Gaan na inhoud

Dazjbog

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
M. Presnyakov. Dazjbog. 1998.

Dazjbog, Dazbog of Dazhdbog (Suid-Slawies Dabog of Dajbog, Tsjeggies Dažbog, Pools Dadzbóg of Dadźbóg, Serwies Дажбог/Dažbog) was een van die hoofgode van die Slawiese mitologie, waarskynlik ’n songod en moontlik ’n kultuurheld. Hy is een van die outentieke Slawiese gode wat in verskeie Middeleeuse manuskripte genoem word, en een van ’n paar gode wat deur al die Slawiese volke aanbid is.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Dazjbog word in die Russiese Primêre Kronieke, ’n geskiedenis van die vroeë Kiëf-Roes, genoem as een van die sewe gode waarvan grootprins Wladimir die Grote standbeelde voor sy paleis laat oprig het in 980, toe hy die troon bestyg het. Die naam word ook genoem in die Ipatijef-kronieke en in die Middeleeuse Russiese epiese Verhaal van Igor se veldtog.

Hoewel hierdie Middeleeuse dokumente uit die Oos-Slawiese gebied kom, het soortgelyke name in Wes- en Suid-Slawiese bevolkings voorgekom. Veral interessant is die Serwiese god Dabog of Dajbog. Die meeste moderne mitologie-kenners neem as vanselfsprekend aan dat dit dieselfde karakter is as die Oos-Slawiese Dazjbog/Dazbog, ook bekend as Hromi Daba, wat in volksverhale beskryf word as ’n lelike duiwel-meester wat oor die onderwêreld regeer. Hoewel hy nie altyd boos is in volksverhale nie, word Dabog/Dazjbog dikwels voorgestel as ’n vyand van die Christelike God of heiliges. Hoewel ’n mens kan aanneem dat die Slawiese songod in ’n soort duiwel omskep is ná die Slawiërs se kerstening, is daar ’n paar redelik duidelike tekens dat selfs die oorspronklike, voorchristelike Dazjbog/Dabog baie sterk onderwêreldse eienskappe gehad het.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die betekenis van Dazjbog se naam is nie, soos in die geval van ander gode, heeltemal duidelik nie. Met inagneming van die verskillende spellings, stem die meeste kenners egter saam dat die stam dazj- of daj- afgelei is van die werkwoord dat ("om te gee"). Dazjbog beteken dus "gewende god", "god-gewer", "god-skenker". Dit is veral interessant omdat die Slawiese woord vir god, bog of boh, die agtervoegsel van Dazjbog se naam, mees waarskynlik van Iranse oorsprong is, verwant aan die Avestiese woord baga en die Sanskritiese woord bhagah (albei beteken "god"). Dit kom weer oorspronklik van die Proto-Indo-Europese *bhag, wat rykdom en voorspoed beteken. As die naam Dazjbog dus direk vertaal word, kan dit "gewer van voorspoed" beteken. Dit sluit aan by die antieke Indo-Europese konsep dat ’n godheid in wese iemand is wat rykdom en oorvloed gee, ’n aanduiding dat Dazjbog miskien ’n oorblyfsel is van die Proto-Indo-Europese godsdiens of selfs dat dit nie die naam van ’n spesifieke Slawiese god was nie, maar ’n algemene naam vir ’n godheid.

Karaktertrekke

[wysig | wysig bron]

Die interessantste passasie oor Dazjbog kom uit die Ipatijef-kronieke, ’n 15de eeuse samestelling van verskeie veel ouer dokumente uit die Ipatijef-klooster in Rusland. Die hele passasie, herskryf uit verskeie manuskripte, lees as volg:

(Toe) het die bewind van Feosta (Hephaestus), wat die Egiptenare Swarog genoem het, begin . . . tydens sy bewind het die smid se gereedskap uit die hemel geval en wapens is vir die eerste keer gesmee; voorheen het (mense) met knuppels en klippe geveg. Feosta het die vroue ook beveel om net een man te hê . . . en dit is hoekom die Egiptenare hom Swarog genoem het . . . Ná hom het sy seun regeer, sy naam was die Son, en hulle het hom Dazjbog genoem . . . Son-tsaar, seun van Swarog, dit is Dazjbog.

Dit is in werklikheid ’n Slawiese vertaling uit ’n oorspronklike Griekse manuskrip van Malalin uit die 6de eeu. In Griekse tekste is die naam van gode Hephaestus en Helios. Die onbekende vertaler het blykbaar die hele storie (wat in Egipte afspeel) vertel deur die name van klassieke gode te vervang met name wat beter bekend was onder sy lesers.[1] ’n Mens kan net hoop dat hy die name van Griekse gode wel vervang het met die name van hul regte Slawiese eweknieë.

Een area bly egter problematies. In alle Slawiese tale is die woord vir Son onsydig of vroulik, nooit manlik nie. In die Baltiese mitologie, wat die naaste aan Slawies is, is die Son ’n vroulike god, Saule, terwyl die Maan manlik is. Dieselfde patroon kan gesien word in die volksverhale van baie Slawiese volke, waar die Son feitlik altyd verbind word met ’n ma of bruid, en die Maan met ’n pa of man, en die sterre met kinders. Wat dit beteken vir Dazjbog as ’n moontlike manlike songodheid in die Slawiese goderyk, is onseker.

Bogenoemde passasie het ook ’n hele paar teorieë laat ontstaan oor die familieverbintenis tussen die Slawiese gode. As ons aanneem dat Swarog inderdaad Dazjbog se pa was, ontstaan die vraag wat sy verhouding met Swarogitsj was, ’n ander god van vuur en oorlog wat genoem word in verskeie ander Middeleeuse dokumente wat die geloof van die heidense Slawiërs beskryf. Swarogitsj is die verkleinvorm van Swarog, dus "klein Swarog", wat beteken hy word as ’n seun van Swarog beskou. Die kenners Wjatsjeslaf Iwanof en Wladimir Toporof stel voor dat Swarog, ’n god van vuur en die smeltoond soortgelyk aan die Griekse Hephaestus, twee seuns gehad het: Dazjbog wat die vuur in die lug (dus die Son) verteenwoordig, en Swarogitsj wat die vlam op aarde, dus in die smeltoond, simboliseer.[1] Henrik Lovmjanjski handhaaf egter die teorie dat Swarog ’n Slawiese luggod en die verpersoonliking van die daglig-hemel self was, moontlik ’n voortsetting van die Proto-Indo-Europese *Dyēus, terwyl Swarogitsj en die son-Dazjbog dieselfde god was. Hy beweer verder daar bestaan nog twee aspekte van Swarogitsj: die son-Swarogitsj en die maan-Swarogitsj.[2] Franjo Ledic glo egter Swarog en Dazjbog is dieselfde god.[3]

Een feit bly egter staan: In die Verhaal van Igor se Veldtog word die Russe en hul prinse "Dazjbog se kleinkinders" genoem, ’n aanduiding dat Dazjbog beskou is as ’n voorvaderlike godheid, ’n algemene rol vir ’n oertipe-kultuurheld in die mitologie.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Vitomir Belaj "Hod kroz godinu, mitska pozadina hrvatskih narodnih vjerovanja i obicaja", Zagreb, 1998.
  2. Henrik Lovmjanjski, Religija Slovena, Beograd 1996
  3. Franjo Ledić. Mitologija Slavena, vol. I, Zagreb, 1970.