Gaan na inhoud

Jean-Dominique Bauby

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jean-Dominique Bauby
Gebore(1952-04-23)23 April 1952
Parys, Frankryk
Sterf09 Maart 1997 (op 44)
Berck-sur-Mer, Nord-Pas de Calais, Frankryk
BeroepRedakteur, skrywer

Jean-Dominique Bauby (Frans: [ʒɑ̃ dɔminik bobi]; 23 April 1952 – 9 Maart 1997) was 'n Franse skrywer en redakteur van die Franse modetydskrif Elle.[1] Hy het twee kinders gehad saam met Sylvie de la Rochefoucauld, 'n seun genaamd Théophile en 'n dogter genaamd Céleste.[2][3]

Vroeë lewe en loopbaan

[wysig | wysig bron]

Bauby is gebore in die 14de arrondissement van Parys. Hy begin sy joernalistieke loopbaan by die koerant Combat en hierna by Le Quotidien de Paris. Op 28-jarige leeftyd word hy bevorder tot hoofredakteur van Le Matin de Paris, voordat hy redakteur word van die kulturele afdeling van Paris Match. Hierna sluit hy aan by die redaksie van Elle.[4]

Memoires

[wysig | wysig bron]

Bauby het, op 43-jarige leeftyd, op 8 Desember 1995 'n reuse beroerte gehad. Toe hy twintig dae later in die hospitaal wakker word, ondervind hy dat hy nie daartoe in staat is om te praat nie; hy kon slegs sy linker ooglid knip. Dié sindroom, wat bekend staan as ingeslote sindroom (Engels: "locked-in-syndrome"), is 'n kondisie waartydens die geestelike vermoëns van die lyer steeds onaangeraak is, maar die grootste deel van die liggaam verlam is.

Hy het, ten spyte van sy toestand, die boek Le Scaphandre et le Papillon geskryf deur telkens sy linkeroog te knip wanneer die korrekte letter deur 'n persoon uitgelees word wat tydsaam die alfabet herhaal. Bauby het die boek geheel en al in sy kop geskryf en verwerk en dit een letter op 'n keer gedikteer. Om die diktasie meer doeltreffend te maak het Claude Mendibil, Bauby se amanuensis, die letters gelys volgens die frekwensie waarin dit voorkom in die Franse taal. Die boek is op 7 Maart 1997 in Frankryk gepubliseer. Bauby sterf egter hierna skielik aan longontsteking op 44-jarige leeftyd, twee dae na die publikasie van sy boek.[5] Hy is begrawe in 'n familiegraf by die Père-Lachaise-begraafplaas in Parys, Frankryk.

Erfenis

[wysig | wysig bron]

Rolprente

[wysig | wysig bron]

Jean-Jacques Beineix het 'n kortfilm getiteld Assigné à résidence geregisseur wat handel oor Bauby se tyd by Berck-sur-Mer. Die film is in 1997 vrygestel. Bauby verskyn self in die film, sowel as sy gespreksgenoot Claude Mendibil, en sy minnares Florence Ben Sadoun.

In 2007 het die skilder-regisseur Julian Schnabel Le Scaphandre et le Papillon verwerk vir film. Die rolverdeling sluit Mathieu Amalric in as Bauby. Dit is met kritiese lof begroet, en het verskeie pryse en benoemings ontvang, insluitend die prys vir Beste Regisseur tydens die Cannes-rolprentfees en Golden Globes vir Beste Film in 'n Buitelandse Taal, en Beste Regisseur, sowel as vier Oscar benoemings.

Die draaiboek wat vir die rolprent geskryf is, is gekritiseer deur Bauby se naaste vriende omrede dit volgens hulle nie getrou was aan gebeure nie en bevooroordeeld was ten gunste van sy gewese minnares. [6] Florence Ben Sadoun beweer dat sy 'n lojale metgesel was en hom gereeld besoek het by Berck-sur-Mer, die hospitaal waar hy tydens sy laaste dae woonsaam was. Bauby maak melding van haar besoeke in sy memoires.[7] Sylvie de la Rochefoucauld beweer ook dat sy hom gereeld in die hospitaal besoek het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Boyles, Denis (10 Oktober 2003). "Pre-Mortuarial Medicine". National Review Online. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2005. Besoek op 4 Mei 2014.
  2. LESLIE SOWERS Staff (20 Julie 1999). "'Locked-in' quadriplegic shares life". Houston Chronicle. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2005. Besoek op 4 Mei 2014.
  3. Bauby, Jean-Dominique (23 Junie 1998). The Diving Bell and the Butterfly: A Memoir of Life in Death. Knopf Doubleday Publishing Group. ISBN 0375701214.
  4. Tassel, Fabrice (11 Maart 1997). "L'ultime clin d'oeil de Bauby. Le journaliste paralysé est mort juste après la sortie de son livre". Libération (in Frans). Besoek op 23 Januarie 2020.
  5. Thomas, Rebecca (8 Februarie 2008). "Diving Bell movie's fly-away success". BBC. Besoek op 4 Mei 2014.
  6. Arnold, Beth (23 Februarie 2008). "The truth about "The Diving Bell and the Butterfly"". Salon.com. Besoek op 4 Mei 2014.
  7. Di Giovanni, Janine (29 November 2008). "The real love story behind The Diving Bell and the Butterfly". The Guardian. Besoek op 4 Mei 2014.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]