Nieu-Seeland Krieket
Nieu-Seeland Krieket | |
---|---|
Kenteken van Nieu-Seeland Krieket
| |
Engelse naam | New Zealand Cricket |
Afkorting | NZC |
Land | Nieu-Seeland |
Sportsoort | Krieket |
Stigting | 27 Desember 1894 |
Gestig in | Christchurch, Nieu-Seeland |
Lid van | Internasionale Krieketraad |
Aangesluit op | 31 Mei 1926 |
Vastelandse beheerliggaam | IKR Oos-Asië-Oseanië |
President | Debbie Hockley |
Voorsitter | Martin Snedden |
Hoof- uitvoerende beampte | David White |
Setel | Christchurch, Nieu-Seeland |
Amptelike taal | Engels |
Amptelike webwerf | nzc.nz |
Nieu-Seeland Krieket (Engels: New Zealand Cricket, afgekort “NZC”), voorheen bekend as die Nieu-Seelandse Krieketraad (New Zealand Cricket Council, “NZCC”), is die bestuursliggaam wat krieket in Nieu-Seeland beheer. Die beheerliggaam is in 1894 gestig en in Christchurch gesetel. Sedert 1926 verteenwoordig dit Nieu-Seeland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by IKR Oos-Asië-Oseanië (ICC East Asia-Pacific).
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Nieu-Seelandse Krieketraad is op 27 Desember 1894 gestig.[1] Op 31 Mei 1926 het die Nieu-Seelandse beheerliggaam saam met sy Indiese en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Hulle mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[2][3]
Taak
[wysig | wysig bron]Nieu-Seeland Krieket organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Nieu-Seeland se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Black Caps), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Nieu-Seeland Krieket verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nieu-Seelandse span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Nieu-Seeland. Net soos ander krieketlande beskik Nieu-Seeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[4] Nieu-Seeland A is die tweede nasionale span van Nieu-Seeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Nieu-Seeland is die Plunket Shield in eersterangse krieket (ses spanne), die Ford-trofee in A-lys-krieket (ses spanne) en die Super Smash in T20-krieket (ses spanne).
Nieu-Seeland Krieket organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die krieketwêreldbekertoernooie in 1992 en 2015 (albei saam met Australië). Saam met Australië sal Nieu-Seeland ook die T20I-wêreldbeker 2028 aanbied.[5]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Cricket Conference: Formation of a New Zealand Council". Press. 28 Desember 1894. p. 3. Besoek op 13 Februarie 2024.
- ↑ (en) "1909–1963 – Imperial Cricket Conference". Internasionale Krieketraad. Besoek op 13 Februarie 2024.
- ↑ (en) "New Zealand Cricket". Internasionale Krieketraad. Besoek op 13 Februarie 2024.
- ↑ (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 13 Februarie 2024.
- ↑ (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 13 Februarie 2024.