Gaan na inhoud

Lesbos

Koördinate: 39°10′N 26°20′O / 39.167°N 26.333°O / 39.167; 26.333
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Lesbos
Inheemse naam: Λέσβου
Kaart van Lesbos
Kaart van Lesbos
Geografie

Ligging Griekeland, Egeïese See
Koördinate 39°10′N 26°20′O / 39.167°N 26.333°O / 39.167; 26.333

Oppervlakte 1 632,8 vk km

Administrasie
Vlag van Griekeland Griekeland
Streek Noord-Egeïes

Hoofstad Mytilene
Grootste stad Mytilene (37 890)

Demografie
Bevolking 86 436

Bevolkingsgroepe Grieke
Satellietfoto van Lesbos (1995)

Lesbos (Grieks: Λέσβου Lesvos; transliterasie: Lesvos) is 'n Griekse eiland in die Egeïese See, nie ver van die kus van Turkye en Klein-Asië af nie. Met 1630 vierkante kilometer is dit een van die grootste eilande in Griekeland. In 2006 het dit ongeveer 90 000 inwoners gehad, van wie ongeveer 'n derde in die hoofstad Mytilene woon. Die eiland se oppervlak is sowat 1632,8 km2.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Argeologiese vondste het getoon dat die eiland sedert die Neolitiese tydperk (ongeveer 5000 vC) bewoon is en gedurende die Bronstydperk 'n beskawing gehad het soortgelyk aan dié van Mycenae en Troje. Homeros (c. 800 vC – 750 vC) noem Lesbos in die Ilias, sy epos van die Trojaanse Oorlog.[1][2]

Ná die dood van Alexander die Grote (Oktober 356 vC - 13 Junie 323 vC) is Lesbos ingelyf by die Masedoniese Ryk van die Ptolemeeërs wat ook oor Egipte regeer het. Vanaf 88 v.C. was dit deel van die Romeinse Ryk. Toe die ryk in 'n oostelike en 'n westelike deel verdeel is, het Lesbos aan die Oos-Romeinse en later Bisantynse Ryk (3de - 13de eeu) behoort. Die eiland was reeds in die Romeinse tyd 'n vakansieoord. Toe die Ottomane, gelei deur Sultan Fatih Mehmet die Veroweraar, die eiland in 1462 verower het, is die hoofstad geplunder en baie van sy inwoners as slawe verkoop. Toe Mytilene in 1824 in opstand gekom het, is dit bloedig deur die Turke onderdruk.

Lesbos is in 1912 deur die Griekse Vloot bevry. Lesbos het amptelik aan Griekeland behoort ingevolge die Verdrae van Londen en Athene in 1914, maar gevegte het tot 1922 voortgeduur. Gedurende hierdie tydperk was daar steeds lewendige handel tussen Lesbos en İzmir (Turkye). Baie groot herehuise op die eiland getuig steeds van hierdie florerende handelstydperk. In 1922 het 'n geveg gelei deur die monnike van Mandamados die finale onafhanklikheid van Lesbos bevestig.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die eiland van 4 Mei 1941 tot 10 September 1944 deur die Duitsers beset. Die kasteel in Sigri (wat in 1757 deur die Turke gebou is) het as 'n tydelike tronk vir krygsgevangenes gedien. In 2015 het die eiland 'n simbool geword van die vlugtelingkrisis in Europa. Talle vlugtelinge, van Sirië en ander lande, het van nabygeleë Turkye na Lesbos gekom om die Europese Unie te bereik. Die Moria-vlugtelingkamp is op Lesbos geskep, wat in 2020 deur 'n brand vernietig is.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Harissis H.; Durand P.; Axiotis M.; Harissis T. (2000). "Traces of Paleolithic settlement in Lesbos". Archaiologia Kai Technes: 76:83–87 (article in Greek with English abstract).
  2. Beckman, Gary; Bryce, Trevor; Cline, Eric (2012). The Ahhiyawa Texts. Society of Biblical Literature. pp. 143–144. ISBN 978-1589832688.