Gaan na inhoud

Advent

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Adventskrans met 'n pienk kers vir die Gaudete-Sondag
Die aartsengel Gabriël kondig vir die Maagd Maria die naderende koms van die Here aan. Olieverf deur Robert Campin, 1420–1440, Brussel
Kerkdiens tydens Advent in die Sint-Vituskatedraal, Praag, Tsjeggië
Wierook tydens die Adventvesper

Advent (Latyn: adventus, letterlik: "naderende koms"), afgelei van adventus Domini (Latyn vir: "naderende koms van die Here"), is die tydperk, waarin Christene hulself vir Kersfees, die geboortefees van Jesus voorberei. Daarbenewens herinner dié tydperk Christene aan die verwagte wederkoms van Jesus. Die Advent begin volgens Rooms-Katolieke en Protestantse tradisies met die Vesper op die vooraand van die eerste Adventsondag en vervolgens ook die nuwe liturgiese jaar.[1]

Tussen die konfessie van die Adventiste en die Adventtydperk bestaan 'n indirekte verband, omdat albei benamings na die verwagte (weder)koms van Jesus verwys.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die benaming "Advent" kan as 'n vertaling na die Griekse term ἐπιφάνεια epipháneia ("Verskyning", sien Epifanie) teruggevoer word en het in die Romeinse Ryk na die naderende koms, teenwoordigheid of besoek van 'n ampsdraer, veral dié van 'n koning of keiser (adventus Divi, "naderende koms van die goddelike heerser") verwys. Dié term kon egter ook na die naderende koms van 'n God in sy tempel verwys. Die eerste Christene het hierdie betekenis oorgeneem om hul betrekking met Jesus te beklemtoon; die Vulgaat gebruik adventus om na sy inkarnasie (menswording) asook sy eindelike wederkoms te verwys. Dit is as 'n leenwoord in die meeste moderne Europese tale oorgeneem.[2]

Nes die Vastyd voor Paasfees was die Adventstyd oorspronklik 40 dae lank en het rondom die Sint-Maartenfees op 11 November begin.[3]

Elkeen van die vier Adventsondae het sy eie betekenis:

  • Die 1ste Sondag dien as voorbereiding vir die naderende koms van die Here, veral in die Protestantse kerke is dié Sondag aan Jesus se intog in Jerusalem gewy.
  • Die 2de Sondag dien as voorbereiding vir die koms van die Verlosser.
  • Die 3de Sondag is aan Johannes die Doper gewy.
  • Die 4de Sondag is in die Rooms-Katolieke Kerk aan die Maagd Maria gewy, terwyl in die Protestantse kerke dié Sondag aan die naderende geboorte van Jesus gewy is.

Datums

[wysig | wysig bron]

Die Adventstyd se verskillende lengtes het sy oorsprong in die bepaling van die begin op 'n weeksdag, Sondag, terwyl die einde aan 'n maanddag, 24 of 25 Desember, geheg is. Die vierde en laaste Sondag kan net voor 25 Desember wees, vervolgens is die vroegste moontlike termyn vir die laaste Sondag volgens die Gregoriaanse kalender 18 Desember en die laaste moontlike 24 Desember. Dus kan die Adventstyd net tussen 27 November en 3 Desember begin.

Adventsondag Vroegste datum Laatste datum Kerklied
1ste Sondag 🕯 27 November 3 Desember Levavi
2de Sondag 🕯🕯 4 Desember 10 Desember Populus Sion
3de Sondag 🕯🕯🕯 11 Desember 17 Desember Gaudete
4de Sondag 🕯🕯🕯🕯 18 Desember 24 Desember Rorate

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Julia Martin (1 Desember 2018). "Das bedeuten die vier Adventssonntage". katholisch.de (in Duits). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2019. Besoek op 22 April 2019.
  2. (de) Hansjörg Auf der Maur: Feiern im Rhythmus der Zeit I. Herrenfeste in Woche und Jahr. Regensburg 1983, ISBN 3-7917-0788-4 (Gottesdienst der Kirche. Handbuch der Liturgiewissenschaft, uitgereik deur Hans Bernhard Meyer, Deel 5), bl. 180.
  3. (de) Advent. In: Ökumenisches Heiligenlexikon (heiligenlexikon.de). Besoek op 22 April 2019.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]