Gaan na inhoud

Kaap Arkona

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaap Arkona

Kaap Arkona is 'n steil rotswand op die skiereiland Wittow in die noorde van die Duitse eiland Rügen (deelstaat Mecklenburg-Voorpommere). Die rotswand op 'n hoogte van 45 meter bestaan hoofsaaklik uit krytrotse en mergel (onsuiwer kalksteen). Die kaap staan bekend vir sy dramatiese vorm wat sowel vanuit die eiland asook vanuit see besigtig kan word. Vanweë sy geologiese struktuur en weersinvloede brokkel steeds weer groot dele van die rotswand af. Groot gedeeltes van die Middeleeuse Slawiese tempelplein van Kaap Arkona het sodoende verlore gegaan.

In 1927 is 'n Duitse luukse passasiersskip, die Cap Arcona, na hierdie rotswand vernoem.

Kaap Arkona is vandag 'n monument wat saam met die vissersdorp Vitt deel uitmaak van die munisipaliteit Putgarten en is met jaarliks sowat 800 000 besoekers een van die gewildste toeristebestemmings op Rügen.

Naas die historiese Slawiese Jaromarsburg is daar twee vuurtorings, 'n peiltoring, twee militêre bunkers en 'n aantal toeristefasiliteite soos restourante, kroeë en aandenkingswinkels by die kaap.

Dikwels word na Kaap Arkona as die "mees noordelike punt van Rügen" verwys, alhoewel hierdie bynaam in geografiese opsig nie heeltemal juis is. Sowat een kilometer noordwes van die kaap lê Gellort, 'n plek langs die steil kus wat iets verder noordwaarts geleë is. Aan die voet van Gellort lê Siebenschneiderstein (Nederduits: Söbenschniedersteen), 'n swerfblok met 'n gewig van 165 ton.

Vuurtorings en peiltoring

[wysig | wysig bron]
Die peiltoring
Die twee vuurtorings van Kaap Arkona

Die kleiner een van Kaap Arkona se twee vuurtorings is in 1826 en 1827 volgens planne van die Pruisiese argitek Karl Friedrich Schinkel as 'n baksteengebou opgerig en in 1828 in bedryf gestel. Dit is die tweede oudste vuurtoring langs die Duitse Oosseekus ná die vuurtoring van Travemünde in Sleeswyk-Holstein. Die vuurtoring het later ook as Schinkelturm ("Schinkeltoring") bekend gestaan. Die vuurtoring met sy drie verdiepings is 19,3 meter hoog en bereik 'n vuurhoogte van 60 meter bo seevlak. Sy vuur is oor 'n afstand van agt seemyl sigbaar. Die vuurtoring se kamers is as diens- en stoorkamers gebruik. Die vuurtoring is op 31 Maart 1905 buite werking gestel.

Die groter vuurtoring van Kaap Arkona is in die jare 1901 en 1902 vlakby die ou toring opgerig en op 1 April 1905 in bedryf gestel. Dit is 35 meter hoog op 'n vuurhoogte van 75 meter bo seevlak. Die vuurtoring is as 'n baksteengebou op 'n agthoekige voetstuk van graniet gebou. Sy elektriese snelflitsvuur is oor 'n afstand van 24 seemyl sigbaar, terwyl die vuurtoring self nog oor 'n afstand van 22,7 seemyl waargeneem kan word. Sy lig het 90 jaar lank van twee koolbooglampe gekom wat eers in 1995 met 'n metaal-halogeendamplamp met 'n ligsterkte van 2,325 miljoen candela vervang is. Die lamp stuur elke 17,1 sekondes drie ligflitse uit.

Die voormalige peiltoring van die Duitse Vloot is in 1927 as 'n baksteentoring opgerig en het as radiosender gedien. Tussen 1911 en 1925 is pogings onderneem om met die uitstraling van gerigte radiogolwe 'n nuwe en destyds baanbrekende navigasiehulpmiddel beskikbaar te stel wat veral op die spoorwegveerbootlyn tussen Sassnitz en Trelleborg (Denemarke), die sogenaamde Königslinie ("Koningslyn"), gemik was. Vir hierdie doeleinde is binne die ou Slawiese Jaromarsburg groot antennevelde opgerig. Die fondamente van die seinstasie het tot vandag toe in die binnehof van die Slawiese versterking bewaar gebly. Die tegniese geriewe van die peiltoring is in 1945 verniel.

Al drie torings is teen die begin van die 1990's gerestoureer en staan oop vir die publiek. Die ou vuurtoring huisves tans 'n museum en 'n registrasiekantoor waar huwelike gesluit kan word. 'n Klein metaalplaat is in die grond net voor die toring geplaas om alle huwelike op te lys wat hier amptelik voltrek is. Die peiltoring dien vandag as kunsmuseum en ateljee. Elkeen van die torings beskik oor 'n uitsigdek wat 'n uitsig oor Rügen en veral die skiereiland Wittow bied. In gunstige weerstoestande met skoon lug kan 'n mens selfs 'n uitsig geniet wat tot by die Deense eiland Møn strek.

Die Slawiese Jaromarsburg

[wysig | wysig bron]
'n Lugfoto van die tempelversterking
'n Standbeeld van die Slawiese god Svantevit
Die peiltoring met die tempelversterking in die agtergrond
Die kranse van Kaap Arkona

Die Jaromarsburg het tussen die 6de en 12de eeu as 'n tempelheiligdom van die Rane, 'n Slawiese stam, gedien en was aan hul god Swantewit gewy. Die tempel was by die uiterste hoek van Kaap Arkona geleë en is aan drie kante deur die steil rotswande en aan die landkant deur 'n versterking met 'n hoogte van 25 meter beskerm. Die tempel het ná die verwoesting van Rethra in 1068 as die nuwe godsdienstige sentrum van Mecklenburg se Slawiese bevolking gedien. Aangesien groot gedeeltes van Kaap Arkona reeds in die see gestort het, is tans nog net die versterking van die Jaromarsburg sigbaar.

Volgens die beskrywing van die Deense historikus Saxo Grammaticus uit die jaar 1168 was die heiligdom van hout gemaak, maar was nogtans 'n indrukwekkende bewys vir die kunsvaardigheid van sy boumeesters. Die groot vierhoofdige standbeeld van Svantevit het in sy regterhand 'n drinkhoring gedra wat van verskillende soorte metaal vervaardig was. Dit is jaarliks deur die plaaslike priester met heuningdrank gevul om uit die gedrag van die vloeistof gevolgtrekkings oor die oesopbrengs van die volgende jaar te kan maak.[1]

Aangesien daar dekades lank geen argeologiese bewyse vir religieuse Slawiese standbeelde opgegrawe is nie, het navorsers hierdie soort beskrywings as fantasievolle uitvindings beskou, en daar is selfs aangeneem dat die Slawiese stamme nie oor die vermoë beskik het om hul eie ingewikkelde religieuse stelsel en waardes te ontwikkel nie.[2] Eers in 1969 is twee houtfigure van Slawiese godhede op 'n eiland in die Tollense-meer (Mecklenburg-Voorpommere) gevind wat omstreeks 1200 ontstaan het.

Die heiligdom is in 1168 tydens die kerstening van die gebied deur die Deense koning Waldemar I ingeneem en vernietig.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Von Freeden, Uta en Siegmar von Schnurbein: Germanica. Unsere Vorfahren von der Steinzeit bis zum Mittelalter. Uitgegee vir die Römisch-Germanische Kommission des Deutschen Archäologischen Instituts. Augsburg: Weltbild 2007, bl. 364
  2. Von Freeden/von Schnurbein (2007), bl. 365