Aleksander III van Rusland
Aleksander III | |
---|---|
Keiser van die hele Rusland | |
Dinastie | Romanof |
Bewind | 1881–1894 |
Volle naam | Aleksander Aleksandrowitsj Romanof |
Ander titels | Tsaar |
Gebore | 26 Februarie 1845 |
Sint Petersburg | |
Gesterf | 20 Oktober 1894 |
Liwadija, Krim | |
Voorganger | Aleksander II |
Opvolger | Nikolaas II |
Gade | Dagmar van Denemarke (Maria Fjodorowna) |
Kinders | Nikolaas II, Aleksander, Georgi, Ksenia, Michail, Olga |
Vader | Aleksander II |
Moeder | Prinses Marie van Hesse-Darmstadt |
Aleksander III Aleksandrowitsj (Russies: Александр III Александрович) (Sint Petersburg, 26 Februarie 1845 — Liwadija, Krim, 20 Oktober 1894) was van 1881 tot 1894 keiser van Rusland.
Vroeë lewe
[wysig | wysig bron]Aleksander was die tweede seun van Aleksander II by sy vrou, Maria Aleksandrowna (Marie van Hesse-Darmstadt). Hy was glad nie soos sy sagmoedige, liberale pa nie en nog minder soos sy verfynde, filosofiese, sentimentele grootoom Aleksander I. Ondanks ’n belangstelling in musiek en ballet was hy nie juis verfynd en statig nie. Sy manier van optrede was kortaf, sy manier van praat bot en reguit, sy gelaatstrekke grof en sy manier van beweeg traag.
Hy het kroonprins geword met die skielike dood van sy oudste broer, Nikolaas, in 1865. Hy het toe begin om die beginsels van die reg en administrasie te bestudeer onder Konstantin Pobedonostsef, ’n professor aan die Moskouse Staatsuniversiteit.
Op sy sterfbed het sy oudste broer die wens uitgespreek dat sy toekomstige bruid, prinses Dagmar van Denemarke, met sy opvolger trou. Op 9 November 1866 het Aleksander toe ook met haar getrou. Dit was ’n gelukkige huwelik tot die einde, sonder die owerspel wat sy pa se persoonlike lewe gekenmerk het.
Bewind
[wysig | wysig bron]Die pogings van sy pa om groter outonomie aan die Russiese volk te gee, word deur Aleksander III beëindig. Weens die sluipmoord op sy pa glo hy sulke vryhede sal net meer rewolusionêre idees voortbring. Sy bewind is dan ook reaksionêr. Hy ontslaan die liberale ministers van sy pa, beperk die bevoegdhede van die zemstwo's, verskerp die staatstoesig op middelbare en hoër onderwys, brei die bevoegdhede van die polisie aansienlik uit en tree as bewaker van die ortodoksie streng op teen Jode, Rooms-Katolieke en Protestante. Opstandelinge en andersdenkendes word in massas na Siberië verban.
In 1887 beplan die Narodnaja Wolja weer eens om die keiser te vermoor, nes hulle met sy pa gedoen het. Onder die samesweerders is ene Aleksander Oeljanof. Hy kry die doodstraf en word op 5 Mei 1887 gehang. Aleksander was die oudste broer van Wladimir Iljitsj Oeljanof, wat later bekend geword het onder sy eertydse skuilnaam Wladimir Lenin. Die dood van sy broer het ’n groot invloed gehad op Lenin se politieke uitkyk.
Wat buitelandse beleid betref, was Aleksander III hoofsaaklik ’n man van vrede, maar nie noodwendig ’n voorstander van vrede tot elke prys nie. Hy het geglo die beste manier om oorlog te vermy, was om goed voorberei daarop te wees. Hy was teen te veel buitelandse invloed, veral Duitse invloed. Hy wou ’n homogene Rusland hê – homogeen in taal, administrasie en godsdiens. Dit was in skrille kontras met sy pa wat, hoewel hy ’n groot patriot was, baie pro-Duits was.
Huwelik en kinders
[wysig | wysig bron]Op 28 Oktober 1866 trou Aleksander met die Deense prinses Dagmar. Sy neem die naam Maria Fjodorowna aan en hulle het ses kinders:
- Nikolaas II (18 Mei 1868 – 16 Julie 1918)
- Aleksander Aleksandrowitsj (7 Junie 1869 – 2 Mei 1870)
- George Aleksandrowitsj (6 Mei 1871 – 9 Augustus 1899)
- Ksenia Aleksandrowna (6 April 1875 – 20 April 1960)
- Michail Aleksandrowitsj (22 November 1878 – 12 Junie 1918)
- Olga Aleksandrowna (13 Junie 1882 – 24 November 1960)
Stamboom
[wysig | wysig bron]Pieter III | ||||||||||||||||
Paul | ||||||||||||||||
Katharina II | ||||||||||||||||
Nikolaas I | ||||||||||||||||
Aleksander II | ||||||||||||||||
Aleksander III | ||||||||||||||||
Sien ook
[wysig | wysig bron]Skakels
[wysig | wysig bron]- ’n Kort biografie Geargiveer 7 April 2005 op Wayback Machine
- Nog ’n biografie
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Aleksander III van Rusland.
- Hierdie artikel is vertaal van die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Alexander III van Rusland