Gaan na inhoud

Achernar

Koördinate: Sky map 01h 37m 42.8s, −57° 14′ 12″
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Achernar
Achernar se ligging (in die rooi sirkel).
Achernar se ligging (in die rooi sirkel).
Sterrebeeld Eridanus
Spektraaltipe B6 Vep[1]
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming 01h 37m 42.84548s[2]
Deklinasie -57° 14′ 12.3101″[2]
Skynmagnitude (m) 0,40-0,46[3]
Absolute magnitude (M) -1,46[4]
B-V-kleurindeks  -0,16[5]
U-B-kleurindeks  -0,66[5]
Besonderhede
Massa (M) 6,7[6]
Radius (R) 7,3 × 11,4[7]
Ligsterkte (L) 3 150[7]
Ouderdom (jaar) 37,3 miljoen[8]
Temperatuur (K) ~15 000[9]
Rotasiespoed (km/s) 250[9]
Eienskappe
Veranderlikheid Be-ster[3]
Ander name
Alpha Eridani, 70 Eridani, CD -57°334, FK5 54, HD 10144, HIP 7588, HR 472, SAO 232481, 2 G. Eri
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Achernar is die primêre (of A-)komponent[10] van die dubbelster[6] bekend as Alpha Eridani (of α Eri), en is die helderste ligpunt in die sterrebeeld Eridanus. Dit is die 10de helderste ster aan die naghemel. Die twee komponente is Alpha Eridani A (die primêre ster) en B (die sekondêre ster, soms informeel bekend as Achernar B). Hulle is sowat 139 ligjare van die Son af.[2]

Van die 10 helderste sterre in die lug is Alpha Eridani die warmste en blouste omdat dit ’n B-tipe ster is. Achernar het ’n ongewoon vinnige rotasiespoed, wat veroorsaak dat dit ’n ovaal vorm het. Die sekondêre ster is kleiner: Dit is ’n A-tipe ster. Dit wentel op ’n afstand van sowat 12 AE om Achernar.

Die dubbelster se Bayer-naam is "Alpha Eridani". Die twee komponente word A en B genoem. Die stelsel se tradisionele naam was "Achernar", van die Arabiese آخر النهر ākhir an-nahr, "Die Einde van die Rivier". Die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) het dié naam op 30 Junie 2016 vir Alpha Eridani A goedgekeur.[10][11][12]

Eienskappe

[wysig | wysig bron]
Achernar se uiters hoë rotasiespoed gee die ster ’n ovaal vorm.

Achernar is in die Suidelike Halfrond in November op sy sigbaarste; dit is ’n sirkumpolêre ster en kan byvoorbeeld in Kaapstad en Port Elizabeth skaars gesien word omdat dit net sowat 1 graad bo die horison is. Verder suid kan dit egter dwarsdeur die nag goed gesien word.

Achernar is ’n helder, blou ster met ’n massa van sowat sewe keer dié van die Son.[6] Dit is ’n hoofreeksster met ’n klassifikasie van B6 Vep, maar sy ligsterkte is sowat 3 150 keer die Son s'n. Die sekondêre ster is van spektraaltipe A0V-A3V, wat dui op ’n massa van sowat twee sonmassas. Die skeiding tussen die twee sterre is sowat 12,3 AE en hul wentelperiode is minstens 14-15 jaar.[6]

Achernar draai so vinnig dat sy deursnee by sy ewenaar sowat 56% groter is as by sy pole. Die poolas lê teen ’n hoek van sowat 65° met die gesigslyn van die Aarde af.[7]

Vanweë die ovaal vorm verskil die ster se temperature aansienlik – by die pole kan dit meer as 20 000 K wees, en by die ewenaar minder as 10 000 K. Die hoë temperatuur by die pole bring ’n sterk poolwind mee wat materie uit die ster waai, en dit veroorsaak ’n hulsel van warm gas en plasma by die pole. Die hele ster word omring deur ’n uitgebreide hulsel, wat waargeneem kan word vanweë sy uitermate hoë infrarooistraling,[9] of sy polarisasie.[13] Die teenwoordigheid van ’n sirkumstellêre skyf van geïoniseerde gas is ’n algemene kenmerk by Be-sterre soos dié.[13] Die skyf is nie stabiel nie en val af en toe terug in die ster. Die maksimum polarisasie vir Achernar se skyf is in September 2014 waargeneem, en neem nou af.[14]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Nazé, Y. (November 2009), "Hot stars observed by XMM-Newton. I. The catalog and the properties of OB stars", Astronomy and Astrophysics 506 (2): 1055–1064, doi:10.1051/0004-6361/200912659, Bibcode2009A&A...506.1055N 
  2. 2,0 2,1 2,2 van Leeuwen, F. (November 2007), "Validation of the new Hipparcos reduction", Astronomy and Astrophysics 474 (2): 653–664, doi:10.1051/0004-6361:20078357, Bibcode2007A&A...474..653V 
  3. 3,0 3,1 Samus, N. N.; Durlevich, O. V.; et al. (2009). "VizieR Online Data Catalog: General Catalogue of Variable Stars (Samus+ 2007–2013)". VizieR On-line Data Catalog: B/gcvs. Originally Published In: 2009yCat....102025S. 1: 02025. Bibcode:2009yCat....102025S.
  4. Moujtahid, A.; Zorec, J. (2000). "The Visual Absolute Magnitude of the Central Objects in Be Stars". The be Phenomenon in Early-Type Stars. 214: 55. Bibcode:2000ASPC..214...55M.
  5. 5,0 5,1 Ducati, J. R. (2002). "VizieR Online Data Catalog: Catalogue of Stellar Photometry in Johnson's 11-color system". CDS/ADC Collection of Electronic Catalogues. 2237: 0. Bibcode:2002yCat.2237....0D.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 Kervella, P.; Domiciano de Souza, A.; Bendjoya, Ph. (Junie 2008), "The close-in companion of the fast rotating Be star Achernar", Astronomy and Astrophysics 484 (1): L13–L16, doi:10.1051/0004-6361:200809765, Bibcode2008A&A...484L..13K 
  7. 7,0 7,1 7,2 Carciofi, A. C. et al. (Maart 2008), "On the Determination of the Rotational Oblateness of Achernar", The Astrophysical Journal 676 (1): L41–L44, doi:10.1086/586895, Bibcode2008ApJ...676L..41C 
  8. Tetzlaff, N.; Neuhäuser, R.; Hohle, M. M. (2011). "A catalogue of young runaway Hipparcos stars within 3 kpc from the Sun". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 410 (1): 190. arXiv:1007.4883. Bibcode:2011MNRAS.410..190T. doi:10.1111/j.1365-2966.2010.17434.x.
  9. 9,0 9,1 9,2 Kervella, P. et al. (Januarie 2009), "The environment of the fast rotating star Achernar. II. Thermal infrared interferometry with VLTI/MIDI", Astronomy and Astrophysics 493 (3): L53–L56, doi:10.1051/0004-6361:200810980, Bibcode2009A&A...493L..53K 
  10. 10,0 10,1 "Naming Stars" (in Engels). IAU.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 April 2020. Besoek op 16 Desember 2017.
  11. "IAU Working Group on Star Names (WGSN)" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2020. Besoek op 22 Mei 2016.
  12. "WG Triennial Report (2015-2018) - Star Names" (PDF). p. 5. Besoek op 14 Julie 2018.
  13. 13,0 13,1 Carciofi, A. C. et al. (Desember 2007), "Achernar: Rapid Polarization Variability as Evidence of Photospheric and Circumstellar Activity", The Astrophysical Journal 671 (1): L49–L52, doi:10.1086/524772, Bibcode2007ApJ...671L..49C 
  14. Cotton, D. V.; et al. (Januarie 2016). "The linear polarization of Southern bright stars measured at the parts-per-million level". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 455 (2): 1607–1628. arXiv:1509.07221. Bibcode:2016MNRAS.455.1607C. doi:10.1093/mnras/stv2185.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]