Gaan na inhoud

Etna

Koördinate: 37°45′4″N 14°59′45″O / 37.75111°N 14.99583°O / 37.75111; 14.99583
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Etna
Die berg Etna Die berg Etna
Ligging Sisilië, Italië
Hoogte 3 357 meter bo seevlak
Koördinate 37°45′4″N 14°59′45″O / 37.75111°N 14.99583°O / 37.75111; 14.99583
Bergtipe Vulkaan
Laaste uitbarsting 2021
Ligging van Etna op 'n kaart (Italië)
Etna
Etna

Etna is ’n aktiewe vulkaan aan die ooskus van die eiland Sisilië in die suide van Italië. Dit is die hoogste berg op die eiland en die hoogste en aktiefste vulkaan in Europa buite die Kaukasus.[1]

Etna in 2002, soos gesien van die Internasionale Ruimtestasie.

Die berg lê op twee konvergerende tektoniese plate, die Afrika-plaat en Eurasiese Plaat. Dit is op die oomblik 3 357 m hoog, maar dit wissel na gelang van uitbarstings op sy kruin.[2] Dit beslaan ’n gebied van 1 190 km2, met ’n deursnee van 140 km by sy basis. Dit is omtrent twee en ’n half keer so hoog soos die tweede hoogste vulkaan in Italië, Vesuvius.

In die Griekse mitologie het Zeus, die hoofgod en god van die lug en donderweer, die dodelike monster Tifon onder die berg vasgekeer. Die smeltoonde van Hefaistos was ook glo onder die berg geleë.[3]

Etna is een van die wêreld se aktiefste vulkane en daar vind feitlik voortdurend aktiwiteit plaas. Die vrugbare vulkaangrond is goed vir landbou, en wingerde en boorde is oor die laer hange van die berg en die breë Vlakte van Catania in die suide versprei. Vanweë sy geskiedenis van onlangse aktiwiteit en nabygeleë bewoners is Etna deur die Verenigde Nasies as ’n vulkaan van die dekade aangewys.[4] In Junie 2013 is dit gevoeg op die lys van Unesco se lys van wêrelderfenisgebiede.[5]

Geologiese geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vulkaniese aktiwiteit op Etna het sowat 500 000 jaar gelede die eerste keer voorgekom, met uitbarstings wat onder die see aan die antieke kuslyn van Sisilië voorgekom het.[6]

’n Foto wat met ’n lang beligtingstyd geneem is van ’n dubbele uitbarsting op Etna.

Sowat 300 000 jaar gelede het aktiwiteit suidwes van die kruin begin voordat dit 170 000 jaar gelede na die huidige middel verskuif het. Uitbarstings het lae begin vorm en ’n stratovulkaan het vorm aangeneem. Die toename in die berg se grootte is soms onderbreek deur groot uitbarstings, wat veroorsaak het dat die kruin inmekaargetuimel het om kraters te vorm.

Van sowat 35 000 tot 15 000 jaar gelede het Etna ’n paar hoogs ontploffende uitbarstings beleef en dit het lawastrome gevorm wat groot ignimbrietneerslae agtergelaat het. As van hierdie uitbarstings is tot so ver suid as Rome se grens, 800 km noord van daar, gevind.

Sowat 8 000 jaar gelede het die oostekant van die vulkaan inmekaargestort en ’n enorme grondstorting veroorsaak. Dit het ’n groot depressie aan daardie kant gelaat wat bekend is as Valle del Bove ("Vallei van die Os"). Volgens navorsing in 2006 het dit ’n groot tsoenami veroorsaak wat sy merk gelaat het op verskeie plekke in die Oos-Mediterreense gebied. Dit kon die rede gewees het dat die nedersetting Atlit-Jam in Israel, wat nou onder die seevlak lê, in dié tyd skielik ontruim is.[7]

Die steil kante van die vallei het daarna nog talle kere inmekaargestort. Die mees onlangse instorting by Etna se kruin was vermoedelik sowat 2 000 jaar gelede en dit het die Klavierkrater gevorm.

Etna verskuif met gemiddeld sowat 14 mm per jaar in die rigting van die Middellandse See; die massief gly op ’n onstewige laag bo-op die ouer skuins laag.[8][9]

Uitbarstings

[wysig | wysig bron]
’n Kunstenaar se voorstelling van die uitbarsting in 1766.

Etna se uitbarstings volg verskeie patrone. Die meeste vind naby die kruin plaas waar daar vyf aparte kraters voorkom. Ander uitbarstings vind aan die sye plaas. Daar is meer as 300 gate wat in grootte wissel van klein gate in die grond tot groot kraters van honderde meters breed. Kruinuitbarstings kan hoogs ontploffend en skouspelagtig wees, maar dit bedreig selde die bewoonde gebiede om die vulkaan. Daarenteen kan uitbarstings aan die berg se sye so laag as ’n paar honderd meter bo die grond plaasvind, dikwels naby of in bewoonde gebiede. Sedert 2000 het Etna vier sulke uitbarstings gehad – in 2001, 2002-'03, 2004-'05 en 2008-'09. Kruinuitbarstings het in 2006, 2007-'08, Januarie-April 2012 en in Julie-Oktober 2012 plaasgevind.

Historiese uitbarstings

[wysig | wysig bron]

Die eerste bekende uitbarsting van Etna was dié van Diodorus Siculus.[10]

In 396 v.C. het ’n uitbarsting van Etna die poging van die Kartagers in die wiele gery om tydens die Tweede Sisiliaanse Oorlog teen die Sirakuse op te ruk.

’n Buitengewoon woeste, hoë kruinuitbarsting het in 122 v.C. plaasgevind en ’n groot hoeveelheid materiaal in die suidooste laat val.[11]

Die Romeinse digter Vergilius gee moontlik ’n eerstehandse beskrywing van ’n uitbarsting in Aeneis.[12]

In die eerste 1 500 jaar is talle uitbarstings nie aangeteken nie of verslae het verlore gegaan. Van die belangrikstes is een omstreeks 1030 n.C. naby Monte Ilice aan die laer suidoostelike sy toe lawa sowat 10 km ver gevloei het, en een omstreeks 1160 (of 1224) naby die dorpie Mascalucia toe lawa tot by die see gevloei het.

Etna se vernietigendste uitbarsting sedert 122 v.C. het op 11 Maart 1669 begin en lawa uitgespoeg wat tot 10 dorpies aan sy suidelike sy verwoes het voordat dit die mure van die dorp Catania vyf weke later, op 15 April, bereik het. Die mure het die lawa grootliks verdeel sodat dit na die see gevloei en Catania se hawe gevul het. ’n Paar geboue is ook verwoes nadat lawa deur ’n swak deel van die muur gebreek het. Ondanks latere verslae van duisende slagoffers, maak bronne uit dié tyd geen melding van slagoffers nie.[13]

Onlangse uitbarstings

[wysig | wysig bron]
’n Videogreep van Etna se uitbarsting in November 2013.
’n Laterale krater van die uitbarsting in 2002–2003 net onder die kruin.
Die suidelike sy van Etna, met laterale keëls van die 2001-uitbarsting.

’n Groot lawavloei van ’n uitbarsting in 1928 het vir die eerste keer sedert 1669 gelei tot die verwoesting van ’n bewoonde gebied. Dit het op 2 November hoog aan Etna se noordelike sy begin, maar nuwe skeure wat uitgebars het, het al hoe laer af gevorm. Die derde en kragtigste van dié uitbarstings was op 4 November op ’n baie lae hoogte, sowat 1 200 m bo die seevlak, in ’n gebied bekend as Ripe della Naca. Die dorpie Mascali, net onder die Ripe della Naca, is binne twee dae feitlik heeltemal verwoes. Benito Mussolini se fascistiese regering het die ramp vir propagandadoeleindes gebruik; ontruimings-, hulp- en herbouingsoperasies is voorgehou as modelle van fascistiese beplanning. Mascali is op ’n ander plek herbou.

Ander groot uitbarstings van die 20ste eeu was in 1949, 1971, 1979, 1981, 1983 en 1991–1993. In 1971 het lawa die Etna-sterrewag toegevloei en verskeie dorpies aan die berg se oostelike hang bedreig. In Maart 1981 het die dorp Randazzo aan die noordwestelike sy net-net verwoesting vrygespring. In die uitbarsting van 1991–1993 is die dorp Zafferana bedreig, maar dit is gered danksy pogings om die lawavloei te herlei.[14]

In Julie-Augustus 2001 het die eerste uitbarstings aan ’n sy van Etna sedert 1991–1993 voorgekom – uit sewe aparte skeure aan die suidelike hang. Dit was ’n massamedia-uitbarsting: in die piektoeristeseisoen. Verskeie joernaliste was ook reeds in Italië om die G8-beraad in Genua by te woon. Verder het dit naby een van die toeristegbiede op die vulkaan geskied en was dit maklik bereikbaar. ’n Deel van die Etna Sud-toeristegebied is beskadig, maar andersins was dit ’n redelik beskeie uitbarsting gemeet aan Etna-standaarde.

In 2002–2003 het ’n veel groter uitbarsting ’n hoë kolom as in die lug geskiet wat maklik uit die ruimte gesien kon word en tot so ver as Libië, 600 km suid oor die Middellandse See, geval het. Seismiese aktiwiteit van die uitbarsting het die oostelike sy tot 2 meter ver laat gly en baie huise is beskadig. In Julie-September 2006 het intense uitbarstings weer voorgekom.

Op 4 September 2007 het ’n skouspelagtige uitbarsting plaasgevind. ’n Uitbarsting vroeg die oggend van 13 Mei 2008 net oos van Etna se kruinkraters, is vergesel van meer as 200 aardbewings en aansienlike grondverskuiwings in die gebied van die kruin. Aktiwiteit het oor 417 dae stadig afgeneem, tot 6 Julie 2009. Dit was die langste uitbarsting van Etna sedert die een van 1991–1993, wat 473 dae geduur het.

Van Januarie 2011 tot Februarie 2012 was daar intense aktiwiteit in die kruinkraters. Die Catania-lughawe is verskeie kere gesluit weens gereelde uitbarstings en askolomme.[15][16][17][18][19][20]

In 2014 het ’n uitbarsting aan Etna se een sy plaasgevind. Dit was die eerste sedert 2008-'09. [1]

Op 3 Desember 2015 het ’n uitbarsting plaasgevind wat lawa 1 km ver die lug ingeskiet het, met ’n askolom van tot 3 km hoog.[21][22] In die volgende paar dae het askolomme hoogtes van tot 7 km bereik en die Catania-lughawe is vir ’n paar uur gesluit.[23]

’n Uitbarsting op 16 Maart 2017 het 10 mense beseer, onder andere lede van ’n BBC News-televisiespan, nadat magma ontplof het toe dit met sneeu in aanraking kom.[24][25]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Etna & Aeolian Islands 2012 – Cambridge Volcanology". www.volcano.group.cam.ac.uk (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Augustus 2016.
  2. https://www.ct.ingv.it/index.php/formazione-e-divulgazione/news/303-l-etna-si-supera-nuovo-record-di-altezza-a-3357-metri
  3. Aelianus, Hist. An. xi. 3, onder Aetnaeus in William Smith se Dictionary of Greek and Roman Biography and Mythology
  4. "Decade Volcanoes" (in Engels). United States Geological Survey. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2013.
  5. Mount Etna Becomes a World Heritage Site, Italy Magazine, 4 Mei 2013, http://www.italymagazine.com/news/mount-etna-becomes-world-heritage-site 
  6. Martin-Schutz, Alicia. "Mt. Etna" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Februarie 2013.
  7. Pareschi, M. T.; Boschi, E. & Favalli, M. (2007), "Holocene tsunamis from Mount Etna and the fate of Israeli Neolithic communities", Geophysical Research Letters 34 (16): L16317, doi:10.1029/2007GL030717, Bibcode2007GeoRL..3416317P 
  8. Murray, J.B.; van Wyk de Vries, B.; Pitty, A. (April 2018). "Gravitational sliding of the Mt. Etna massif along a sloping basement". Bulletin of Volcanology. 80 (4). Bibcode:2018BVol...80...40M. doi:10.1007/s00445-018-1209-1. Besoek op 30 Maart 2018.
  9. Gravitational collapse of Mount Etna’s southeastern flank
  10. Tanguy, J. C.; Condomines, M.; Goff, M.; Chillemi, V.; Delfa, S.; Patanè, G. (2007). "Mount Etna eruptions of the last 2,750 years: Revised chronology and location through archeomagnetic and 226Ra-230Th dating" (PDF). Bulletin of Volcanology. 70: 55. Bibcode:2007BVol...70...55T. doi:10.1007/s00445-007-0121-x.
  11. Coltelli, M.; Del Carlo, P. & Vezzoli, L. (1998), "Discovery of a Plinian basaltic eruption of Roman age at Etna Volcano, Italy", Geology 26 (12): 1095–1098, doi:10.1130/0091-7613(1998)026<1095:DOAPBE>2.3.CO;2, Bibcode1998Geo....26.1095C 
  12. Aeneid, uitgawe van Theodore C. Williams, ca. 1908 [boek III, reëls 569-579]
  13. Encyclopaedia Britannica: Or, A Dictionary of Arts, Sciences, and Miscellaneous Literature, Enlarged and Improved. Vol. 1 (5th uitg.). Edinburg: A. Constable. 1823. pp. 248–249. Sien ook: Charles Hutton; Georges Shaw; Richard Pearson (1809). The Philosophical Transactions of the Royal Society of London, from Their Commencement, in 1665, to the Year 1800; Abridged...: From 1665 to 1672. 1. Londen. pp. 357–358, 383–387, 637–638.
  14. Barberi, F.; Carapezza, M. L.; Valenza, M.; Villari, L. (1993), "The control of lava flow during the 1991–1992 eruption of Mt. Etna", Journal of Volcanology and Geothermal Research 56 (1–2): 1–34, doi:10.1016/0377-0273(93)90048-V, Bibcode1993JVGR...56....1B 
  15. "Italy's Mt Etna erupts – WORLD News" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2011. Besoek op 16 Desember 2018.
  16. Ken Kremer (15 Januarie 2011). "Spectacular Eruptions of Mt. Etna in Sicily from Space and Earth". Universetoday.com. Besoek op 2 Junie 2011.
  17. There she blows! Stunning images of Mount Etna eruption, Mirror, 9 Februarie 2012, https://www.mirror.co.uk/news/world-news/mount-etna-eruption-caught-in-stunning-679012 
  18. Eruption of Mt. Etna closes airport in Catania, Agi.it, 23 Oktober 2011, http://theextinctionprotocol.wordpress.com/2011/10/23/eruption-of-mt-etna-closes-airport-in-catania/ 
  19. "INGV – Etna Observatory". Ct.ingv.it. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2012. Besoek op 2 Junie 2011.
  20. "BBC News – Footage shows Mount Etna spewing lava and ash" (in Engels). Bbc.co.uk. 12 Mei 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2015. Besoek op 2 Junie 2011.
  21. Klemetti, Erik (3 Desember 2015). "Italy's Etna Unleashes a Short but Spectacular Eruption". Wired (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 April 2019. Besoek op 3 Desember 2015.
  22. "Etna volcano – eruption update". Volcano Discovery (in Engels). 3 Desember 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 November 2019. Besoek op 3 Desember 2015.
  23. "Etna show, nuova fontana di lava: non si ferma l'emissione di cenere". Corriere della Sera (in Italiaans). 4 Desember 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2017. Besoek op 5 Desember 2015.
  24. Balmer, Crispian (16 Maart 2017). "Volcanic explosion on Mount Etna injures 10 people". Reuters (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2020. Besoek op 16 Maart 2017.
  25. "Mount Etna: BBC crew caught up in volcano blast". BBC News (in Engels (VK)). 16 Maart 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2019. Besoek op 16 Maart 2017.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]