Gaan na inhoud

Saladin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Saladin
Sultan van Egipte en Sirië

Volle naam Ṣalāḥ ad-Dīn Yūsuf ibn Ayyūbi
Geloof Islam
Bewind 1174–1193
Kroning 1174, Kaïro
Gebore ongeveer 1137–1138
Oorlede 4 Maart 1193 NC (op 55–56)

Saladin (Arabies: صلاح الدين يوسف بن أيّوب, Ṣalāḥ ad-Dīn Yūsuf ibn Ayyūbi)[1] wat in 1138 in Tikrit gebore is, en op 3 of 4 Maart 1193[2] in Damaskus gesterf het, was 'n Koerdiese Moslem wat die Ajjubide-dinastie van Egipte en Sirië gestig het.

As "Sultan Saladin" word hy 'n mite, die grootste van alle helde in die moslemse wêreld en voorbeeldige islamitiese heerser. Hy verower Jerusalem in die jaar 1187 en word gereeld as die suksesvolle teenstander van die Kruisvaarders verklaar en geromantiseer.

Die Irakese provinsie Salah ad-Din is na hom benoem.

Inleiding

[wysig | wysig bron]

Op 14 Julie 1099 het die oorblyfsels van die Kruisvaarderleër na byna vier jaar van bloedige gevegte die stad Jerusalem ingeneem. Die Mohammedaanse sekelmaanvaandel kon neergepluk en die vaandel van die Kruis in sy plek gehys word. Die wraaklustige Christene het 'n bloedige slagting aangerig, maar hulle het hul doel bereik: die Heilige Stad is uit die hande van die ongelowiges geruk.

Maar negentig jaar later, in Oktober 1187, moes die Christene Jerusalem weer afgee aan die Mohammedane. Nooit weer sou die Heilige Stad in die besit van Christene wees nie, totdat dit uiteindelik in Desember 1917 deur Britse troepe onder genl. Allenby ingeneem is na 'n geslaagde veldtog teen die Turke. Hoe het dit gebeur dat hierdie stad, waarvoor die Kruisvaarders so duur betaal het, in minder as 'n eeu vir byna 800 jaar lank vir die Christene verlore gegaan het?

Daar is baie redes, soos die tekort aan manne om die stad te verdedig, verraad, onderlinge twiste en onbevoegde leieirs, maar hierdie gebeurtenis moet veral toegskryf word aan die genialiteit van slegs een man - Saladin. Saladin was nie 'n Arabier of 'n Turk nie. Hy was lid van een vide geharde Koerdiese stamme wat in daardie tyd Armenië bewoon het.

Sy groot aanslag op die Christene was geslaag nie slegs omdat hy 'n briljante militaris was nie, maar ook omdat hy daarin geslaag het om die deel van die Mohammedaanse wêreld wat die klein Christelike voorposte in die Midde-Ooste omring het, tydelik in 'n magtige verbond te verenig. Die Kruistogte was nie bloot oorloë tussen aggressiewe Christene en fanatiese Mohammedane nie, want dit het selde gebeur dat albei kante onder een leier verenig was.

Die Christene uit Wes-Europa en die uit die Ooste (Konstantinopel) omtrent die ware oogmerk van die Kruistogte. Aan Mohammedaanse kant was daar net soveel bitterheid en tweedrag: daar was selfs twee mense wat albei gesê het dat hulle die kalief (die opvolger van Mohammed) was - die een in Bagdag en die ander in Egipte.

Nie een van die twee kaliefs het egter veel gesag gehad nie, en die ware heersers was die plaaslike emirs, waarvan party heeltemal bereid was om die Christene as bondgenote te gebruik om hulle hul eie mededingers te help verslaan. Maar daar was ook baie Mohammedane wat gevoel het dat dit 'n skande was dat Mohammedaanse gebiede, en veral Jerusalem, wat vir sowel die Mohammedane as die Christene heilig was, in die hande van die Christene was.

Hulle wou 'n Heilige Oorlog verklaar om die Mohammedaanse wêreld te verenig en die Christene te verdryf. Saladin het as weinig meer as 'n militêre avonturier begin, en voordat hy enigiets kon bereik, moes hy mag onder sy mede-Mohammedane kry. Ons hoor die eerste keer van in die leër van Noer-ed-din, die heerser van Mosul, 'n dorp in Noord-Irak. Noer-ed-din wou graag beheer verkry oor Egipte, wat deur die onortokose kalief geregeer is. Binne tien jaar het Saladin hom gehelp om dit te doen. Dit het die Christene in 'n baie gevaarlike posisie geplaas, want nou het dieselfde mag hulle van twee kante bedreig.

Biografie

[wysig | wysig bron]
Dirham-kopermuntstuk met die beeld van Saladin (omstreeks 1190)

Saladin stam uit 'n koerdiese familie. Sy vader, Najm ad-Din Ayyub, is in Dwin in die huidige Armenië gebore, en het saam met sy broer Schirkuh in Zengi en sy seun Nur ad-Din se leër diensgedoen. Die vader het Nur ad-Din vir 'n offisiersposisie vir sy seun gevra en dit ook ontvang. Die heerser van Damaskus, Nur ad-Din, beveel in 1163 vir Saladin om sy oom Schirkuh op 'n tog na Egipte te begelei.

In 1169 bekom Saladin, na die verowering van Egipte en die dood van sy oom, die opperbevel oor Egipte, vir eers nog as visier van die laaste kalief, al-Adid van die Fatimid-dinastie. Na sy dood heers Saladin alleen as Sultan van Egipte. Saladin herstel die Soennitiese Ortodoksie in Egipte, om dit weer met Nur ad-Din omver te werp in 1174. Na Nur ad-Din se dood in dieselfde jaar, ontneem Saladin die heerskappy oor Sirië van dié se minderjarige erfgenaam. Saladin trou met die weduwee van Nur ad-Din en neem so sy ryk oor.

Met die bondgenootskap van Aleppo in die jaar 1183 en Mosul in 1186 het Saladin uiteindelik die mag om die koninkryk van Jerusalem aan te val en sy grootste doelwit te bereik, die herowering van hierdie hoofstad. Na die beslissende sege oor die kruisvaarders onder Guido von Lusignan in die Slag by Hattin op 4 Julie 1187, verower hy op 2 Oktober 1187 vir Jerusalem en beëindig so die 88 jaar lange christenheerskappy oor hierdie stad.

As oorweging vir die kapitulasie van Jerusalem het hy die christenbevolking, dié wat oor die vermoë beskik het, teen 'n geldprys hul vryheid verskaf. Van die sowat 20 000 mense wat nie oor hierdie losgeld beskik het nie, word 7 000 teen 'n enkelbedrag van 30 000 Dinare vrygekoop. Die mense wat hulself nie vry kon koop nie, is in kettings geboei en as slawe verkoop.

Toe al-Adil, die broer van Saladin, die ellende van die nie-vrygekooptes sien, vra hy die seëvierende bevelvoerder om hom 1 000 slawe te skenk. Saladin het daaraan voldoen en sy broer het die geskenkte slawe vrygestel. Saladin self laat ook al die bejaarde mans en vroue vry en bewaar hulle daardeur van die lot van slawerny.

Tot in 1189 verower Saladin groot dele van die kruisvaarderstate Jerusalem, die graafskap Tripolis en die Prinsdom Antiogia. Slegs die derde kruistog kon hom verhinder om die kuisvaarderstate volledig te vernietig. Tydens hierdie kruistog in 1191 verloor hy die belangrike hawestad Akkon en ly hy 'n nederlaag teen Richard I by die slag van Arsoef, en in 1192 by die slag van Jaffa. In 1192 kom daar 'n wapenstilstand tussen hom en sy teenstander. Dit het vir drie jaar en agt maande geduur.

Saladin sterf op 3 Maart 1193 op die ouderdom van 55 jaar in Damaskus,[3] en sy ryk begin dadelik te verval. In 'n eeu van wreedheid en ongeregtigheid was hy 'n toonbeeld van groot menslikheid en ridderlikheid. Hoewel gevrees, is hy net soveel deur die Christene as deur sy eie volgelinge bewonder. In die hele geskiedenis van oorlogvoering is daar inderdaad min mense wat nader aan die ideaal van die Christen-ridder staan as hierdie groot Mohammedaan.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Luidens Abu l-Fida is hy (volgens Islamitiese kalender) in die jaar 532 gebore, wat die Romeinse kalenderjare 1137/38 behels.
  2. Bronne oor sy sterftedatum variëer
  3. Abu l-Fida dateer sy begrafnis na 15 Desember 1193 (10. Muharram 589).

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Hierdie artikel is deels vanaf die Duitse wikipedia vertaal.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]