Die aartappel (Solanum tuberosum) is 'n styselryke, knolagtige plant van die Solanaceae-familie. Die woord aartappel kan verwys na die plant, sowel as die eetbare knol. In die omgewing van die Andes word daar ook etlike naverwante aartappel-spesies gekweek. Aartappels is die wêreld se vierde gewildste voedselgewas, ná rys, koring en mielies.[1] Tans word meer as 8 000 aartappelkultivars in meer as 130 lande verbou. Daar word beraam dat sowat 350 miljoen ton aartappels op 195 000 vierkante kilometer se aartappelvelde verbou word.[2]

Aartappel
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eudicots
Klade: Asterids
Orde: Solanales
Familie: Solanaceae
Genus: Solanum
Spesie:
S. tuberosum
Binomiale naam
Solanum tuberosum

Langtermynberging van aartappels vereis gespesialiseerde sorg in koue pakhuise[3] en hierdie pakhuise is van die oudste en grootste stoorgeriewe vir bederfbare goedere in die wêreld.

Oorsprong en verspreiding

wysig

Wilde aartappelspesies kom steeds voor in die Verenigde State, Uruguay en Chili.[4] Genetiese toetsing van die wye verskeidenheid van kultivars en die wilde spesie dui daarop dat die aartappel 'n enkele oorsprong gehad het in die Titicaca-meerbekken van suidelike Peru naby die grens met Bolivië,[5] van 'n spesie in die Solanum brevicaule-kompleks (moontlik as afstammeling van Solanum candolleanum). Dit is waarskynlik dat hierdie wilde aartappelspesies reeds 'n aanvullende voedsel in die daaglikse dieet van plaaslike bewoners was. Nogtans het die hoë gliko-alkaloiedinhoud ('n toksiese substans) prosessering en voorbereiding van die aartappels noodsaaklik gemaak. Styselkorrels wat op werktuie in die Titicacabekken gevind is, en baie ooreenkomste toon met ons huidige gevriesdroogde aartappelprodukte, dui daarop dat aartappels reeds 3 500 jaar gelede gedroog en fyngemaal is.[6]

Hoewel Peru in wese die geboorteplek van die aartappel is, is vandag meer as 99 persent van alle wêreldwye verboude aartappels afstammelinge van 'n subspesie inheems aan suid-sentrale Chili.[7] Op grond van historiese rekords, plaaslike landboukundiges, en DNS-ontleding, is die mees verboude wêreldwye variant, Solanum tuberosum ssp. tuberosum, inheems aan die Chiloé-eilandgroep waar dit reeds 10 000 jaar gelede al gekweek is.[8][9]

Sedert die eerste Europese invoere deur Spanje in 1536, is die aartappel deur Europese seevaarders versprei na hawens en gebiede wêreldwyd. Duisende rasse volhard in die Andes, waar meer as honderd kultivars in 'n vallei gevind kan word, en 'n dosyn of meer kan onderhou word deur 'n landbouhuishouding.[10] Aartappels het gou 'n belangrike stapelvoedsel en veldgewas geword nadat dit in Europa gevestig is. Maar 'n gebrek aan genetiese diversiteit, weens die feit dat baie min rasse aanvanklik ingevoer is, het die gewas kwesbaar gemaak vir siektes. In 1845 het 'n plantsiekte, bekend as laatroes, veroorsaak deur die swam-agtige oomiseet Phytophthora infestans, vinnig deur die armer gemeenskappe van Wes-Ierland versprei, wat gelei het tot oesmislukkings en die groot Ierse hongersnood.

Aan die Kaap die Goeie Hoop is aartappels vanaf die 1770s (moontlik al heelwat vroeër) sowel vir plaaslike verbruik verbou as vir proviand aan verbygaande skepe op die roete na Indië en elders. In die res van Afrika is die gewas eers deur sendelinge ingevoer wat hulle in die 1830s in Basoetoland (tans Lesotho) en in die 1880s in Oos-Afrika gevestig het.[11]

Produksie

wysig
 
Oktober. Skildery deur Jules-Bastien Lepage (1848−1884)
Olie op doek (1878). National Gallery of Victoria, Melbourne, Australië
 
Aartappeloes in Noord-Lincolnshire, Engeland

Die jaarlikse dieet van 'n gemiddelde wêreldburger in die eerste dekade van die twintigste eeu het meer as 33 kg (of 73 lb) aartappels ingesluit. Die plaaslike belangrikheid van die aartappel is ongelukkig baie wisselvallig en kan vinnig verander. Dit bly 'n belangrike gewas in Europa (veral Oos- en Sentraal-Europa), waar die per kapita-produksie steeds die hoogste in die wêreld is, maar die vinnigste groei oor die afgelope paar dekades het in Suid- en Oos-Asië plaasgevind. China is nou die wêreld se grootste aartappelprodusent, en byna 'n derde van die wêreld se aartappels word in China en Indië geproduseer.[12]

Aartappels reproduseer in oormaat met min moeite en is redelik goed aangepas by diverse klimaatstoestande, mits die klimaat koel en klam genoeg is vir die plante om genoeg water te versamel uit die grond om die styselagtige knolle te vorm. Aartappels stoor nie baie goed nie en is kwesbaar vir swamme wat op die gestoorde knolle voed en hulle vinnig laat vrot. In teenstelling kan gewasse soos graan vir 'n paar jaar gestoor word met 'n lae risiko van verrotting. Die opbrengs van kalorieë per akker (sowat 9,2 miljoen) is hoër as dié van mielies (7,5 miljoen), rys (7,4 miljoen), koring (3 miljoen), of sojaboon (2,8 miljoen).[13]

Top aartappelproduserende lande

wysig
Land Megaton (2013)
  China 88.9
  Indië 45.3
  Rusland 30.2
  Oekraïne 22.3
  VSA 19.8
  Duitsland 9.7
  Bangladesj 8.6
  Frankryk 7.0
  Nederland 6.8
  Pole 6.3
Wêreldtotaal 368.1
Bron: FAOSTAT[14]

Bestanddele

wysig

Die berekende voedingswaarde van 100 gram gekookte aartappel is: [15]

Energiewaarde 458 kJ
Water 71,2 %
Koolhidraat 22,7 gram
Proteïne 2,3 gram
Vet 0,1 gram
Vitamien C 13 mg
Kalsium 10 mg

Aartappelplant

wysig

Die aartappel is 'n blaarryke, kruidagtige gewas wat tot een meter hoog kan word. Die blomme wissel in kleur volgens die variëteit en wit, ligroos en bloupers word aangetref. Die vruggies wat uiteindelik na bevrugting uit die blomme ontstaan, is groen bessies wat baie na klein, groen tamaties lyk.

Die ondergrondse gedeelte van die plant bestaan uit ʼn betreklik swak ontwikkelde wortelstelsel en vertakkings van die stam, waarvan die punte verdik om die knolle te vorm. Dat die aartappelknol 'n stam en nie ʼn wortel is nie, blyk onder meer uit die feit dat dit onontwikkelde sytakke, bekend as oë, het; verder word dit groen deur blootstelling aan lig. As die knol geplant word, ontwikkel die oë tot 'n nuwe plant. Indien die knol in stukke, elk met een of meer oë, gesny word, is elke stuk in staat om tot 'n plant te ontwikkel. Gewoonlik word egter kleinerige heel knolle as plantmateriaal (moere) verkies.

Aartappelgeregte

wysig

Verskillende soorte

wysig

'n Baie groot verskeidenheid aartappelsoorte (variëteite) wat by bepaalde klimaatstoestande aangepas is, word oor die wêreld aangetref. Die planttelers het deur middel van kruisteelt en seleksie reeds 'n baie groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van beter aangepaste variëteite met hoe siekteweerstand en kwaliteit.

Afgesien van algemene groeiwyse, verskil die verskillende aartappelvariëteite aansienlik wat knoleienskappe betref. So byvoorbeeld verskil die, vorm van die knolle en die kleur van die skil. Laasgenoemde wissel van ligbruin tot donkerrooi. Ook die vleiskleur wissel van wit tot heldergeel. In Suid-Afrika bestaan daar by huisvrouens 'n vooroordeel teen aartappels met geel vleis, waarskynlik omdat hulle ongewoond daaraan is. Variëteite met geel vleis het dikwels 'n besonder goeie geur.

Samestelling van die aartappel

wysig

Die aartappelknol bestaan uit 72-80% water. Die droë materiaal bestaan oorwegend (80-88%) uit stysel. Aartappels bevat slegs 3-8% suiker. Die stikstofverbindings vorm sowat 3% van die droë massa en bestaan uit proteïen, veral globulien, en sekere vry aminosure. Slegs spore van vet kom voor. Wat minerale bestanddele betref, is die knol ryk aan kalium, fosfor en yster, maar arm aan kalsium. Die aartappel kan as 'n goeie bron van sekere vitamiene, veral, askorbiensuur (vitamien C), tiamien (vitamien B1), riboflavien (vitamien B2) en niasien, beskou word.

Ongelukkig is die belangrike vitamiene A en D feitlik nie aanwesig nie. Met uitsondering van die tropiese gebiede, word aartappels oral waar landbou beoefen word as voedselgewas geplant. Die voedingswaarde van aartappels word dikwels onderskat, maar dit is beslis een van die mees ekonomiese stapelvoedsels. 'n Dieet bestaande uit aartappels en volmelk het min of meer al die bestanddele vir liggaamsonderhoud. Dit kan ook met groot voordeel as veevoer aangewend word. Ook in die nywerheid word die aartappel gebruik, veral as bron van nywerheidstysel en alkohol. Laasgenoemde word verkry deur die gisting en distillasie van aartappels.

Sien ook

wysig

Bronne

wysig

Verwysings

wysig
  1. "Potatoes – Notes" (in Engels). Department of Horticulture and Landscape Architecture, Purdue University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Maart 2016. Besoek op 15 Januarie 2009.
  2. "Potatoes South Australia: Industry. Potatoes – The World's favourite vegetable. Besoek op 29 Mei 2017". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 April 2017. Besoek op 29 Mei 2017.
  3. Potato storage, value Preservation: Kohli, Pawanexh (2009). "Potato storage and value Preservation: The Basics" (PDF). Crosstree Techno-visors. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 6 Augustus 2020. Besoek op 2 Junie 2010.
  4. Hijmans, RJ; Spooner, DM (2001). "Geographic distribution of wild potato species". American Journal of Botany. Botanical Society of America. 88 (11): 2101–12. doi:10.2307/3558435.
  5. Spooner, DM (2005). "A single domestication for potato based on multilocus amplified fragment length polymorphism genotyping". Proceedings of the National Academy of Sciences. 102 (41): 14694–99. doi:10.1073/pnas.0507400102. Lay summary Geargiveer 26 April 2011 op Wayback Machine
  6. Hugo Campos • Oscar Ortiz (reds.): The Potato Crop. Its Agricultural, Nutritional and Social Contribution to Humankind. Springer Open 2020. Kindle-uitgawe, pos. 3398–3405
  7. Miller, N (29 Januarie 2008). "Using DNA, scientists hunt for the roots of the modern potato" (in Engels). American Association for the Advancement of Science. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Februarie 2020. Besoek op 10 September 2008.
  8. Solis, JS (2007). "Molecular description and similarity relationships among native germplasm potatoes (Solanum tuberosum ssp. tuberosum L.) using morphological data and AFLP markers". Electronic Journal of Biotechnology. 10 (3): 0. doi:10.2225/vol10-issue3-fulltext-14.
  9. John Michael Francis (2005). Iberia and the Americas. ABC-CLIO. ISBN 1-85109-426-1.
  10. Theisen, K (1 Januarie 2007). "World Potato Atlas: Peru – History and overview". International Potato Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2008. Besoek op 10 September 2008.
  11. John Reader: The Untold History of the Potato. London: Vintage Books 2009, bl. 246-47
  12. Hijmans, Robert (2001). "Global distribution of the potato crop". American Journal of Potato Research. 78 (6): 403–12. doi:10.1007/BF02896371.[dooie skakel]
  13. Ensminger, Audrey; Ensminger, M. E.; Konlande, James E. (1994). Foods & Nutrition Encyclopedia. CTC Press. ISBN 0-8493-8981-X.
  14. "FAOSTAT". faostat.fao.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2016. Besoek op 25 Januarie 2015.
  15. "USDA National Nutrient Database for Standard Reference". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Maart 2015. Besoek op 24 Desember 2013.

Eksterne skakels

wysig
Wiki-webtuistes

Fotokuns

Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.