spesies, bedek reuse gebiede soos hier in die Cascadereeks in die weste van Noord-Amerika.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:
Klas:
Ordes en families
Sinonieme
  • Coniferophyta
  • Coniferae

Naaldbome (afdeling Pinophyta voorheen Coniferophyta) is naaksadige bome of struike met lang, dun blare wat meestal immergroen is. Soos alle ander naaksadiges het hulle nie blomme nie, maar die voortplantingsorgane lê in eenslagtige keëls. Die stuifmeel word deur die wind versprei en opgevang deur 'n vloeistofdruppel wat spesiaal vir die doel deur die saadknop afgeskei word.

Tussen bestuiwing en werklike bevrugting kan tot 13 maande (in die geval van die genus Pinus) verloop. Die sade, wat dikwels gevleuel is, lê tussen die skubbe van die vroulike keëls en word deur die wind versprei wanneer hulle ryp is. Naaldbome of keëldraers is byna wêreldwyd versprei, maar verkies gematigde en selfs koue wêrelddele. Die meeste spesies het lang, naaldvormige blare en is immergroen. Slegs spesies van die genus Larix en die moerassipres (Taxodium distichum) is bladwisselend.

By die ander naaldbome bly elke blaar 'n paar jaar aan die boom voordat dit afgewerp word. Blare word dus reg deur die jaar afgewerp, maar nooit almal tegelyk nie. Oormatige verdamping word voorkom deur die blare se relatief klein oppervlakte en die ingesinkte huidmondjies. Die meeste naaldbome het hars wat vrykom as die bome beskadig word en dit bedek die wond sodat geen vogverlies of infeksie deur swamme of bakterieë kan intree nie. Die Coniferophyta word in sewe families onderverdeel, naamlik die dennebome (familie Pinaceae).

Die araucaria-agtiges (familie Araucariaceae), die moerassipresse (familie Taxodiaceae), - die geelhoutfamilie (familie Podocarpaceae), die sipresfamilie (familie Cupressaceae), die knoptaxusagtiges (familie Cephalotaxaceae) en die taxusagtiges (familie Taxaceae). Die wetenskaplike naam Coniferophyta dui op die houtagtige keëls waarin die sade van die meeste soorte voorkom. Die benaming keëldraers is egter nie heeltemal korrek nie, want spesies van die families Taxaceae en Podocarpaceae het geen keëls nie.

Die sade by hierdie spesies is ook nie deur keëlskubbe beskerm nie, maar aan die basis daarvan is 'n uitgroeisel wat dikwels halfpad of selfs heeltemal om die saad groei. By die Podocarpaceae staan dit as die epimatium en by die Taxaceae as die arillus bekend. By die genus Taxus, byvoorbeeld, is die arillus ʼn rooi, vlesige struktuur wat die saad amper halfpad om ring, sodat dit soos 'n bessie lyk. By die naverwante genus Torreya van die VSA groei die arillus om die hele saad, sodat die hele struktuur soos 'n pruim lyk.

Voortplanting

[wysig | wysig bron]

Naaldbome het soos alle naaksadiges, nie blomme nie, maar die voortplantingsorgane word in keëls of strobili gedra. Hierdie strobili bestaan uit gewysigde stingels en blare en is eenslagtig. Die manlike keëls bevat stuifmeel en die vroulike keëls saadknoppe. Slegs die vroulike keëls word houtagtig kort voordat die saad vrygestel word. Bestuiwing vind deur die wind plaas en die nusellusweefsel van die saadknoppe skei vloeistofdruppels af waaraan die stuifmeel vaskleef.

Daarna word die vloeistof deur die mikropilum in die stuifmeelkamer van die saadknop ingetrek sodat die stuifmeelkorrels (mikrospore) op die nusellusweefsel beland. Die mikrospoor ondergaan dan verskeie sel- en kerndelings, waartydens onder meer 'n vegetatiewe kern en twee sperm kerns ontstaan. Die vegetatiewe kern gee oorsprong aan 'n stuifmeelbuis wat deur die nusellusweefsel na 'n argegonium in die vroulike gametofiet groei. As dit die argegonium bereik, gaan die buis oop en die grootste van die twee spermkerns versmelt met die eiersel in die argegonium en vorm 'n sigoot.

Die ander sperm kern degenereer. Die tydsinterval tussen bestuiwing en bevrugting kan soms baie lank wees - in die geval van Pinus-spesies ongeveer 13 maande. Die volledige ontwikkeling van 'n vroulike dennekeël duur ongeveer twee jaar. Omdat bevrugting deur 'n stuifmeelbuis plaasvind, word die proses soms sifonogamie genoem. Dennebome (genus Pinus) het twee tot ses argegoniums in die vroulike gametofietweefsel, terwyl daar normaalweg 'n groot aantal mikrospore op die saadknop beland.

Daar kan dus ook twee tot ses embrio's in 'n enkele saad gevorm word. By ander naaldbome is dit soms nog meer. Verder kan die eierselle self ook soms in tot vier eierselle verdeel en elkeen kan na bevrugting tot 'n embrio ontwikkel. Die verskynsel van die sogenaamde poli-embrionie is dus baie algemeen by die naaldbome (en ander naaksadiges). Slegs een embrio ontwikkel egter volledig; die ander sterf af. Die volledig ontwikkelde embrio het 8 tot 12 saadlobbe.

Die sade lê op die saadskubbe van die vroulike keëls, terwyl elke saadskub in die oksel van ʼn dekskub lê. By ryp keëls van byvoorbeeld die douglasspar (Pseudotsuga menziesii) kan die saad- en dekskubbe maklik onderskei word en steek die saadskubbe dikwels by die dekskubbe verby. Soms is die saadskubbe egter baie klein (byvoorbeeld by die genus Araucaria) of afwesig (byvoorbeeld by die genus Agathis). By ander genera maak die saadskubbe die grootste deel van die keëls uit en kom dekskubbe slegs in jong keëls voor.

Verteenwoordigers

[wysig | wysig bron]

Die meeste naaldbome word in die Noordelike Halfrond aangetref, maar 'n paar van die Cupressaceae (sederfamilie) en die Podocarpaceae (geelhoutfamilie) word ook in Suider-Afrika aangetref. Die familie Podocarpaceae is in der waarheid 'n tipies Afrikafamilie. Die Suid-Afrikaanse lede van die Podocarpaceae is vier geelhoutspesies (genus Podocarpus), waarvan die opregte geelhout (Podocarpus latifolius) en die Outeniekwageelhout (Podocarpus falcatus) die bekendste is.

Van die Cupressaceae word drie Widdringtonia-spesies (seder of sipres) in Suid-Afrika aangetref en een Juniperus-spesie (Juniperus procera) in Oos-Zimbabwe. Soos ander lede van die familie Cupressaceae het hierdie spesies skubbe of naalde wat in kranse van drie of kruisgewys teenoorstaande gerangskik is en klein keëltjies vorm. Baie van die sederspesies lewer meubelhout van goeie gehalte en is baie aromaties (byvoorbeeld die beroemde seders van Libanon, Cedrus libani, wat in die Bybel genoem word).

Verskeie Juniperus-, Cedrus-, Chamaecyparis- en Cupressus-spesies van die Noordelike Halfrond is gewilde tuinplante. Die taxusagtiges (familie Taxaceae) vorm nie keëls nie, maar dra hul sade aan die punte van klein takkies. Die bekendste spesie is die taxusboom (Taxus baccata), wat soms in tuine aangeplant word. Nog 'n bekende familie is die moerassipresse (familie Taxodiaceae), waartoe die beroemde rooihoutspesies (genus Sequoia) van Noord-Amerika behoort.

Die sogenaamde rooihoutboom (Sequoia sempervirens) van die Kaliforniese berge en die grootboom (Sequoia giganteum) van die Sierra Nevada kan ʼn deursnee van tot 12 m en 'n hoogte van tot 90 m bereik. Die ouderdom van sommige van hierdie bome word op meer as 3 000 jaar geskat. Van die Araucariaceae is daar ook 'n paar Araucaria-spesies wat dikwels in tuine aangeplant word. Die kandelaarkroonspar (Araucaria araucana) is waarskynlik die bekendste.

Die bekendste lid van die familie Cephalotaxaceae is die Japannese sierstruik (Cephalofaxus harringtonia), 'n spesie wat dikwels in Europa as heinings aangeplant word. Die denneboomfamilie (familie Pinaceae) is 'n groot familie met ʼn wye verspreiding. Hoewel daar geen spesies van hierdie familie in Suider-Afrika inheems is nie, word verskeie Pinus-spesies op groot skaal as bron van hout en papier aangeplant.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]