Gaan na inhoud

Tsutomu Yamaguchi

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Tsutomu Yamaguchi
Gebore16 Maart 1916
Sterf4 Januarie 2010 (op 93)
Nagasaki, Japan
KindersToshiko, Katsutoshi, Naoko

Tsutomu Yamaguchi (山口 彊) (16 Maart 1916 – 4 Januarie 2010) was 'n Japannees wat die atoombomontploffings op Hirosjima en Nagasaki gedurende die Tweede Wêreldoorlog oorleef het[1] en hy is die enigste persoon wat amptelik deur die Japannese regering erkenning ontvang het as oorlewende van albei ontploffings.[2]

As inwoner van Nagasaki was Yamaguchi in Hirosjima op 'n sakebesoek namens sy werkgewer Mitsubishi Swaar Industrieë toe die stad om 8:15 op 6 Augustus 1945 gebombardeer is. Die volgende dag het hy na Nagasaki teruggekeer en, ten spyte van sy wonde, op 9 Augustus (die dag waarop Nagasaki gebombardeer is) teruggekeer werk toe. In 1957 is hy as 'n hibakusha ('n persoon wat deur die ontploffing geaffekteer is) van Nagasaki erken maar dit was eers op 24 Maart 2009 dat die Japannese regering sy teenwoordigheid in Hirosjima drie dae tevore ook erken het. Hy is op 4 Januarie 2010 aan maagkanker oorlede.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Yamaguchi is op 16 Maart 1916 gebore. Hy het by Mitsubishi Swaar Industrieë aangesluit in die 1930's en was 'n tekenaar wat olietenkers ontwerp het.[3]

Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]

Yamagughi "het nooit gedink dat Japan 'n oorlog sou begin" nie. Hy het voortgegaan met sy werk by Mitsubishi maar binnekort het Japannese industrieë begin swaarkry as gevolg van hulpbronne wat skaars geraak het en tenkers wat gesink is.[3] Soos wat die oorlog voortgeduur het, het hy al meer moedeloos begin raak dat hy naderhand aan gesinsmoord begin dink het deur middel van 'n oordosis slaappille, sou dit gebeur dat Japan die oorlog verloor.[3]

Hirosjima bombardering

[wysig | wysig bron]

Yamaguchi het in Nagasaki gewoon en gewerk maar in die somer van 1945 is hy vir drie maande na Hirosjima vir 'n sakebesoek.[3] Op 6 Augustus het hy homself voorberei om die stad saam met twee van sy kollegas, Akira Iwanaga en Kuniyoshi Sato, te verlaat. Oppad na die treinstasie het hy agtergekom dat hy sy hanko ('n soort seël) vergeet het en moes hy terugkeer om dit te gaan haal.[4][5] Om 8:15 was hy op pad na die dokke toe die Amerikaanse Boeing B-29 Superfortress Enola Gay die Little Boy-atoombom naby die middestad, slegs 3 km weg, laat val het.[3][6] Yamaguchi onthou dat hy die vliegtuig en twee klein valskerms gesien het voordat daar 'n "groot flits in die lug was en alles is omgeblaas".[5] Die ontploffing het sy oordromme laat bars, hy was tydelik verblind en hy het talle ernstige brandwonde opgedoen op die boonste helfte van sy liggaam. Nadat hy in 'n mate herstel het, het hy na 'n nabygeleë skuiling gekruip en nadat hy uitgerus het, het hy sy kollegas gaan soek.[5] Hulle het ook oorleef en hulle het die nag saam deurgebring in 'n bomskuiling voordat hulle die volgende dag na Nagasaki teruggekeer het.[4][5] In Nagasaki het hy behandeling vir sy wonde gekry en, ten spyte daarvan dat hy erg verbind is, het hy op 9 Augustus aangemeld vir werk.[3]

Nagasaki bombardering

[wysig | wysig bron]

Om 11:00 op 9 Augustus was Yamaguchi besig om die Hirosjima-ontploffing aan sy opsigter te verduidelik toe die Bockscar die Fat Man-atoombom op Nagasaki laat val het. Sy werkplek was hier ook ongeveer 3 km van die nulpunt gewees maar hierdie keer is hy nie deur die ontploffing beseer nie.[6] Hy was egter nie in staat om behandeling vir sy beskadigde verbande te kry nie en het vir meer as 'n week 'n hoë koors gehad.[3]

Latere lewe

[wysig | wysig bron]

Na die oorlog het Yamaguchi as vertaler vir die besettende Amerikaanse magte gewerk. Daarna het hy 'n skoolhoof geword voordat hy weer by Mitsubishi aangesluit het.[3] Toe die Japannese regering atoombomoorlewendes as hibakusha erken het in 1957, het Yamaguchi se identifikasie aangedui dat hy slegs in Nagasaki teenwoordig was. Yamaguchi was gelukkig hiermee en was tevrede dat hy relatief gesond was en sy verlede agter hom kon plaas.[6]

Soos hy ouer geword het, het sy opinies oor die gebruik van kernwapens verander. In die tagtigerjare het hy 'n boek oor sy wedervaringe geskryf (Ikasareteiru inochi)[7] en is hy genooi om deel te neem aan 'n dokumentêr in 2006 oor 165 dubbel-atoombomoorlewendes (bekend as nijū hibakusha in Japan) getiteld Twee Keer Oorleef: Die Dubbelgebombardeerdes van Hiroshima en Nagasaki ((en) Twice Survived: The Doubly Atomic Bombed of Hiroshima and Nagasaki) wat by die Verenigde Nasies vertoon is.[8] Aan die einde van die vertoning het hy gepleit vir die opheffing van kernwapens.[6]

Yamaguchi het 'n uitgesproke voorstander van kernontmanteling geword.[9] In 'n onderhoud het hy gesê: "Die rede waarom ek atoombomme haat is oor wat dit doen aan die waardigheid van mense."[9] Deur middel van sy dogter gedurende 'n telefoniese onderhoud het hy gesê: "Ek kan nie verstaan waarom die wêreld nie die sieleangs van kernwapens kan verstaan nie. Hoe kan hulle aanhou om hierdie wapens te vervaardig?"[6]

Op 22 Desember 2009 het die Kanadese regisseur James Cameron en skrywer Charles Pellegrino Yamaguchi ontmoet terwyl hy in 'n hospitaal in Nagasaki was waar hulle die idee van 'n rolprent oor die kernwapens bespreek het.[10] "Ek dink dit is Cameron en Pellegrino se lotsbestemming om 'n rolprent oor kernwapens te maak," het Yamaguchi gesê.[10]

Erkenning deur die regering

[wysig | wysig bron]

Aanvanklik het Yamaguchi geen behoefte gevoel om die aandag te vestig op sy dubbeloorlewende-status nie.[6] Soos wat hy ouer geword het, het hy egter gevoel dat sy lot so beskik was en in Januarie 2009 het hy aansoek gedoen vir dubbele erkenning.[6] In Maart 2009 is dit deur die Japannese regering aanvaar, wat beteken het dat Yamaguchi die enigste amptelik-erkende oorlewende van albei ontploffings was.[3][6] Na aanleiding van die erkenning het Yamaguchi gesê: "My dubbele blootstelling aan bestraling is nou 'n amptelike regeringsdokument. Dit kan vir die jonger generasie die afskuwelike geskiedenis van die atoombomme vertel selfs nadat ek oorlede is."[11]

Gesondheid

[wysig | wysig bron]

Yamaguchi het die gehoor in een van sy ore verloor as gevolg van die Hirosjima-ontploffing. Hy het ook tydelik bles geword en sy dogter onthou dat hy gedurig verbind was tot sy 12-jaar oud was.[6][Nota 1] Ten spyte hiervan het Yamaguchi 'n gesonde lewe gely.[6] Hy het egter later in sy lewe aan bestralingsverwante siektes begin ly waaronder katarakte en akute leukemie.[12]

Sy vrou het ook aan bestralingsvergiftiging gely as gevolg van swart reën na die Nagasaki-ontploffing en is in 2008 (op 88) oorlede aan nier- en lewerkanker na 'n leeftyd van kwale. Al drie sy kinders ly aan gesondheidsprobleme wat volgens hulle van hulle ouers se blootstelling geërf is.[6]

Afsterwe

[wysig | wysig bron]

In 2009 het Yamaguchi gehoor dat hy maagkanker het.[6] Hy is op 4 Januarie 2010 op 93-jarige ouderdom in Nagasaki oorlede.[4][13][14][15]

Notas

[wysig | wysig bron]

1 ^ Toshiko Yamaguchi was 60 in Maart 2009 en sou in 1960 of 1961 12 gewees het.[6]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (ja) "広島・長崎で2度被爆、約160人 広島祈念館が調査 160 Double A-bomb Survivors Found, Hiroshima National Peace Memorial Hall for the Atomic Bomb Victims says". Asahi Shimbun (in Japannees). 1 Augustus 2005. 広島、長崎への原爆投下後、両市で2度被爆した可能性のある人が少なくとも約160人にのぼることが、国立広島原爆死没者追悼平和祈念館(広島市)の調査で明らかになった。
  2. "Double atomic bomb survivor dies in Japan" (in Engels). Tokyo: MSNBC. Associated Press. 6 Januarie 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2012. Besoek op 25 Januarie 2011. Tsutomu Yamaguchi, the only person officially recognized as a survivor of both the Hiroshima and Nagasaki atomic bombings at the end of World War II, has died at age 93.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 3,5 3,6 3,7 3,8 "Tsutomu Yamaguchi". The Daily Telegraph (in Engels). 6 Januarie 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 7 Januarie 2010.
  4. 4,0 4,1 4,2 Justin McCurry (25 Maart 2009). "A little deaf in one ear – meet the Japanese man who survived Hiroshima and Nagasaki". The Guardian (in Engels). London. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Julie 2013. Besoek op 11 Januarie 2010.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 (en) Lloyd Parry, Richard (25 Maart 2009). "The Luckiest or Unluckiest Man in the World? Tsutomu Yamaguchi". The Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2009. Besoek op 11 Januarie 2010.
  6. 6,00 6,01 6,02 6,03 6,04 6,05 6,06 6,07 6,08 6,09 6,10 6,11 6,12 McNeill, David (26 Maart 2009). "How I survived Hiroshima – and then Nagasaki". The Independent (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 26 Maart 2009.
  7. www.worldcat.org/title/ikasareteiru-inochi
  8. "Twice Bombed, Twice Survived: Film Explores Untold Stories from Hiroshima & Nagasaki" (in Engels). Columbia University. 2 Augustus 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2019. Besoek op 31 Maart 2009.
  9. 9,0 9,1 (en) Robbins, M.W., red. (2009). "Japanese Engineer Survived Atomic Strike on Hiroshima and Nagasaki". Military History Magazine. Wieder History Group. 26 (5): 8. {{cite journal}}: Onbekende parameter |month= geïgnoreer (hulp)
  10. 10,0 10,1 "James Cameron meets Japanese atomic bomb survivor to discuss film" (in Engels). Splash News. 5 Januarie 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Maart 2010. Besoek op 6 Januarie 2010.
  11. "Japanese man is a double A-bomb survivor". MSNBC (in Engels). 25 Maart 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2012. Besoek op 11 Januarie 2010.
  12. McCurry, Justin (6 Januarie 2010). "Hiroshima and Nagasaki survivor dies aged 93". The Guardian (in Engels). London. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Junie 2013. Besoek op 8 Oktober 2010.
  13. Richard Lloyd Parry (7 Januarie 2010). "Tsutomu Yamaguchi, victim of Japan's two atomic bombs, dies aged 93". The Times (in Engels). London. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Julie 2011.
  14. "Japan survivor of both atomic bombs dies, aged 93". BBC News (in Engels). 6 Januarie 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 7 Januarie 2010.
  15. (en) "Double Atomic Bomb Survivor Dies in Japan". The New York Times. 6 Januarie 2010. [dooie skakel]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.