Gaan na inhoud

NG gemeente Swartland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die hoeksteen van die Swartlandse kerk op Malmesbury is op 5 Februarie 1859 gelê. Die gebou is op 30 September 1860 ingewy, maar in 1862 het 'n deel van die kerk ineengestort. Dit is van 1863 tot 1864 herbou. Van 1897 tot 1899 is twee vleuels aangebou, ontwerp deur Charles Freeman, wat op 10 Augustus 1899 ingewy is. Die afgelope meer as eeu het die kerk se voorkoms merendeels onveranderd gebly.
Ds. M.C. Vos, 10 maande lank van 1810 tot 1811 die gemeente se leraar.
Die grafsteen voor die kerkgebou van die NG moedergemeente Swartland van ds. J.C. le F. Moorrees, Swartland se leraar van 1833 tot 1881.

Die NG gemeente Swartland, met sy middelpunt op die Swartlandse dorp Malmesbury, is die vyfde oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Stigting

[wysig | wysig bron]

In 1655 het die eerste blankes, naamlik Jan Wintervogel en ses soldate, die Swartland betree. In 1743, toe heelwat plase reeds in hierdie dele uitgegee is, is baron Van Imhoff op 'n inspeksiereis deur die buitedistrikte diep geskok deur die staat van die godsdiens en die beskawing. Hy kla dat die inwoners van “Zwartland sig aan den godsdiens weynig of niet bekreunende". Op aanbeveling van baron Van Imhoff is die gemeente Swartland as die vyfde gemeente van die NG Kerk op 27 Junie 1745 gestig. Toe het ds. Franciscus le Seuer (leraar van die NG gemeente Kaapstad van 1729 tot 1746) as konsulent die eerste leraar, ds. R.A. Weerman, hier bevestig. Die gemeente het 55 lidmate getel.

Ds. Weerman het 'n begin gemaak met die bou van 'n kerk. In 1750 word ds. C.B. Voltelen as die tweede predikant bevestig en gedurende sy vyfjarige verblyf word die pastorie en kerkgebou voltooi. In 1755 het ds. Voltelen en ds. Croeser van Kaapstad standplase omgeruil. Ná 15 jaar is ds. Croeser oorlede en in die kerk onder die stoel van die voorleser begrawe. Nou volg di. D. Goldbagh (1774-'83), P.J. van der Spuy (1786–1806), M.C. Vos (1810-'11)

Ds. Vos se bediening

[wysig | wysig bron]

Die Kaapse goewerneur Caledon het ds. Vos as predikant van Swartland aangestel waar hy in Junie 1810 sy werk aanvaar het. Maar hy het nogal teenstand ondervind, want die mense wou hom glad nie gehad het nie – waarskynlik het sy reputasie van Tulbagh hom vooruitgeloop. Daar is selfs 'n versoekskrif na die goewerneur gestuur waarin melding gemaak is van "the dissatisfaction of the community at large" met hom en waarin die vrees uitgespreek is dat dit kon lei tot "a considerable neglect in the observance of religious duties and confusion and discord among the parishioners". Hulle het graaf Caledon dan ook versoek om hom te verplaas. Die lidmate het hulle toe maar vir eers by sy benoeming neergelê, want 'n paar maande na sy aankoms in Swartland het hy in die teenwoordigheid van 400 toehoorders sy 25-jarige evangeliebediening herdenk. Maar die goewerneur het dit tog raadsaam gevind om hom in April 1811, nadat hy dus slegs 10 maande in Swartland was, na die pas gestigte Caledon te verplaas. Hier het hy gearbei tot hy sy emeritaat op 2 Augustus 1818 aanvaar het.

Ná ds. Vos was die volgende twee leraars di. J. Scholtz (1811-'27) en J. Spyker (1829-'33).

Ds. Moorrees se lang bediening

[wysig | wysig bron]

Die gemeente het gestrek van die Koeberg in die suide (waar die NG gemeente Philadelphia later ontstaan het, tot agter die Kamiesberge in die Noordweste – 'n afstand van amper 500 km. In 1826 word die eerste nuwe gemeentes afgestig. Vanaf 1833-'81 was ds. J.C. le Febre Moorrees die predikant van Swartland. Gedurende sy dienstyd is 'n nuwe kerk gebou. Na twee jaar het dit ingestort, dog is toe met 'n toring herbou. 'n Ouderling van Swartland, H.H. Loedolff, wat 'n wetsagent en later 'n parlementslid was, was in 'n sekere sin verantwoordelik dat elke staat en kolonie van die destydse Suid-Afrika sy eie NG Kerk en Sinode sou hê. Tydens die Sinode van 1862 het hy beswaar gemaak teen afgevaardigdes van buite die Kaapkolonie, omdat dit met Ord. no. 7 van 1843 strydig sou wees. In 'n hofsaak is uitspraak ten gunste van hom gegee en hierdie uitspraak het tot die stigting van afsonderlike Kerke in Natal, Vrystaat en Transvaal gelei.

Kerkskeuring

[wysig | wysig bron]
Die liberale gemeente se kerkgebou en pastorie is reeds jare lank vervalle.

Op die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Kaapse sinode van 1862 het verskille in die kerk na vore begin tree tussen 'n meer konserwatiewe (of regsinnige) groep, aan die een kant, en 'n liberale (of vrysinnige) groep aan die ander kant. Die strydpunt het veral gehandel oor 'n meer ortodokse siening van die Bybel as onfeilbare woord van God (die regsinniges) teenoor die bybring van die rede en moderne uitlegmetodes in Bybel-interpretasie (die vrysinniges).

Plaaslik het die verdeeldheid in die kerk in 1863 'n werklikheid geword toe die NG gemeente Swartland in daardie jaar skeur. Ruim 300 lidmate het weggebreek en hulle by ds. J. Kotzé se sogenaamde liberale geskaar. Kotzé is reeds die jaar vantevore deur die sinode geskors toe hy in die volle vergadering verklaar het hy verwerp die leer van die gedurige geneigdheid van die mens om te sondig.

Kotzé het nie sy skorsing gelate aanvaar nie, want eers die Kaapse Hooggeregshof en toe die Geheime Raad in Engeland handhaaf sy appèl en in 1863 moet die sinode weer sy bediening herstel. Die sinode het toe 'n wet herroep ingevolge waarvan leraars nie in ander gemeentes mag preek nie. Op Malmesbury het Kotzé, wat op Darling gewoon het, 'n groot gevolg gehad. Die krag agter die Liberale kerk hier plaaslik was mnr. Willem Wethmar.

Die liberale is nie in die NG kerkgebou toegelaat nie en hulle bou toe in 1870 die kerkgebou in Loedolffstraat soos hy vandag nog daar staan. Die kerk het sitplek vir 500 lidmate gehad en die lidmate het ook 'n woonhuis langsaan die kerk gebou.

Groot bitterheid en verdeeldheid het tot 1894 in die gemeenskap geheers en 'n felle stryd is gevoer. Deur die bemiddeling van die minsame ds. C. Rabie (plaaslike predikant van 1881 tot 1911) is die geskille uiteindelik bygelê en Kotzé het sy emiraat aanvaar en afgetree.

Die liberale het hulle kerkgebou en ander kerklike eiendom verkoop, die geld in hulle sak gesteek en so het daar weer vrede in die gemeente gekom. Die kerkgebou waarvan Kotzé die Woord 24 jaar lank aan sy liberale volgelinge bedien het, het 'n minder gelukkige geskiedenis. Dit het al as drilsaal, skaatsbaan, pakhuis en danssaal gedien. Tans staan dit leeg.

Latere leraars

[wysig | wysig bron]

Ds. C. Rabie het ds. Moorrees opgevolg en was 30 jaar predikant hier. Gedurende sy dienstyd is die kerk vergroot en 'n nuwe pastorie gebou. Verder dien die volgende predikante tot omstreeks die gemeente se 200-jarige bestaan: Di. J. de V. Horak (1913-'21), H. Pienaar (1921-'39) – gedurende sy dienstyd word 'n nuwe pastorie gebou, orrel aangekoop en eerste medeleraar beroep, L. Heyns (1930-'38), J.F.D. Oosthuizen (1938-'42), dr. W.A. Landman (1940); dr. K.W. Heese (1943-'46), di. N.F. Treurnicht (1946-'50), J.G. du Plessis (1951) en L. Moolman (1951). In 1945 is die 200-jarige bestaan van die gemeente op luisterryke wyse gevier, terwyl die kerkgebou in 1950 teen groot koste opgeknap en 'n saal op Kalbaskraal gebou is.

Enkele leraars

[wysig | wysig bron]

Galery van leraars

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]