Thomas de Quincey
Thomas de Quincey | |
---|---|
Thomas de Quincey deur John Watson-Gordon | |
Gebore | Thomas Penson Quincey 15 Augustus 1785 Manchester, Lancashire, Engeland |
Sterf | 8 Desember 1859 (op 74) Edinburgh, Skotland |
Noemenswaardige werke |
|
Handtekening | |
Thomas Penson de Quincey (/də
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Kind en leerling
[wysig | wysig bron]Thomas Penson Quincey is gebore te 86 Cross Street, Manchester, Lancashire.[5] Sy vader was 'n suksesvolle handelaar met 'n belangstelling in letterkunde. Kort na Thomas se geboorte het die gesin na The Farm verhuis en later na Greenheys, 'n groter plattelandse huis in Chorlton-on-Medlock, naby Manchester. In 1796, drie jaar na die dood van sy vader, Thomas Quincey, het sy moeder – die eertydse Elizabeth Penson – die naam de Quincey aangeneem.[6] Dieselfde jaar het sy moeder na Bath verhuis en hom by King Edward's School ingeskryf. Hy was 'n swak en sieklike kind. Sy jeug is in eensaamheid en afsondering deurgebring. Wanneer sy ouer broer William tuis was het hy verwoesting in die stil en besadigde omgewing gesaai. De Quincey se moeder het 'n sterk karakter gehad en was intelligent, maar het blykbaar meer ontsag as toegeneentheid by haar kinders aangewakker. Sy het hulle streng grootgemaak en de Quincey ná drie jaar uit die skool gehaal omdat sy bang was dat hy sy wortels sou vergeet en hoogmoedig sou word, en hom na 'n minderwaardige skool in Wingfield, Wiltshire gestuur.[2]:1–40[3]:2–43
Rondom hierdie tyd, in 1799, het de Quincey die eerste keer William Wordsworth se Lyrical Ballads en Coleridge se werke gelees.[6] In 1800, toe de Quincey maar 15 was, was hy gereed om in te skryf aan die Universiteit van Oxford. Sy hoof by Bath het droogweg opgemerk "That boy could harangue an Athenian mob better than you or I could address an English one."[7] Hy is na Manchester Grammar School gestuur sodat hy na drie jaar 'n beurs kon kry om aan Brasenose College, Oxford te studeer, maar na 19 maande het hy hiervan af gevlug.[3] :25, 46–62
Sy aanvanklike plan was om Wordsworth te bereik, wie se Lirical Ballads (1798) hom tydens aanvalle van depressie getroos het, en 'n diepe bewondering vir die digter in hom aangewakker het. Maar daarvoor was de Quincey te bedees, en hy het dus sy weg gebaan na Chester, waar sy moeder gewoon het, in die hoop om 'n suster te sien; hy is egter deur ouer lede van die familie gevang, maar danksy die pogings van sy oom, kolonel Penson, het hy die belofte ontvang dat hy 'n "gienie" (ekwivalent aan £101 in 2023) per week sou ontvang, sodat hy sy projek van 'n staptog deur Wallis kon verwesenlik.[2] Terwyl hy gereis het deur Wallis en Snowdon, het hy herberge vermy om die bietjie geld wat hy gehad het te spaar. In pleks hiervan het hy eerder saam met "cottagers" gebly of in 'n tent geslaap wat hy self gemaak het. Hy het homself onderhou deur swartbessies en roosbottels te eet, maar selde genoeg behoorlike kos ingekry.[8] De Quincey het van Julie tot November 1802 gereis. Hy het gou sy "gienie" verloor omdat hy nie sy familie op hoogte gehou het van waar hy hom bevind nie, en het gesukkel om homself te onderhou. Nietemin, blykbaar uit vrees vir agtervolging, het hy geld geleen en na Londen gereis, waar hy meer probeer het om nog geld te leen. Nadat hy misluk het, het hy honger gely, eerder as om na sy familie terug te keer.[2]:57–87
De Quincey, wat per toeval deur sy vriende ontdek is, is huis toe gebring en uiteindelik toegelaat om met 'n verminderde inkomste na Worcester College, Oxford, te gaan. Hier, word ons vertel, "is hy beskou as 'n vreemde wese wat met niemand geassosieer het nie." In 1804, toe hy in Oxford was, het hy af en toe opium gebruik.[6] Hy het sy studies voltooi, maar nie die mondelinge eksamen afgelê nie, wat beteken het dat hy nie kon gradueer nie; derhalwe het hy die universiteit verlaat sonder 'n graad.[2]:106–29 Hy het kennis gemaak met Coleridge en Wordsworth, nadat hy reeds vdie skrywer Charles Lamb in Londen opgesoek het. Sy kennismaking met Wordsworth het daartoe gelei dat hy hom in 1809 in Grasmere, in die Meerdistrik, gevestig het. Hy het vir tien jaar in Dove Cottage gewoon, vandag 'n gewilde toeriste-aantreklikheid, en vir 'n verdere vyf jaar by Foxghyll Country House, Ambleside.[9] De Quincey is in 1816 getroud en het kort daarna uit geldnood literêre werk begin doen.[2]:255–308
Hy en sy vrou Margaret het saam agt kinders gehad voor haar afsterwe in 1837. Een van hul seuns, Paul Frederick de Quincey (1828–1894), het na Nieu-Seeland geëmigreer.[10]
Loopbaan as joernalis
[wysig | wysig bron]In Julie 1818 het de Quincey redakteur geword van die Westmorland Gazette, 'n Tory koerant wat gepubliseer is in Kendal, nadat die koerant se eerste redakteur afgedank is.[11] De Quincey kon egter nie spertye haal nie, en in Junie 1819 het die eienaars gekla oor "hulle ongelukkigheid met die gebrek aan 'gereelde kommunikasie tussen die redakteur en die drukker'", en in November 1819 het de Quincey bedank. Sy politieke simpatie het na regs geneig. Hy was "'n voorstander van aristokratiese voorregte" en "het die term Jakobyn beskou as die grootste belediging wat iemand maar toegesnou kon word." Boonop het hy reaksionêre standpunte gehuldig oor die Peterloo-slagting en die Sepoy-rebellie, oor Katolieke emansipasie en oor die stemreg en vryhede van gewone burgers.[12]
De Quincey was ook 'n voorstander van Britse imperialisme en het geglo dat dit inherent geregverdig en geoorloof was ongeag die koste.[13] Ten spyte van sy ideologiese toewyding aan persoonlike identiteit en vryheid wat gespruit het uit sy verslawing aan opium,[14] en ten spyte van sy teenstand teen die idee van slawerny,[12] was de Quincey teen die afskaffing van slawerny in die Verenigde Koninkryk.[15] In sy artikels vir die The Edinburgh Post, oor die einste kwessie, in 1827 en 1828, het hy die teen-slawerny beweging daarvan beskuldig dat hulle "slegs daarop uit was om hulself te verheerlik". Hy was bekommerd dat die afskaffing van slawerny die Britse Ryk sou ondermyn en opstande soos die Haïtiaanse Revolusie teen koloniale heerskappy sou meebring.[16][17] In pleks hiervan het hy voorgestel dat daar 'n stapsgewyse hervorming moet plaasvind, op die slaafeienaars se eie inisiatief.[17]
Vertaler en essayis
[wysig | wysig bron]In 1821 is hy na Londen om 'n paar vertalings van Duitse skrywers af te gee, maar hy is oorreed om eers 'n verslag van sy ervarings van opiumverslawing te skryf en te publiseer, wat dieselfde jaar in die London Magazine verskyn het. Sy relaas het egter so 'n bohaai opgeskop dat dit belangstelling in Lamb se Essays of Elia, wat in dieselfde tydskrif verskyn het, heeltemal oorskadu het. Sy Confessions of an English Opium-Eater is binnekort in boekvorm gepubliseer.[18] De Quincey het toe kennis gemaak met 'n klompie nuwe literêre figure. Thomas Hood het die skrywer gevind "at home in a German ocean of literature, in a storm, flooding all the floor, the tables and the chairs—billows of books..."[3]:259f De Quincey was 'n beroemde gespreksgenoot. Richard Woodhouse het geskryf: "His conversation appeared like the elaboration of a mine of results..."[2]:280
Van hierdie punt af het de Quincey 'n lewe gemaak deur bydraes te skryf vir verskeie tydskrifte. Kort hierna het hy Londen en die Meredistrik verruil vir Edinburgh,[19] die naburige dorpie Polton, en Glasgow. Hy het die res van sy lewe in Skotland deurgebring.[2]:309–33 In die 1830's is hy gelys as woonagtig te 1 Forres Street, 'n groot huis aan die rand van die Moray-landgoed in Edinburgh.[20]
Blackwood's Edinburgh Magazine en sy mededinger, Tait's Magazine, het talle bydraes ontvang. Suspiria de Profundis (1845) het in Blackwood's verskyn, so ook The English Mail-Coach (1849). Joan of Arc (1847) is gepubliseer in Tait's. Tussen 1835 en 1849 het Tait's 'n reeks gepubliseer van de Quincey se herinneringe aan Wordsworth, Coleridge, Robert Southey en ander figure onder die "Lake Poets", 'n reeks wat in geheel een van sy mees belangrike werke uitmaak.[21]
Finansiële druk
[wysig | wysig bron]Saam met sy opiumverslawing, was skuld een van die grootste kopsere van de Quincey se volwasse lewe.[3]:319–39 De Quincey het op 21-jarige ouderdom sy vader se erflating ontvang. Hy het £2 000 (gelykstaande aan £204, 870 in 2023) uit sy oorlede vader se boedel ontvang. Hy het op 'n onverstandige en te vrygewige wyse omgegaan met sy fondse, en lenings gemaak wat nie terugbetaal kon word nie of wat hy nie wou terugbetaal nie, insluitend 'n £300-lening aan Coleridge in 1807. Nadat hy Oxford sonder 'n graad verlaat het, het hy 'n poging aangewend om in die regte te studeer, maar hy was teësinnig om weer met erns te studeer en was onsuksesvol; hy het geen vaste inkomste gehad nie en het groot bedrae aan boeke bestee (hy was 'n lewenslange versamelaar). Teen die 1820's was hy voortdurend in finansiële probleme. Meer as een keer in sy latere jare is de Quincey gedwing om beskerming teen inhegtenisname te soek in die "skuldenaaar-skuilplek" Holyrood in Edinburgh.[2]:342f[3]:310f (Destyds was Holyrood Park 'n "skuilplek vir skuldenaars"; skuldenaars kon nie in hegtenis geneem word vir skuld binne die gebied nie.[22] Die skuldenaars wat daar skuiling gesoek het kon slegs op Sondae vryelik rondbeweeg, wanneer inhegtenisname weens skuld nie toegelaat is nie.) Tog het De Quincey se geldprobleme voortgeduur; hy het verder in die moeilikheid beland weens skuld wat hy binne die "skuilplek" aangegaan het.[2]:372
Sy finansiële verknorsing het eers later verbeter. Sy moeder se dood in 1846 het aan hom 'n inkomste van £200 per jaar besorg. Soos wat sy dogters grootgeword het, het het hulle sy begroting meer verantwoordelik bestuur as wat hy ooit self kon doen.[2]:429f
Gesondheidskwessies
[wysig | wysig bron]De Quincey het gely aan neuralgiese gesigspyn, "trigeminale neuralgie" – "aanvalle van deurdringende pyn in die gesig, van so 'n graad dat dit die slagoffer soms tot selfmoord dryf."[23] Volgens de Quincey het hy die eerste keer in 1804 opium gebruik het om sy neuralgie te verlig. Derhalwe, soos met baie verslaafdes die geval is, het hy sy opiumverslawing moontlik as "selfmedikasie" beskou vir sy werklike fisiese pyn, maar die verslawing behels ook 'n sielkundige komponent.[24]
Volgens sy eie getuienis het de Quincey die eerste keer in 1804 opium gebruik om sy neuralgie te verlig; hy het dit ook vir die plesierige uitwerking daarvan gebruik, maar nie meer as weekliks nie, tot 1812. In 1813 het hy in reaksie op ongesteldheid en sy smart oor die dood van Wordsworth se jong dogter Catherine die eerste keer met daaglikse gebruik begin. Gedurende 1813–1819 was sy daaglikse dosis baie hoog, wat die lyding meegebring het wat hy beskryf in die laaste gedeeltes van sy Confessions. Vir die res van sy lewe het sy opiumgebruik tussen uiterstes gewissel; hy het in 1843 "enorme dosisse" geneem, maar laat in 1848 het hy vir 61 dae geen opium gebruik nie. Daar bestaan baie teorieë rondom die uitwerking van opium op die literêre skeppingsdrang, en dit is veral opmerklik dat de Quincey se literêre uitset gedurende tye van lae opiumgebruik laag was.[25] Van 1842 tot 1859 het hy vir lang tye in 'n kothuis naby Midfield House, suid van Lasswade, deurgebring, en sy skryfwerk gedoen in die vreedsame atmosfeer van die platteland.[26]
Afsterwe
[wysig | wysig bron]Hy het gesterf in sy kamers in 42 Lothian Street in die suide van Edinburgh, en is begrawe in St Cuthbert's Church se kerkhof aan die westekant van Princes Street.[27] Sy grafsteen, in die suidwestelike gedeelte van die kerkhof op 'n muur wat na die weste front, is eenvoudig en vermeld niks oor sy werk nie. Sy woning in Lothian Street is in die 1970's gesloop om plek te maak vir die Universiteit van Edinburgh se studentesentrum.[28]
Versamelde werke
[wysig | wysig bron]Gedurende die laaste dekade van sy lewe het de Quincey gewerk aan 'n uitgawe van sy versamelde werke.[2]:469–82 Hy het die taak as onmoontlik afgemaak.[29] Ticknor and Fields, 'n Bostonse uitgewery, was die eerste om 'n versamelde werke voor te stel en de Quincey se goedkeuring en samewerking te versoek. Dit was eers toe de Quincey, 'n chroniese uitsteller, versuim het om die briewe van James Thomas Fields[2]:472 te beantwoord, dat die Amerikaanse uitgewer op sy eie voortgegaan het en die skrywer se werke herdruk het uit hul oorspronklike verskynings in tydskrifte. Twee-en-twintig volumes van De Quincey's Writings is van 1851 tot 1859 uitgegee.
Die bestaan van die Amerikaanse uitgawe het gelei tot 'n ooreenstemmende Britse uitgawe. De Quincey was vanaf die lente van 1850 'n gereelde bydraer tot 'n Edinburgh-tydskrif getiteld Hogg's Weekly Instructor, wie se uitgewer, James Hogg, onderneem het om Selections Grave and Gay from Writings Published and Unpublished by Thomas De Quincey te publiseer. De Quincey het sy werke vir die Hogg-uitgawe geredigeer en hersien; die tweede uitgawe van die Confessions van 1856 is voorberei vir insluiting in Selections Grave and Gay…. Die eerste volume van hierdie uitgawe het in Mei 1853 verskyn, en die veertiende en laaste in Januarie 1860, 'n maand na die skrywer se dood. Albei hierdie versamelings multi-volume versamelings, maar tog het geeneen voorgegee om volledig te wees nie. Die navorser en redakteur David Masson het 'n meer definitiewe versameling probeer uitbring: The Works of Thomas De Quincey het in veertien volumes verskyn in 1889 en 1890. Tog was de Quincey se werke so lywig en wydverspreid dat verdere versamelings gevolg het: twee volumes van The Uncollected Writings (1890), en twee volumes van Posthumous Works (1891–93). De Quincey se 1803-dagboek is in 1927 gepubliseer.[2]:525 'n Verdere volume, New Essays by De Quincey, het in 1966 verskyn.
Invloed
[wysig | wysig bron]Sy onmiddellike invloed het Edgar Allan Poe, Fitz Hugh Ludlow, Charles Baudelaire en Nikolai Gogol ingesluit, maar selfs groot 20ste-eeuse skrywers soos Jorge Luis Borges het hom bewonder en beweer dat hy deels deur sy werk beïnvloed is. Berlioz het ook sy Symphonie fantastique losweg gebaseer op Confessions of an English Opium-Eater, met die tema die interne stryd van die mens.
Dario Argento het De Quincey se Suspiria gebruik, veral "Levana and Our Ladies of Sorrow", as inspirasie vir sy "Three Mothers"-rolprenttrilogie, wat Suspiria, Inferno (1980) en The Mother of Tears insluit. Hierdie invloed is oorgedra na Luca Guadagnino se 2018-weergawe van die film.
De Quincey se meesterskap van Grieks was wyd bekend en gerespekteer in die 1800's. Treadwell Walden, Episkopale priester en voormalige rektor van St. Paul's Church, Boston, haal 'n brief uit de Quincey se Autobiographic Sketches aan ter ondersteuning van sy verhandeling van 1881 oor die foutiewe vertaling van die woord "metanoia" na "repent" (bekeer) in die meeste Engelse vertalings van die Bybel.[30]
Belangrikste publikasies
[wysig | wysig bron]- Confessions of an English Opium-Eater (1821)
- On the Knocking at the Gate in Macbeth (1823)
- Walladmor (1825)
- On Murder Considered as One of the Fine Arts (1827)
- Klosterheim, or the Masque (1832)
- Lake Reminiscences (1834–40)
- Revolt of the Tartars (1837)
- The Logic of Political Economy (1844)
- Suspiria de Profundis (1845)
- The English Mail-Coach (1849)
- Autobiographic Sketches (1853)
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ De Quincey. Dictionary.com. Collins English Dictionary – Complete & Unabridged 10th Edition. HarperCollins Publishers. http://dictionary.reference.com/browse/de_quincey (besoek: 29 Junie 2013).
- ↑ 2,00 2,01 2,02 2,03 2,04 2,05 2,06 2,07 2,08 2,09 2,10 2,11 2,12 2,13 Eaton, Horace Ainsworth, Thomas De Quincey: A Biography, New York, Drukpers van die Universiteit van Oxford, 1936; herdruk New York, Octagon Books, 1972;
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 3,5 Lindop, Grevel. The Opium-Eater: A Life of Thomas De Quincey. J. M. Dent & Sons, 1981.
- ↑ Morrison, Robert. "De Quincey's Wicked Book", OUP Blog. Drukpers van die Universiteit van Oxford, 2013.
- ↑ Die latere gebou op die perseel (aangrensend aan John Dalton Street) het 'n klipinskripsie wat na de Quincey verwys.
- ↑ 6,0 6,1 6,2 Morrison, Robert. "Thomas De Quincey: Chronology" TDQ Homepage. Kingston: Queen's University, 2013."Thomas de Quincey--Chronology". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Desember 2013. Besoek op 24 Desember 2013.
- ↑ Morrison, Robert. "Thomas De Quincey: Biography" TDQ Homepage. Kingston: Queen's University, 2013."Thomas de Quincey--Biography". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2007. Besoek op 12 Junie 2013.
- ↑ Beaumont, Matthew (1 Maart 2015). Nightwalking: A Nocturnal History of London (in Engels). Verso Books. ISBN 978-1-78168-797-0.
- ↑ "Nomination for the English Lake District Cultural Landscape: An Evolving Masterpiece" (PDF) (PDF). Lake District National Park Partnership. 20 Mei 2015. p. 39. Besoek op 23 Mei 2016.
- ↑ "Death of Colonel de Quincey". The New Zealand Herald. Vol. XXXI, no. 9486. 16 April 1894. p. 5. Besoek op 10 Desember 2013.
- ↑ Liukkonen, Petri. "Thomas De Quincey". Books and Writers (kirjasto.sci.fi). Finland: Kuusankoski Openbare Biblioteek. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2014.
- ↑ 12,0 12,1 James Purdon (6 Desember 2009). "The English Opium Eater by Robert Morrison". The Guardian. Besoek op 12 April 2023.
- ↑ Duncan Wu (8 Januarie 2010). "The English Opium-Eater, By Robert Morrison". The Independent. Besoek op 12 April 2023.
- ↑ Peter Kitson (2019). "Romantic Nationalism, Thomas De Quincey and the Public Debate about the First Opium War, 1839-42" (PDF). University of East Anglia. p. 14. Besoek op 12 April 2023.
De Quincey had a well-known horror of self-replication and the loss of personal identity and freedom, linked ineluctably with his enslavement to opium
- ↑ Michael Taylor (29 Maart 2023). "The limits of liberalism in the Kingdom of Cotton". The Guardian. Besoek op 12 April 2023.
- ↑ Cassidy Picken (2017). "Annihilated Property: Slavery and Reproduction after Abolition". European Romantic Review. 28 (5): 601–624. doi:10.1080/10509585.2017.1362345. ISSN 1050-9585. S2CID 148988278.
- ↑ 17,0 17,1 David Groves (Maart 1992). "Thomas De Quincey, the West Indies, and the Edinburgh Evening Post". Papers of the Bibliographical Society of America. 86 (1): 41–56. doi:10.1086/pbsa.86.1.24303043. JSTOR 24303043. S2CID 155630394. Besoek op 12 April 2023.
- ↑ Confessions is die eerste keer in 1821 in London Magazine gepubliseer. Die volgende jaar is dit in boekvorm gepubliseer. (Morrison, Robert. "Thomas De Quincey: Chronology." TDQ Homepage. Kingston: Queen's University, 2013. "Thomas de Quincey--Chronology". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Desember 2013. Besoek op 24 Desember 2013.)
- ↑ Bloy, Marjie. "Thomas de Quincey: A biography". Victorian Web.
- ↑ "Edinburgh Post Office annual directory, 1832-1833". National Library of Scotland. p. 153. Besoek op 25 Februarie 2018.
- ↑ Thomas De Quincey, Recollections of the Lakes and the Lake Poets, David Wright, red., New York, Penguin Books, 1970.
- ↑ "A Parliament for a People..." (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 4 September 2012. Besoek op 25 September 2011.
- ↑ Philip Sandblom, Creativity and Disease, Sewende Uitgawe, New York, Marion Boyars, 1992; bl. 49.
- ↑ Lyon, pp. 57–58.
- ↑ Alethea Hayter, Opium and the Romantic Imagination, hersiene uitgawe, Wellingborough, Northamptonshire, Crucible, 1988; pp. 229–231.
- ↑ Grant's Old and New Edinburgh, vol. 6, bl. 359
- ↑ Edinburgh and District: Ward Lock Guide 1935
- ↑ Campbell, Donald.Edinburgh: A Cultural and Literary History. Signal, 2003. 74.
- ↑ De Quincey, Thomas. Writings, 1799–1820, geredigeer deur Barry Symonds. Vol. 1 van The Works of Thomas De Quincey, red. Grevel Lindop. Londen: Pickering & Chatto, 2000. x.
- ↑ Walden, Treadwell (1896). The great meaning of metanoia: an underdeveloped chapter in the life and teaching of Christ. University of California Libraries. New York: Thomas Whittaker. pp. 32–36.
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- Abrams, M.H. (1971). Natural Supernaturalism: Tradition and Revolution in Romantic Literature. New York: Norton.
- Agnew, Lois Peters (2012). Thomas De Quincey: British Rhetoric's Romantic Turn. Carbondale: Drukpers van die Universiteit van Suid-Illinois.
- Barrell, John (1991). The Infection of Thomas De Quincey. New Haven: Drukpers van Yale-universiteit.
- Bate, Jonathan (1993). "The Literature of Power: Coleridge and De Quincey." In: Coleridge’s Visionary Languages. Bury St. Edmonds: Brewer, pp. 137–50.
- Baxter, Edmund (1990). De Quincey's Art of Autobiography. Edinburgh: UDrukpers van die Universiteit van Edinburgh.
- Berridge, Virginia and Griffith Edwards (1981). Opium and the People: Opiate Use in Nineteenth-century England. Londen: Allen Lane.
- Clej, Alina (1995). A Genealogy of the Modern Self: Thomas De Quincey and the Intoxication of Writing. Stanford: Drukpers van Stanford-universiteit.
- De Luca, V.A. (1980). Thomas De Quincey: The Prose of Vision. Toronto: Drukpers van die Universiteit van Toronto.
- Devlin, D.D. (1983). De Quincey, Wordsworth and the Art of Prose. Londen: Macmillan.
- Elwin, Malcolm (1935). De Quincey. London: Duckworth. "Great Lives" series
- Goldman, Albert (1965). The Mine and the Mint: Sources for the Writings of Thomas De Quincey. Carbondale: Drukpers van die Universiteit van Suid-Illinois.
- Le Gallienne, Richard (1898). "Introduction." In: The Opium Eater and Essays. Londen: Ward, Lock & Co., pp. vii–xxv.
- McDonagh, Josephine (1994). De Quincey's Disciplines. Oxford: Clarendon Press.
- Morrison, Robert (2010). The English Opium-Eater: A Biography of Thomas De Quincey. New York: Pegasus Books. ISBN 978-1-60598-132-1
- North, Julian (1997). De Quincey Reviewed: Thomas De Quincey’s Critical Reception, 1821-1994. Londen: Camden House.
- Oliphant, Margaret (1877). "The Opium-Eater," Blackwood's Magazine, Vol. 122, pp. 717–41.
- Roberts, Daniel S. (2000). Revisionary Gleam: De Quincey, Coleridge and the High Romantic Argument. Liverpool: Drukpers van die Universiteit van Liverpool.
- Russett, Margaret (1997). De Quincey’s Romanticism: Canonical Minority and the Forms of Transmission. Cambridge: Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
- Rzepka, Charles (1995). Sacramental Commodities: Gift, Text and the Sublime in De Quincey. Amherst: Drukpers van die Universiteit van Massachusetts.
- Saintsbury, George (1923). "De Quincey." In: The Collected Essays and Papers, Vol. 1. Londen: Dent, pp. 210–38.
- Snyder, Robert Lance, red. (1985). Thomas De Quincey: Bicentenary Studies. Norman: Drukpers van die Universiteit van Oklahoma.
- Stephen, Leslie (1869). "The Decay of Murder," The Cornhill Magazine, Vol. 20, pp. 722–33.
- Stirling, James Hutchison (1867). "De Quincey and Coleridge Upon Kant," Fortnightly Review, Vol. 8, pp. 377–97.
- Utz, Richard (2018). "The Cathedral as Time Machine: Art, Architecture, and Religion." In: The Idea of the Gothic Cathedral. Interdisciplinary Perspectives on the Meanings of the Medieval Edifice in the Modern Period, ed. Stephanie Glaser (Turnhout: Brepols, 2018). pp. 239–59. [on "The Glory of Motion" 1849]
- Wellek, René (1944). "De Quincey's Status in the History of Ideas," Philological Quarterly, Vol. 23, pp. 248–72.
- Wilson, Frances (2016). Guilty Thing: A Life of Thomas De Quincey. New York: Farrar, Straus and Giroux. ISBN 978-0-374-16730-1
- Woodhouse, Richard (1885). "Notes of Conversation with Thomas De Quincey." In: Confessions of an English Opium-Eater. Londen: Kegan Paul, pp. 191–233.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Thomas De Quincey. |
Wikiquote het aanhalings in verband met Thomas de Quincey |
Wikisource bevat oorspronklike werke deur of oor Thomas De Quincey |
- "Drugs and Words", Laura Marsh, The New Republic, 15 Februarie 2011.
- "The fascinating life of an English writer, essayist and 'opium eater'", Michael Dirda, Washington Post, 30 Desember 2010
- Argivale materiaal by
- Finding aid to De Quincey Family papers at Columbia University. Rare Book & Manuscript Library.
- Thomas De Quincey e-biblioteek DDL's van Confessions of an English Opium-Eater, On Murder Considered as One of the Fine Arts en The Literature of Knowledge and the Literature of Power
- Thomas de Quincey tuisblad, onderhou deur Dr. Robert Morrison
- Werke deur of oor Thomas de Quincey op die Internet Archive
- Werke deur Thomas de Quincey by Hathi Trust
- Werke deur Thomas De Quincey by Project Gutenberg