Gaan na inhoud

Gaute

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die stamgebiede van Svear (geel) en Gaute (blou) in die 12de eeu

Die term Gaute (Sweeds: götar of göter) is deels 'n protohistoriese benaming vir die Noord-Germaanse stamme wat die Suid-Sweedse streke Väster- en Östergötland tydens die Ystertyd bewoon het, deels 'n nasionaalromantiese naam vir die antieke voorvaders van die huidige Sweedse volk. Naas Väster- en Östergötland het die Gaute hul naam ook aan die stad Göteborg verleen. Hulle is intussen al eeue lank volledig geassimileer en vorm geen selfstandige etniese groep meer nie.

Vroeë literêre verwysings

[wysig | wysig bron]

Die Angel-Saksiese Beowulf-saga verwys na 'n stam met die naam Geatas (Oudnoors Gautar) wat die suidelike streke van Swede bewoon het.

Die eerste historiese bron oor hierdie volk dateer uit die 2de eeu toe Ptolemeus na hulle as Goutai verwys. Die Gotiese skrywer Jordanes noem in sy werk Getica die Gautigothe en Ostrogothe wat volgens hom die Skandinawiese eiland Scandza bewoon het, terwyl Procopius van Caesaraea (500-562) na hulle as Gautoi verwys het.

Die Gaute was onafhanklik van die Svear, die tweede groot stamgroep in antieke Swede wat deur Tacitus Suiones genoem is. Hulle krygers het nogtans aan Gotiese veldtogte teen die Romeinse Ryk deelgeneem, en talle mans was sodoende in staat om groter hoeveelhede Romeinse goud na Skandinawië saam te neem. Hierdie tydperk word in Skandinawië derhalwe ook die "goue periode" genoem.

Die Gaute was nogtans in toenemende mate aan aanvalle deur die Svear blootgestel en het in die 6de eeu geleidelik hul onafhanklikheid verloor. Die Angel-Saksiese heldedig Beowulf bevat 'n gedeelte waarin die oorloë tussen die Gaute en Svear beskryf word en eindig met 'n voorspelling van toekomstige Svear-aanvalle. In die loop van die 11de en 12de eeu het 'n aantal Gaute as Sweedse konings geregeer. Hulle het die Latynse titel Rex Sweorum et Gothorum - "Koning van die Svear en Gaute" gedra.

Gaute en Gote

[wysig | wysig bron]

In ouer werke het outeurs dikwels die opvatting gedeel dat die Gaute identies sou wees met die Gote op die Europese vasteland en sodoende die aanleiding vir 'n oorsprongsmite gegee waarvolgens die Gote se oorspronklike tuisland in Skandinawië geleë was. Hierdie soort stromings, wat in Swede as göticism bekend staan, was veral gedurende die 17de en 18de eeu, toe Swede as 'n Europese groot moondheid opgetree het, en tydens die nasionaal-romantiese periode van die 19de eeu gewild om 'n meer luisterryke geskiedenis vir die land te skep.

Die verband tussen die Gote en die Gaute is al lank 'n omstrede onderwerp. Beide Oud-Yslandse en Oud-Engelse letterkundige bronne skei die Gaute (Ysl. Gautar, O.Eng Geatas) duidelik van die Gote (Ysl. Gotar, O.Eng. Gotenas). Die 6de eeuse Gotiese geskiedkundige Jordanes het egter geskryf dat die Gote van die eiland "Scandza" (Skandinawië) afkomstig is en beskryf die drie stamme wat op hierdie eiland gewoon het: die Gautigote, die Ostrogote en die Vagote, wat insinueer dat die Gaute wel Gote was of van hulle afstam. Verder het die Romeine ook die woord "Goot" gebruik om na verwante, kultureel eenderse stamme soos die Tervingi en Greuthungs te verwys. Hoe dit ook al sy, die woorde "Goot" en "Gaut" is afkomstig van dieselfde proto-Germaanse etnoniem.

Net soos ander Noord-Germaanse volksgroepe het ook die Gaute behalwe vir 'n klein aantal rune-inskrifte min skriftelike oorlewerings agtergelaat. Die eerste melding van die Gaute verskyn in 'n werk deur Ptolemeus (2 n.C.), waar hy na hulle verwys as "Goutai". In Noorse saga's word daar na hulle verwys as "Gautar" en in die Oud-Engelse Beowulf en Widsith word vertel van die "Gēatas".

Die saga's oor die geskiedenis van die Gaute voor die jaar 1000 is eers later neergeskryf, en ook die Gotiese skrywer Jordanes verskaf in sy werk De origine actibus Getarum (omstreeks 550), kort Getica genoem, nouliks geskiedkundige feite. Dit word deur geskiedkundiges eerder as 'n topos beskou - Jordanes gebruik immers uitsluitlik Griekse en Romeinse bronne, en hierdie twee beskawings het eers teen die middel van die 3de eeu n.C. met die Gote in aanraking gekom. Verskeie Skandinawiese navorsers verwerp die gedagte dat die Gote hulle oorsprong in Skandinawië sou kon hê.[1] Die etnogenese van die Gote het volgens argeologiese vondse eers op die Europese vasteland, in die gebied van die huidige Pole, begin, terwyl die Skandinawiese herkoms van hulle beskawing tans nie verifieerbaar is nie.[2]

Nogtans was daar al vroeg kulturelle betrekkinge tussen die oostelike Skandinawië en die Suid-Baltiese kusgebiede wat deur sommige geleerdes as bewys vir die teorie aangevoer word dat Jordanes mondelinge tradisie ten minste 'n geskiedkundige kern het.[3][4] Antieke outeurs het slegs sporadiese aantekeninge gemaak wat geen geskiedkundige feite aan navorsers verskaf nie.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Christensen, Arne Søby: Cassiodorus, Jordanes, and the History of the Goths. Studies in a Migration Myth. Dissertasie, 2002". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2007. Besoek op 1 Januarie 2009.
  2. Die Gote en die eerste klankverskuiwing (de)
  3. Nordgren, Ingemar (2000): Goterkällan: Om goterna i norden och på kontinenten.
  4. Kaliff, Anders (2001): Gothic Connections. Contacts between eastern Scandinavia and the southern Baltic coast 1000 BC – 500 AD. Department of Archaeology and Ancient History, Uppsala University.