Gaan na inhoud

Bieszczady

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Bieszczady

Poolse Woudkarpate


Maak deel uit van die

Oostelike Beskiede
Karpate


Strek oor

Vlag van Pole Pole
Vlag van Slowakye Slowakye
Vlag van Oekraïne Oekraïne


Ligging in Pole




Hoogste bergpieke

Tarnica in Pole (1 346 m)
Pikoei in Oekraïne (1 405 m)

Die Bieszczady [bʲɛ'ʃtʃadɨ] is 'n afgeleë en yl bevolkte berglandskap in die suidooste van Pole en aangrensende gebiede in Slowakye en Oekraïne. In sy nouer betekenis verwys die naam na 'n deel van die Oostelike Beskiede-bergreeks in Pole en Slowakye (Pools: Bieszczady, Slowaaks: Bukovské vrchy).

Die Oostelike Beskiede word dikwels ook Poolse Woudkarpate genoem. Die hoogste bergpieke is die Tarnica in Pole (1 346 m bo seevlak) en Pikoei in Oekraïne (1 405 m).

Die Bieszczady-gebied het vanaf die 14de eeu deel uitgemaak van Pole, maar is vanweë sy afgeskeidenheid nouliks deur belangrike geskiedkundige gebeurtenisse geraak. Dit het sy besondere karakter deur die inheemse Roeteense bevolking (Oos-Slawiese Bojke en Lemke) gekry. Politieke en etniese geskille het tot die tragiese gebeure in die jare ná die Tweede Wêreldoorlog gelei toe 'n groot deel van die inwoners na ander gebiede verdryf is. Vanweë sy lae bevolkingsdigtheid - nog tot in die 1970's was dele van die bergstreek feitlik onbewoon - het die berggebied die tuiste van skaars dierspesies soos wolwe geword.

Die Poolse Woudkarpate maak tans deel uit van die Woiwodskap Subkarpate (Pools: Podkarpackie) met Rzeszów as administratiewe setel.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die naam Bieszczad is verwant aan běščad/beščad, 'n term wat in die vorm Beščad(y) nog in Oos-Slowakye (byvoorbeeld as naam van die bergpiek Beščad) en as Bieszczady in Suid-Pole gebruiklik is.

Die eerste historiese verwysing na die landskap as Beschad Alpes Poloniae dateer van 1269. In die 15de en 16de eeu is die streek Beyszkod, Byesczad, Byeskad, Byesczad genoem en het in die 17de eeu as Poloniae Alpe Biesczade bekend gestaan. In geskiedkundige opsig is die terme Bieszczady en Beskid eeue lank gebruik om na die berge te verwys wat Pole van Roetenië en die Koninkryk Hongarye geskei het.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Die Bieszczady maak deel uit van die groter Karpate-bergreeks wat vanaf die westelike Beskiede in Silesië oor Slowakye en Oekraïne tot Roemenië en Bulgarye strek. Die Bieszczady of Poolse Woudkarpate kan dus in geografiese opsig as die mees westelike deel van die Oos-Karpate beskou word.

Die Poolse nasionale park Bieszczadzki Park Narodowy (Nasionale Bieszczady-park) - die derde grootste in die land wat in 1973 gevestig is en met 29 000 hektaar sowat 'n tiende van die bergreeks se oppervlakte beslaan - vorm saam met die Slowaakse Nasionale Poloniny-park en die Nasionale Oezanski-park in Oekraïne 'n uitgestrekte natuurreservaat oor die internasionale grense van drie lande heen wat intussen ook deur Unesco gelys word. Die Bieszczady word steeds meer gewild by staptoeriste, ruiters, fietssportentoesiaste en kampeerders, maar ook sampioenversamelaars. Die kernsone van die Poolse Nasionale Bieszczady-park is nie toeganklik vir besoekers nie.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
'n Sagte missluier hang oor die Nasionale Bieszczady-park
Sonop in die winter

Die Bieszczady het 'n tipiese bergklimaat sodat die weerstoestande dikwels en skielik kan verander. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur hang van die hoogte bo seevlak af en beweeg tussen 2 en 5°C. Februarie is die koudste maand van die jaar, maar op bergpieke daal die kwik al in laat September snags benede vriespunt.

Koue weer kan tot in Mei voorkom, en die hoogste gebiede word jaarliks 150 dae lank deur 'n sneeulaag bedek, al word ook in Bieszczady eerste tekens van 'n globale klimaatsverandering waargeneem.

Meestal waai droë suidelike winde en word die weer deur Atlantiese laedrukgebiede oorheers wat sneeuval in die winter en baie reën in die somermaande na die Bieszczady bring. Die jaarlikse neerslae beloop tussen 1 100 en 1 200 liter. Julie is die natste, maar ook warmste maand en beste reistyd vir toeriste. Ook die herfs lok met sy kleure talle besoekers na die gebied.

Flora en fauna

[wysig | wysig bron]
Beukebome
'n Tipiese bergweiveld (Pools: połoniny)

Die naam Woudkarpate verwys reeds na die bosagtige karakter van die gebied wat soms ook as wildernis of oerwoud beskryf word. Aangesien menslike nedersettings lankal hier ontstaan het, is Bieszczady allesbehalwe 'n ongerepte wildernis. Maar dit is steeds 'n afgeleë en yl bevolkte streek met ongewone natuurskoon. Sowat sewentig persent van die Poolse Woudkarpategebied is met naald- en loofbosse bedek.

Anders as in die Hoë Tatra-gebergte met sy vyf plantegroeisones word Bieszczady se flora in drie sones verdeel. Tot by 'n hoogte van sowat 900 meter bo seevlak word digte bosse aangetref. In hoër geleë gebiede kom nog net dwergbeukebome voor, terwyl die hoogste sones bo 1 050 meter, net soos die bergpieke, deur sogenaamde połoniny oorheers word - uitgestrekte bergweivelde. Hierdie weivelde het op 'n natuurlike manier ontstaan, al is hulle vroeër deur skaapteelt kunsmatig uitgebrei.

Ook Bieszczady se fauna verskil duidelik van dié van ander berggebiede in Sentraal-Europa en het tot die streek se reputasie as ongerepte wildernis bygedra. Die streek is een van die natuurlike habitatte van die Eurasiese rooikat (Lynx lynx) wat intussen ook as Bieszczady se wapendier fungeer. Sowat 'n honderdtal van die skuwe katte bewoon die berggebied, net soos sowat sestig tot negentig bere, honderd wolwe en troppe buffels. Die laasgenoemdes kom nie natuurlik in Bieszczady voor nie, maar is eers deur die mens ingevoer.

Bewers het eers onlangs na die berggebied, veral die Nasionale Bieszczady-park, teruggekeer. Hulle het oorspronklik natuurlik in Bieszczady voorgekom, maar is waarskynlik in vroeëre tydperke as gevolg van 'n groter bevolkingsdigtheid deur die mens verdryf.

Inheemse voëlspesies sluit skaars steenarende, lammervangers, valke en rawe in. Anders as in Wes-Europa word ooievare orals in Bieszczady aangetref, selfs die skaars swart ooievaar. Die Eurasiese adder Vipera berus is een van die natuurlike vyande van ooievare. Hierdie taamlik dik slang met 'n lengte van 70 sentimeter kan selfs vir mense gevaarlik word. Nie-giftige slange soos Colubridae, wat tot twee meter lank word, kom veral langs die San-rivieroewers voor.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Bieszczady as deel van die Poolse kroon

[wysig | wysig bron]
Die San-vallei naby Lesko

Die Bieszczady-streek is vanaf 1000 deur Slawiese stamme bewoon, maar het eers vanaf die middel van die 14de eeu onder Poolse bewind gekom. Destyds is die land vanuit die Krakause Wawel-kasteel geregeer, die hoofwoning van die Poolse Piaste-dinastie.

Koning Kazimierz Wielki (Kasimir die Grote), wat tussen 1333 en 1370 geregeer het, het die berglandskap rondom die San-rivier de facto beset. Eers onder koningin Jadwiga (Hedwig van Pole, 1384-1399) is Bieszczady ook formeel by die Poolse koninkryk ingesluit. In die volgende twee eeue het talle setlaars onder leiding van twee adellike families, die Kmite en Bale, hulle in die gebied gevestig. Die meeste plaaslike nedersettings dateer uit hierdie tydperk.

Teen die begin van die 17de eeu het koning Sigismund III Wasa (Zygmunt III) sy regeringsetel van Krakau na Warskou verskuif - onder meer omdat dit nader by sy Sweedse geboorteland geleë was. Hierdie politieke besluit het groot veranderings vir Pole gebring, maar Bieszczady nouliks geraak. Eers toe Sweedse troepe in die middel van die 17de eeu Pole binnegeval en orals in die land verwoesting gesaai het, het Bieszczady die lot van ander landsdele gedeel. In 1657 het die Swede deur die San-vallei getrek en dorpe langs hulle pad aangeval.

Poolse Delinge en Oostenrykse bewind

[wysig | wysig bron]
Die Grieks-Katolieke Aartsengel-Michael-kerk in Turzańsk
19de eeuse woonhuis in die Museum vir Volksboukuns, Sanok

In die 18de eeu is Pole as gevolg van politieke moeilikhede en die verswakte adel altesaam drie gekeer gedeel en Poolse gebiede by Pruise, Oostenryk-Hongarye en Rusland ingelyf totdat die land uiteindelik van die Europese kaart verdwyn het. Veral Rusland, wat as beskermheid van Ortodokse minderhede in Pole opgetree het, het met sy invloed tot hierdie ontwikkeling bygedra.

Die Habsburgse monargie het groot dele van Suid-Pole as nuwe provinsie Galisië by Oostenryk-Hongarye ingelyf. Terwyl Krakau aanvanklik nog Pools gebly het, het Bieszczady reeds in 1772 onder Oostenrykse bewind gekom. In hierdie tydperk het keiser Joseph II 'n kolonisasieprogram begin waarvolgens Duitssprekende setlaars vanaf 1781 rondom die huidige distrikhoofstad Ustrzyki Dolne gevestig is. Koloniste is tien jaar lank van belasting bevry en het gratis hout vir die bou van huise ontvang. So het immigrante uit Swabe en Rynland na die gebied gestroom. Om te verhoed dat hulle deur die inheemse bevolking geassimileer sou word, is voorregte slegs aan nedersettings toegeken waar 'n minimum van ses Duitssprekende gesinne hulle gevestig het.

Ná die derde en laaste deling van Pole was die hele Gasilië, wat van Krakau oor Lemberg (Lwif) verder ooswaarts gestrek het, onder Oostenrykse bewind. Bewoners van Sanok, 'n nedersetting in Bieszczady, het in 1846 by Poolse opstandelinge aangesluit, tog het plaaslike boere die besetters ondersteun en die rebellie neergeslaan.

Die boere van Bieszczady, wat van die plaaslike adel afhanklik was, is tien jaar later van die herediens bevry. Ondanks die onderdrukking deur die besetters is ook die Woudkarpate gedeeltelik geïndustrialiseer. Die gebied was 'n belangrike verskaffer van hout sodat in die 1870's en 1880's met die bou van spoorlyne vir die houtuitvoer begin is.

Op politieke en kulturele gebied het in Bieszczady - net soos in Oos-Galisië - twee denkrigtings begin ontwikkel. Die nasionale Oekraïense beweging het vir 'n onafhanklike Oekraïense staat gepleit, terwyl Oud-Rusynse groeperings hulself as deel van die Russie nasie beskou het. Die eersgenoemde was die invloedrykste van die twee bewegings, maar het in die 19de eeu nogtans nie daarin geslaag om 'n selfstandige staat te stig nie.

Die Eerste Wêreldoorlog en die tyd daarna

[wysig | wysig bron]

[[Lêer:PODCIENIA KROSNO FOTO HEPNAR.JPG|duimnael|links|'n Booggang op die sentrale markplein van Krosno, 'n nedersetting wat geskiedenis geskryf het as 'n soort «Europese Texas» toe hier in 1854 die eerste olieontginningsaanleg ter wêreld in die nabygeleë dorpie Bóbrka saam met 'n raffinadery in bedryf gestel is.[1] Die Amerikaanse oliemagnaat John D. Rockefeller het spesialiste na die streek gestuur om die plaaslike oliebedryf te bestudeer[2][3] Toe in Augustus 1914 die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, was ook Oostenryk-Hongarye een van die oorlogspartye. Russiese troepe het Bieszczady binnegeval en in die winter van 1914/1915 swaar gevegte met Oostenryks-Hongaarse eenhede begin waartydens tienduisende gesneuwel het. Geen van die oorlogspartye het 'n oorwinning behaal nie, en eers toe Rusland die gebied ontruim het om sy soldate na ander oorlogstonele te stuur, is die slag om Bieszczady beslis.

Ná die vredesluiting in Versailles het Pole saam met ander klein Europese state sy onafhanklikheid herwin, en Bieszczady is weer by Pole ingesluit, net soos Lemberg wat - ná 'n kortstondige episode as hoofstad van 'n Wes-Oekraïense Volksrepubliek - vanaf 1919 Pools was en by sy ou Poolse kulturele en wetenskaplike tradisies aangesluit het.

Die stigting van onafhanklike state soos Tsjeggo-Slowakye in die suide het nuwe grense geskep en ou handelsbande vir Bieszczady belemmer. In 1920 is die grenslyn tussen Pole en die Sowjet-Oekraïne amptelik vasgestel en een jaar later ook deur Sowjet-Rusland erken. Die politieke veranderinge het by talle bewoners van Bieszczady nasionalistiese gevoelens gewek. 'n Groot deel van die bevolking het hulself immers as etniese Oekraïners beskou. Plaaslike politici het in opstand teen die Poolse bewind gekom en in November 1918 in Komańca, 'n gebied in die weste van Bieszczady, 'n kortstondige onafhanklike republiek geproklameer.

Die jare ná die oorlog was egter deur 'n vreedsame naasbestaan van Poolse en Oekraïense bewoners gekenmerk, en selfs gemengde huwelike het algemeen voorgekom.

Die Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
Stepan Bandera

In September 1939 het Duitse en Sowjet-troepe Pole binnegeval en die hele land beset. Bieszczady is aanvanklik nog nie deur die Nazi-terreurbewind geraak nie. Eers in Junie 1941 het Duitse troepe ná die aanval op die Sowjetunie die Sanrivier oorgesteek en begin om die plaaslike Joodse bevolking, wat in sommige dorpe die helfte van die inwoners verteenwoordig het, na konsentrasiekampe te deporteer. Die meeste van hulle sou nooit terugkeer nie.

In Bieszczady het die oorlogshandelinge ook ná die Duitse kapitulasie in Mei 1945 voortgeduur. Die gebied, waar Pole, Oekraïners en Christene van verskillende denominasies - Rooms-Katolieke, Grieks-Katolieke, Ortodokse en Protestante - vreedsaam saamgeleef het, was nou die toneel van 'n bloedige nasionalistiese burgeroorlog.

Een sleutelfiguur in die konflik was Stepan Bandera, die seun van 'n Grieks-Katolieke priester wat in 1909 gebore en in 1959 in München deur die KGB vermoor is. In 1943 is onder sy leierskap 'n Oekraïense opstandsleër gevorm wat vir 'n onafhanklike Oekraïense staat geveg het. In Pole het die leër as Ukraińska Powstańcza Armia, kort UPA, bekend gestaan.

Voor die stigting van die UPA het enkele van sy latere lede met die Nazi's gekollaboreer om voordeel uit Hitler se anti-Sowjet-Russiese beleid te trek. Maar in 1941 was dit duidelik dat die Duitsers die stigting van 'n onafhanklike Oekraïense staat met geweld sou verhinder.

Joodse begraafplase soos dié van Baligród is stomme getuies van uitgewiste gemeenskappe

Reeds in Augustus 1944, toe die Duitsers die gebied ontruim en die Rooi Leër genader het, het die UPA 'n bloedbad onder Poolse burgerlikes veroorsaak waarin in Baligród wes van die Solina-dam 42 mense dood is. Die UPA-vegters kon aanvanklik voordeel trek uit die onstabiele situasie in Pole kort ná die oorlog en het daarop vertrou dat 'n oorlog tussen die westelike geallieerdes en die Sowjetunie sou uitbreek wat die stigting van 'n Oekraïense staat moontlik sou maak. In 1946 het hulle steeds meer misdade teen Poolssprekende bewoners van Bieszczady gepleeg. In Maart 1947 is die Poolse vise-minister van verdediging, Karol Świerczewski, tussen Baligród en Cisna deur UPA-vegters doodgeskiet.

Eers nadat Poolse vasbeslote teen die rebelle begin optree het en dit duidelik geword het dat die weste nie teen die Sowjetunie oorlog sou voer nie, het hulle besef dat hul stryd vergeefs was en die wapens neergelê. Die oorlogshandelinge is gestaak, maar die Poolse owerheid het met drastiese maatreëls op die rebellie gereageer. In die sogenaamde "Operasie Wisła" in April 1947 het duisende Poolse soldate altesaam 35 000 mense - oorwegend etniese Bojke en Lemke - na ander gebiede in Pole gedeporteer, onder meer na die voormalige Duitse gebiede in die weste, alhoewel die oorgrote meerderheid van hulle hoegenaamd nie by die UPA-aktiwiteite betrokke was nie. So is ook bewoners uit die mees westelike gebiede verdryf waar partisane nooit aktief was nie. Nog voor 1946 is bewoners van Bieszczady ook in die Sowjet-Oekraïne hervestig. Bieszczady was sodoende in die laat 1940's byna heeltemaal ontvolk. Net 20 000 Lemke en 'n baie klein groep Bojke is verdrywing gespaar.

Die sosialistiese tydperk

[wysig | wysig bron]
Die Solina-dam, die grootste in Pole, is in 1968 voltooi
Oktoberson oor die Nasionale Bieszczady-park

Pole en die Sowjetunie het ná die oorlog gebiede geruil waarvolgens enkele nedersettings - Ustrzyki Dolne, Lutowiska, Czarna en Polana - weer Pools geword het. Net soos in ander landsdele is ook in Bieszczady grond onteien en herverdeel. Maar die gebied het enkele dekades lank op 'n byna onbewoonde wildernis gelyk.

Eers in die 1960's het die Poolse regering eerste programme van stapel gestuur waarvolgens boere, wat bereid was om hulle in Bieszczady te vestig, lenings ontvang het. Enkele nuwe setlaars het na die Woudkarpate gekom, maar die gebied het vanweë sy afgeleë ligging ook 'n gewilde bestemming vir mense geword wat ontevrede was met die kommunistiese bewind in Pole en 'n nuwe lewe in die ongerepte natuur begin het, waaronder hippies en kunstenaars. Die infrastruktuur is in die 1960's en 1970's met die bou van nuwe paaie in en na die gebied verbeter.

Ander infrastruktuurprojekte soos die bou van die Solina-dam met sy waterkragsentrale in die 1960's het die landskap van Bieszczady ingrypend verander. Die kommunistiese bewind het daarnaas onsinnige ekonomiese besluite geneem soos die stigting van groot veeboerderye in die dorp Tarnawa Niżna enkele honderd meter van die grens met Oekraïne af - en sodoende sonder toegang tot paaie en spoorweë.

Die huidige situasie

[wysig | wysig bron]
Die Solina-meer is 'n gewilde bestemming vir watersportgeesdriftiges

Die politieke onluste en omwenteling van die 1970's en 1980's het Bieszczady nouliks geraak - die gebied was nie belangrik genoeg nie en te yl bevolk om hierby enige rol te speel. Die drastiese ekonomiese veranderinge soos die omskakeling na 'n markekonomie het in die 1990's tot grootskaalse werkloosheid en migrasie van jongmense na ander Poolse gebiede gelei.

Intussen het Bieszczady sy ongerepte natuurskoon en afgeleë ligging tot 'n trekpleister vir toeriste begin ontwikkel. Nuwe hotelle en gashuise is opgerig en lok naas inheemse ook Duitse en Nederlandse toeriste met relatief lae pryse. Nogtans is Bieszczady steeds een van die armste streke in Pole.

Demografie

[wysig | wysig bron]

Etniese minderhede

[wysig | wysig bron]
Tradisionele Lemko-boukuns in die Opelugmuseum vir Volksboukuns te Sanok, Pole
Grieks-Katolieke houtkerk in Równia

Die Bieszczady is net soos die Beskid Niski- en Beskid Sądecki-bergreekse verder weswaarts vanaf die 13de eeu deur nomadiese stamme bewoon wat vanuit die suide en weste na die gebied gemigreer het. Die belangrikste etniese groepe was die Wolosi, wat van die Balkanskiereiland afkomstig was, en die Rusini, 'n stam wat sy wortels in Roetenië gehad het. Eers geleidelik het twee etniese groepe begin vorm wat later in Pools as Bojkowie en Łemkowie bekend sou staan. Die Poolse en Slowaakse Woudkarpate word vandag nog steeds met hierdie etniese minderhede vereenselwig, alhoewel hulle nog nouliks bestaan.

Die Bojkowie of Bojke het die oostelike dele van die Bieszczady-streek bewoon, terwyl die Łemkowie of Lemke in die berggebiede gekonsentreer was wat van die westelike Bieszczady tot by die Beskid Sądecki-reeks strek. Die Solinka-rivier en die Wyzoki Dzial-bergmassief het as natuurlike grens tussen die twee stamgebiede gedien.

Die verskille tussen die twee volksgroepe is relatief onbeduidend, in kulturele opsig is daar selfs groot ooreenkomste. Albei word by die Rusynse bergbewoners gereken en maak gebruik van die Cyrilliese alfabet. Alhoewel daar sekere verskille tussen die twee streektale bestaan, besig sowel Bojke asook Lemke Oekraïense dialekte as moedertaal. 'n Tipiese kenmerk is die gebrek aan 'n vaste woordaksent soos in Pools waar die klemtoon steeds op die voorlaaste lettergreep val.

Groter verskille bestaan ten opsigte van tradisionele kleredrag, boukuns en godsdiens. Ná die Unie van Brest in 1596 het Bojke en Lemke merendeels by die Grieks-Katolieke Kerk aangesluit wat die gesag van die pous in Rome erken het, maar sy ou tradisionele Oosterse ritus en geloofspraktyke bybehou het. Teen die einde van die 19de eeu het die Rooms-Katolieke kerkhiërargie geleidelik begin om die Latynse ritus af te dwing - 'n optrede wat baie inheemse Christene na die Oosters-Ortodokse Kerk laat terugkeer het. tot in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog het albei denominasies vreedsaam naas mekaar bestaan, terwyl die Rooms-Katolieke geloof nog nouliks aanhangers in die streek gehad het. Die Bojke- en Lemke-bevolking is destyds op tussen 200 000 en 300 000 beraam.[4]

Maar ook voor-christelike heidense gelowe het voortgeleef. So was Bojke en Lemke vroeër daarvan oortuig dat elke mens sowel 'n Christelike asook 'n demoonse gees sou hê.

Kenmerkend vir Bieszczady is die plaaslike Grieks-Katolieke en Ortodokse houtkerke wat in Pools cerkiew genoem word. Vir kunsliefhebbers en toeriste is twee sogenaamde Ikoneroetes ingerig wat belangrike houtkerke met mekaar verbind.

Omdat Bojke en Lemke Oekraïense dialekte praat, is hulle ná die Tweede Wêreldoorlog van kollaborasie met die UPA beskuldig en merendeels uit hul tuisland verdryf. Huise en kerke is aan die brand gesteek, begraafplase verwoes. Eers jare later kon enkele verdrewenes na Bieszczady terugkeer. Tans word die aantal Bojke en Lemke in Pole op sowat 100 000 beraam, alhoewel baie jongmense min belang in hul etniese identiteit stel. Hul taal word in skole onderwys, tog bly die toekoms van die twee etniese minderhede onseker.

Een van die bekendste Lemke is die pop art-kunstenaar Andy Warhol, die seun van twee Slowaakse Lemke wat na die Verenigde State geëmigreer het. Sy broer John het in 1991 in die geboortestad van sy ouers, Medzilaborce in Slowakye, die "Andy Warhol-museum van moderne kuns" geopen.

Die tradisionele leefwyse van Bojke en Lemke word in Pole in die opelugmuseum te Sanok verduidelik.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Olie- en gasmuseum in Bóbrka: Die olieveld. Besoek op 26 November 2019]
  2. iol.co.za, 17 November 2014: World’s first oil well: ‘It all began there’. Besoek op 26 November 2019
  3. Jan Golonka, Frank J. Picha, Frank J Picha (reds.): The Carpathians and Their Foreland: Geology and Hydrocarbon Resources. AAPG Memoir, vol. 84. Tulsa, OK: American Association of Petroleum Geologists (AAPG) 2006, bl. 280
  4. Krzysztof Dydyński: Poland. 4de uitgawe. Melbourne • Oakland • Londen • Parys: Lonely Planet 2002, bl. 289

Bronliteratuur

[wysig | wysig bron]
  • Thorsten Klute: Die Polnischen Waldkarpaten. Berlyn: Trescher 2006
  • Michelin - Der Grüne Reiseführer: Polen. München: Travel House Media 2006, bl. 220-227

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Nasionale Bieszczady-park